IMF: Gu2019n lening; SA moet sy eie probleme oplos
IMF: Gu2019n lening; SA moet sy eie probleme oplos

IMF: G’n lening; SA moet sy eie probleme oplos

Hanlie Stadler

Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) het Donderdag aan Fin24 bevestig dat die regering nie aansoek gedoen het vir ’n lening nie.

“Wat ons betref, is daar geen rede waarom Suid-Afrika die IMF moet nader nie,” het Montfort Mlachila, IMF-verteenwoordiger vir Suid-Afrika, aan Fin24 gesê.

“Ons verkies dat lande hul eie probleme oplos. Ek het geen twyfel dat Suid-Afrika die vermoë het om sy eie probleme op te los nie, sowel op die front van ekonomiese groei as op fiskale front.”

Christine Lagarde het reeds in Desember verlede jaar gesê die regering het die IMF nié vir hulp genader nie.

Die regering het ook verlede week verseker Suid-Afrika het geen plan om die IMF te nader nie.

Jackson Mthembu, minister in die presidensie, het op ’n nuuskonferensie ná ’n kabinetsvergadering gesê: “Nader die regering die IMF? Nee, daar is geen begeerte en eintlik geen noodsaaklikheid daarvoor nie, maar ek kan julle verseker dat daar die noodsaak vir ons is om omsigtig te wees met ons finansiële bestuur.”

Mthembu het gesê hy is oortuig Tito Mboweni, minister van finansies, is goed gekwalifiseerd om die land se geldsake te bestuur, en Mboweni “sal in staat wees om die land in sy vertroue te neem” wanneer hy die mediumtermynbegrotingsraamwerk in Oktober bekend maak. “Ek kan julle verseker daar is geen plan van die regering om die IMF te nader nie,” het hy herhaal.

ESKOM-KRISIS

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het ook verlede week aan joernaliste gesê Suid-Afrika se geldsake het nog nie soveel agteruitgegaan dat die land hulp van die IMF nodig het nie.

Kganyago sê die oplossings vir Suid-Afrika se ekonomiese probleme bly binne sy beheer “en die owerhede weet wat gedoen moet word”.

Die vrees dat Suid-Afrika bakhand by die IMF staan, het opnuut opgevlam nadat Sipho Pityana, president van Besigheidseenheid Suid-Afrika, gesê het as die regering nie die Eskom-krisis beter bestuur nie, gaan die land selfs ’n reddingsboei nodig hê.

Daarna het Magda Wierzycka, uitvoerende hoof van die batebestuursfirma Sygnia, gesê die voorbeeld van Griekeland wys hoe vernietigend IMF-hulp kan wees omdat baie streng besuiniging as voorwaarde gestel word.

Griekeland moes onder meer staatsamptenare aflê, staatspensioene verlaag en staatsbates verkoop of privatiseer. Dit het werkloosheid die hoogte laat inskiet en die land in ’n lang en diep resessie gedompel.

Peter Attard Montalto, ’n navorser van Intellidex, het ook gesê Suid-Afrika is nog lank nie by die punt waar ’n IMF-lening nodig is nie, maar as die regering “voortploeter” soos tans, kan die prentjie oor ’n jaar aansienlik anders daar uitsien. – Netwerk/Fin24

Kommentaar

Republikein 2024-11-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 36° Rundu: 24° | 34° Eenhana: 21° | 36° Oshakati: 22° | 36° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 24° | 37° Otjiwarongo: 19° | 35° Omaruru: 18° | 36° Windhoek: 18° | 32° Gobabis: 17° | 32° Henties Bay: 14° | 20° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 16° | 31° Mariental: 16° | 31° Keetmanshoop: 14° | 30° Aranos: 16° | 31° Lüderitz: 13° | 29° Ariamsvlei: 14° | 30° Oranjemund: 12° | 26° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 17° | 32° Lubumbashi: 17° | 25° Mbabane: 12° | 19° Maseru: 9° | 20° Antananarivo: 18° | 30° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 20° | 25° Windhoek: 18° | 32° Cape Town: 16° | 23° Durban: 15° | 24° Johannesburg: 14° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 21° Harare: 18° | 26° #REF! #REF!