Immuniserings skop af in informele nedersettings

Gesondheidswerkers beweeg van deur tot deur om inwoners aan te moedig om hulle teen Covid-19 te laat inent.
Henriette Lamprecht
Die Covid-19-immuniseringsveldtog in Windhoek se informele nedersettings het by die Moses Garoeb-kiesafdeling se kantoor in Havana afgeskop.

Volgens die bedryfsdirekteur van die OmniCare Trust, me. Frida Muteka, is dié perseel gekies op grond van die strategiese ligging in die hart van Havana, oorkant die enigste supermark in die nedersetting waar honderde lede van die gemeenskap daagliks hul inkopies doen.

Volgens Muteka was die vordering met inentings in informele nedersettings tot nou toe traag, ten spyte van verskeie aankondigings op nasionale radiodienste en van gesondheidswerkers in die gemeenskap wat voortdurend inligting oor Covid-19 en die belangrikheid van inenting verskaf.

“Baie mense wil nie ingeënt word nie, omdat hulle nie die spuit en die uitwerking daarvan vertrou nie. Dis as gevolg van waninligting wat deur verskeie sosialemediaplatforms soos Whats­App versprei word,” het sy gesê.

“Talle mense in informele nedersettings dra nie deurlopend maskers in die openbaar, of handhaaf sosiale afstand nie. Hulle doen dit net wanneer dit vereis word. Gesondheidswerkers in die gemeenskap sal van deur tot deur beweeg om hieroor en met inwoners oor die pandemie sowel as die entstof te praat.”

FirstRand Namibia is reeds verskeie jare 'n ondersteuner van die OmniCare Trust en die Mister Sister-program vir mobiele klinieke en het spesifiek hul steun tydens die Covid-pandemie opgeskerp.

In September verlede jaar het die FirstRand Namibia HOPE (Health Optimisation Pandemic Emergency) Fonds 'n borgskap van N$1,2 miljoen aan die Omni­Care Trust-mobiele kliniek oorhandig. Die geld is gebruik vir die voorsiening van primêre gesondheidsdienste vir een jaar, sowel as vir die toetsing vir Covid-19 vir drie maande.

“In Junie vanjaar het ons deel geword van die onder­steuningspan vir verskeie immuniseringspunte, wat die deurry-­geriewe van Gondwana by die Windhoek Skou­gronde, sowel as die immu­niseringspunte by Omnicare Trust en die Lady Pohamba Private Hospitaal (LPPH) in Windhoek insluit.

Volgens me. Revonia Kahivere van die First­Rand Namibia Foundation betaal FirstRand Namibia vir drie maande die bedryfskoste van bogenoemde diensverskaffers.

Volgens Kahivere het 241 mense vanaf 23 tot 31 Julie Sinopharm-­entstof ontvang, 'n gemiddeld van 30 mense per dag. Hiervan was 122 mans en 119 vroue.

Sy sê 229 mense het hul eerste dosis ontvang, terwyl 12 nou ten volle ingeënt is.

“Dis 'n begin. Ons hoop meer mense sal die immu­niseringskliniek besoek.”

Die kliniek is Maandae tot Saterdae van 08:00 tot 17:00 oop.

Kommentaar

Republikein 2025-04-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer