IMF frons oor SA se gebrek aan haas
Een van die liggaam se aanbevelings is dat die strategiese benadering tot staatsondernemings dringend heroorweeg moet word.
Nellie Brand-Jonker
Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) sê Suid-Afrika moet in die komende vier jaar 'n meer drastiese pad volg om sy geldsake reg te ruk deur uitgawes te verminder.
Die IMF het in 'n verklaring voorlopige bevindinge en aanbevelinge uiteengesit ná sy tweede besoek vanjaar aan Suid-Afrika. Die IMF besoek lidlande twee keer per jaar ingevolge sy akte van ooreenkoms om 'n oog oor hul beleid en ekonomieë te hou.
Een van die aanbevelinge is dat die strategiese benadering tot staatsondernemings dringend heroorweeg moet word ten opsigte van herstrukturering, likwidering of disinvestering om kommersiële lewensvatbaarheid te verseker.
Eskom, “wat 'n onmiddellike bedreiging vir die fiskus inhou”, moet dringend op die aankoop van steenkool bespaar en lone in ooreenstemming met produktiwiteit bring.
Hoewel die IMF erken die regering werk aan beleid om groei op te skuif, skuld te stabiliseer en staatsondernemings se bedrywighede en finansies te verbeter, word gesê “ 'n meer besliste benadering tot hervorming is dringend nodig.
“Die hindernisse vir groei moet verwyder word en kwesbaarhede moet getakel word,” lui die verklaring.
“Die bespoediging van die implementering van strukturele hervorming is die enigste manier om investering van die private sektor volhoubaar te bevorder.”
Min tyd
Die IMF sê die begroting wat in Februarie voorgelê word, moet maatstawwe stel om die staat en staatsondernemings se geldelike verknorsing te takel en staatskuld te stabiliseer.
Die IMF beveel ook aan dat die nasionale tesourie se nuwe ekonomiese plan, getiteld “Ekonomiese transformasie, inklusiewe groei en mededingendheid” wat twee maande gelede bekend gestel is, “betyds geïmplementeer” word.
Die IMF se vooruitskatting van die skuldlas van die staat stem ooreen met die mediumtermynbegrotingsraamwerk van Oktober dat dit ná 2022 70% van die bruto binnelandse produk (BBP) gaan bereik en “nie gaan stabiliseer nie.
Besnoei uitgawes
Die IMF sê fiskale konsolidasie van minstens 3% van die BBP is oor die volgende vier jaar nodig is.
Fiskale konsolidasie verwys na die beleid wat nodig is om die begrotingstekort te verminder en skuld te verlaag.
Daar moet gefokus word op die inperking van uitgawes en die verbetering van belastingadministrasie. Dié aanbeveling is gegrond op die veronderstelling dat die strukturele hervormings vir verbeterde groei aanvaar word.
“Die grootste deel van die rasionalisering van uitgawes moet op die koste van vergoeding (van staatsamptenare) gefokus wees en die reddingsboeie vir staatsondernemings.
“Reddingsboeie moet toegestaan word op voorwaarde dat bestuur verbeter en dat kwantitatiewe bedryfs- en finansiële prestasieteikens bereik word, wat duidelik uiteengesit is.”
Die IMF is ook nie te vinde vir finansiële opsies soos die verskuiwing van Eskom se skuld na 'n spesialedoelvoertuig nie, want dit gaan nie onderliggende probleme oplos nie en hervorming ontmoedig.
“Hoewel vordering gemaak is om staatsbestuur te verbeter, met wesenlike stappe om staatskaping te ondersoek, moet meer gedoen word om korrupsie hok te slaan.”
Bespoedig hervorming
Hervorming moet bespoedig word deur die koste te verlaag om sake te doen. Staatsondernemings moet help deur hul infrastruktuur te verminder.
Subsidies en belastingaansporings vir sekere sektore moet vervang word met 'n sakevriendelike omgewing wat mededingende en innoverende ondernemings lok.
Die onbuigsaamheid in die arbeidsmark moet aangepak word deur loononderhandelinge te desentraliseer.
Die IMF voorspel ekonomiese groei gaan volgende jaar traag bly en vir die sesde agtereenvolgende jaar laer as die bevolkingsgroei wees.
“Die regering en staatsondernemings sal die nodige aanpassing moet maak en hul besteding moet inperk, anders gaan die skuldprobleme vererger en finansiële stabiliteit weggekalwe word.”
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie