Immigrant red seuntjie (4) wat aan balkon hang

Die waaghalsige manier waarop 'n onwettige immigrant van Mali se eie lewe op die spel geplaas het om 'n kind te red, het goeie vrugte vir almal afgewerp.
Die Franse regering het Maandag verblyfreg aan 'n onwettige immigrant van Mali gegee nadat hy soos 'n wafferse Spider-Man teen 'n woonstelkompleks opgeklim het om 'n vierjarige seuntjie te red wat aan 'n balkon op die vierde verdieping gehang het.

Pres. Emmanuel Macron het Maan­dag gesê permanente verblyfreg is aan Mamoudou Gassama (22) toegeken nadat hy waarskynlik die kind se lewe gered het.

Op video's kan gesien word hoe Gassama sy lewe op die spel plaas waar hy Sondag van balkon tot balkon opklim om die kind te bereik, terwyl omstanders op die grond toekyk.

Video's van die voorval het soos 'n veldbrand versprei en Gassama is kort daarna “Spider-Man” gedoop.

Macron het Gassama vir sy heldedaad bedank.

“Dit was 'n uitsonderlike daad,” het Macron aan Gassama gesê.

“Ons sal natuurlik al jou ­dokumente regkry en as jy wil, sal ons met die proses begin sodat jy 'n Franse burger kan word.”

Gassama het aan Macron vertel hoe hy in Maart 2014 die Mediterreense See probeer oorsteek het om Italië te bereik. Hy is egter deur die polisie gevang.

Europa het sedert 2015 'n krisis met immigrante ná oorloë in Libië en Sirië. Meer as 1 miljoen mense uit Afrika en die Midde-Ooste het al probeer om die Europese vasteland via Turkye of van elders per see te bereik.

Anne Hidalgo, burgemeester van Parys, het Gassama vir sy heldedaad geprys en gesê die stad sal hom help om permanente verblyfreg in Frank­ryk te kry. Macron het aan Gassama gesê hy hoop hy kan 'n goeie werk in die stad kry en omdat hy hom so goed van die reddingspoging gekwyt het, kan hy hom by die brandweer aansluit as hy sou wou.

Gassama het telefonies aan Hidalgo gesê dat hy 'n paar maande gelede vanaf Mali in Frankryk aangekom het en dat hy graag daar wil bly.

“Ek het geantwoord dat sy ­heldhaftige daad 'n voorbeeld vir almal is en dat Parys hom vanselfsprekend sal help in sy pogings om hom hier te vestig,” sê Hidalgo.

Die seuntjie wat gered is, is glo deur sy ouers sonder toesig by die huis gelos. Sy pa is in hegtenis geneem en aangehou omdat hy nie sy plig as ouer nagekom het nie. Die seuntjie se ma was uitstedig.

“Ek het dit gedoen omdat dit 'n kind was,” het Gassama aan die Franse koerant Le Parisien gesê.

“Ek het geklim. Dank Vader dat ek hom kon red.”

Hy het aan die BBC vertel hoe hy verby 'n klein groepie mense gestap het wat voor 'n gebou gestaan het.

“Ek het nie nog tyd gehad om te dink nie. Ek het net oor die pad gehardloop om hom te gaan red.

“Ek het net geklim en vir God dankie gesê. God het my gehelp. Hoe hoër ek geklim het, hoe meer moed het ek gekry om hoër te klim.”

Hy sê die seuntjie het gehuil toe hy hom bereik het en dat hy ook 'n besering aan sy voet gehad het. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer