Imms: IPC nie in die knyp
Imms: IPC nie in die knyp

Imms: IPC nie in die knyp

Twee stadsraadslede wat vir kor­rupsie ondersoek word, is deur hul party versoek om hul poste prys te gee omdat sulke gedrag nie strook met die etiek wat van verkose leiers verwag word nie.
Augetto Graig
Augetto Graig, Jemima Beukes en Ogone Tlhage – Spekulasie oor die stand van die Independent Patriots for Change (IPC) as opposisiebeweging in die lig van 'n nuwe interne geskil – dié keer in die hoofstad – skeel die party min.

Die IPC is nie besig om in duie te stort nie, het die party se woordvoerder, mnr. Imms Nashinge, gister by navraag gesê.

“Ek wens die beste geluk toe en diegene wat so dink,” hy het bygevoeg. “Daar is geen sprake van soiets nie en ek voel vere vir die wat so dink. Ons is 'n ernstige politieke party,” het Nashinge benadruk.

Ná 'n vertoning in die verkiesings van streek en plaaslike owerhede wat minder setels opgelewer het as wat algemeen verwag is, is reeds ver­skeie kere gekla oor outokratiese leierskap deur dr. Panduleni Itula, wat glo konflik veroorsaak en individuele leiers se selfstandigheid en beweegruimte aan bande lê.

Die IPC het Maandag sy twee verteenwoordigers in Windhoek se stadsraad weens wangedrag herroep, maar later teruggekrabbel op die ontrekking van me. Desiree Davids as raadslid.

Sy het met regstappe gedreig by gebrek aan die verskaffing van redes vir haar onttrekking en die nakoming van riglyne oor dissiplinêre optrede in die party.

Haar mederaadslid van die IPC, mnr. Fillemon Hambuda, het blykbaar tot sy herroeping ingestem omdat hy glo nie saamstem oor hoe mnr. Job Amupanda die opposisiekoalisie in die stadsraad bestuur nie.

Beide word deur die Teenkorrupsie Kommissie (ACC) ondersoek oor aantygings dat hul hul posisies vir eie gewin gebruik het.

Minstens Davids is Saterdag gebel en gevra of sy sal verkies om eerder haar bedanking in te dien weens die ondersoek.

Amupanda het ontken dat hy Davids en Hambuda by die ACC verkla het.

Davids was vroeër in die nuus omdat sy vir grond in die Rocky Crest-buurt aansoek gedoen het, wat toe wel aan haar toegestaan is.

Die optrede strook glo nie met IPC-beginsels dat behoeftiges voorkeur met grond en behuising moet kry nie. Sy is as gevolg hiervan in Junie tydelik geskors.

Die beleid dateer uit die tyd toe Swapo nog die septer in die raad geswaai het. Davids het glo 'n briefhoof van die burgemeester se kantoor gebruik by haar aansoek.

Hambuda was die voorsitter van die stadsraad se bestuurskomitee en die ACC kyk ook na van sy besluite as bestuurder by die munisipaliteit voor sy aftrede.

Die IPC het Maandag gesê 'n interne ondersoek is na die raadslede se gedrag van stapel gestuur, maar omdat die munisipaliteit nie bewysstukke wat beweringe sou staaf wou beskikbaar stel nie, is besluit om die twee te herroep.

“Fassinerend,” was Itula se enigste kommentaar aan ons susterskoerant, die Namibian Sun, oor beweringe dat hy Davids viktimiseer en vir Hambuda wil beskerm, terwyl hy ook glo raadslede oor 'n afstand beheer.

“Soos met ander politieke partye sluit mense aan, en ander verlaat die party, wat geen verrassing is nie,” het Nashinge gesê. “Sedert die party se ontstaan was dit so.”

Volgens Nashinge groei die IPC egter steeds landwyd en het die party meer lede as baie ander ouer opposisiepartye.

“Ons is een van die hoë bome op die plaaslike politieke landskap, en dus vang ons baie wind,” het hy aangevoer. “Ons is in ons eie liga.”

Nashinge het erken dat koalisieregering probleme skep, maar dit skrik die IPC nie af nie, wat volgens hom oorgehaal is om sy beleid na te volg.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!