Impak van besnoeiing gevoel
Impak van besnoeiing gevoel

Impak van besnoeiing gevoel

Kommer oor die omstandighede waarin personeel van verskeie ministeries werk en leef, is deur ‘n parlementêre portefeuljekomitee uitgespreek.
Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn - Die parlementêre portefeuljekomitee belas met buitelandse sake, verdediging en veiligheid het bevind verskeie faktore strem die implementering van kapitaalprojekte.

Dit sluit in ‘n tekort aan boumateriaal, die gehalte van vakmanskap wat bevraagteken word, algemene instandhouding, kontrakteurs wat bouterreine verlaat en die laat- of niebetaling van kontrakteurs.

Ná ‘n omvattende ondersoek in die Zambezi-, //Kharas- en Hardapstreek in Augustus en September vanjaar, sê die komitee in ‘n verslag wat verlede Donderdag in die Nasionale Vergadering (NV) ter tafel gelê is hulle het die impak van begrotingsbesnoeiings op kapitaalprojekte eerstehands gesien.

‘n Betekenisvolle aantal kapitaalprojekte van die ministeries van veiligheid en sekuriteit, verdediging en binnelandse sake en immigrasie het tot stilstand gekom vanweë begrotingsbesnoeiings.

Die komitee spreek die hoop uit dat wanneer geld weer beskikbaar raak, dit hervat sal word.

Van die projekte wat geraak is en nie voltooi is nie, is die streekkantore van die ministerie van binnelandse sake en immigrasie op Keetmanshoop en op Katima Mulilo.

“Die komitee is ook bekommerd oor die toestand by die Noordoewer-grenspos en vra dat die ministeries van binnelandse sake en immigrasie, veiligheid en sekuriteit, finansies en werke en vervoer moet ingryp,” het die voorsitter van die komitee, mnr. Leevi Katoma, in die NV gesê.

In die verslag word ook gewys op die daaglikse uitdagings wat lede van die Namibiese polisie, weermag en immigrasiedienste op Impalila-eiland in die Zambezi-provinsie in die gesig staar. Dit sluit onder meer uitdagings met afbakening en grenslyne by grensposte in.

Kantoorspasie, ‘n gebrek aan verblyf vir personeel, te min personeel, ‘n gebrek aan noodsaaklike toerusting en geskikte vervoer is van die uitdagings wat personeel in al drie streke in die gesig staar.

As voorbeeld is die Singalamwe (Kamenga) polisie-grenspunt in die Zambezistreek genoem, waar polisiebeamptes in tente slaap. Hier is hulle aan die gevaar van wilde diere soos luiperds, jagluiperds en slange blootgestel. Omdat die telekommunikasienetwerk swak is, is dit bykans onmoontlik vir hulle om hul selfone te gebruik.

Hulle sukkel ook om maaltye met behulp van brandhout voor te berei omdat hulle nie die luukse van elektriese stowe het nie.

By die Hardap- korrektiewe sentrum bring ‘n gebrek aan akkommodasie mee dat personeel in die beddens van kollegas wat aan diens is, moet slaap. Hulle woon boonop in ‘n ou sinkskuur en ‘n stoorkamer wat met gordyne of komberse verdeel is.

Die tydelike strukture wat die Namibiese weermag van die ou Suid-Afrikaanse bedeling geërf het, is vervalle.

In die verslag word ook melding gemaak van maatskaplike uitdagings soos alkoholmisbruik en al hoe meer sjebeens wat tot stand kom.

Die komitee beveel ook aan dat die ministeries van veiligheid en sekuriteit, asook van gesondheid en maatskaplike dienste dit moet oorweeg om wetgewing in te stel om die gebruik van sogenaamde hubbly bubbly- of Hookah-pype (waterpype) te verbied.

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer