Immunisering 'n sleutelprioriteit
Immunisering 'n sleutelprioriteit

Immunisering 'n sleutelprioriteit

Gesondheid
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht



Namibië erken die impak wat siektes op die land se ekonomie en mense se lewensbestaan het en beskou daarom roetine-immuniserings as 'n sleutelprioriteit.

Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, het met die aanvang van Wêreldimmuniseringsweek gesê die land hou in die lig van die Covid-19-pandemie sy vinger op die pols van noodsaaklike dienste soos immunisering om te verseker dié dienste word nie onderbreek nie.

Volgens hom vat die land in dié verband hande met vennote soos die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO), Unicef en verskeie lyn­ministeries om vertroue in ­entstowwe te verhoog.

“Die regering gaan voort om te belê in verskeie entstowwe om siektes te voorkom wat sodoende 'n gesonder nasie en ekonomiese groei verseker. Immunisering het 'n globale rekord in die jaarlikse behoud van miljoene lewens en word in wêreldgeskiedenis en openbare gesondheid erken as een van die wêreld se mees sukses­volle gesondheidsingrypings om lewens te red.”

Volgens Shangula het entstowwe oor die afgelope 200 jaar verskeie kindersiektes en ander siektes soos onder meer polio, masels, pokke, tuber­kulose en servikale kanker voorkom.

Volgens hom het Namibië verlede jaar aangesluit by verskeie ander wêreldlande deur as poliovry gesertifiseer te word.

Wêreldimmuniseringsweek het ten doel om die gebruik van entstowwe te bevorder in mense in alle ouderdomsgroepe om hulle teen voorkombare siektes te beskerm.

Vanjaar se tema is “Entstowwe bring ons nader aan mekaar” en volgens Shangula het Namibië die ware ­betekenis hiervan gesien in gemeen­skappe uit alle vlakke van die samelewing wat dit ondersteun.

“Die Covid-19-pandemie het bestaande gapings in die gesondheidstelsel ontbloot, maar ook gemeen­skappe saamgesnoer omdat inwoners uit alle vlakke van die samelewing óf siek geraak het, óf op welke manier ook al deur die siekte geraak is,” het Shangula gesê.

Volgens die minister het Namibië ervaar hoe mense uit gemeenskappe en besighede asook politieke, geestelike en tradisionele leiers hande vat om die pandemie hok te slaan.

“Die land het ook gesien hoe ­wetenskaplikes en gesondheids­werkers aanbied om ekstra ure te werk, terwyl die private gesondheidsektor 'n bydrae lewer om te verseker Covid-immunisering is ook beskikbaar vir inwoners wat nie lid van 'n mediese fonds is nie.



INLIGTINGSTELSEL

Shangula het ook verwys na die ­bekendstelling van die ­elektroniese ­distrikgesondheid-inligtingstelsel wat rekord van alle immuniserings hou. Die DHIS2 Entstof-nasporingstelsel is dié week saam met die landswye uitrol van die Covid-19-­immuniseringsprogram ontplooi.

Volgens die WHO is daar vandag wêreldwyd steeds sowat 20 miljoen wat nie toegang het tot die ­entstowwe wat hulle benodig nie.

Vele loop ook uit op noodsaaklike ­inentings tydens hul tiener- en volwasse jare mis wat nagevolge vir hulle as bejaardes inhou.

“Dit is bewys (nie-inentings) hou ­negatiewe implikasies vir hul ­algemene gesondheidstoestand in en om van siektes te kan herstel,” het ­Shangula gesê.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer