Imperial behaal rekord-omset, -bedryfswins
Imperial behaal rekord-omset, -bedryfswins

Imperial behaal rekord-omset, -bedryfswins

Francois Williams - Imperial, wat in logistiek en die motorbedryf spesialiseer, het ’n rekord behaal wat sowel omset as bedryfswins betref.

Hy het in die boekjaar tot einde Junie sy omset met 1% tot R119,5 miljard verhoog en sy bedryfswins met 2% tot R6,5 miljard.

Tot 43% van die omset is in die buiteland verdien, en 37% van die bedryfswins.

Sy wins voor belasting is egter 18% laer weens valutaverliese van R619 miljoen weens verskansingsdekking by sy motorbedryffiliaal Motus se Renault-afdeling, asook waarde-aanpassings by sy logistieke bedrywighede in die res van Afrika weens die verswakking van die naira in Nigerië en die metical in Mosambiek.

Beleggers was nie gisteroggend beïndruk nie en Imperial se aandeelprys op die JSE was net ná die markopening 0,71% laer op R187,15. Die aandeel het die afgelope 12 maande ’n opbrengs van 14% gelewer, maar sedert die begin van die jaar net 2,5% gebied.

Imperial se verdienste per aandeel is 14% laer op R13,39, en sy aandeelhouers is met ’n kleiner dividend beloon. Die slotdividend van R3,30 per aandeel bring die jaardividend op R6,50 te staan, teenoor die vorige jaar se R7,95.

Wisselkoers

Mark Lamberti, uitvoerende hoof, sê die groep se Suid-Afrikaanse bedrywighede, wat steeds onderskeidelik 57% en 63% van sy omset en bedryfswins genereer, is deur kleiner logistieke volumes en ’n 7%-afname in motorverkope geraak.

Die rand se versterking van 11% teenoor die Amerikaanse dollar en 9% teenoor die euro oor die boekjaar het saam met die korttermynwisselvalligheid tot verskansingsverliese gelei.

Die groep het planne om ’n regstreekse 30%-belang in Imperial Logistics SA aan ’n breedgebaseerde bemagtigingsaandeelhouer te verkoop. Dit is deel van sy herstrukturering sedert 2014 om ontslae te raak van ondernemings wat swak gepresteer het of wat nie strategies by die groep inpas nie.

Die groep is nou in twee hoofafdelings verdeel, elkeen met sy eie uitvoerende hoof en uitvoerende komitee. Dit is Imperial Logistics en Motus.

Imperial Logistics doen vervoer, pakstoor- en verspreidingsbestuur, terwyl Motus hom toespits op die motorvoertuigwaardeketting – van invoer tot verspreiding, kleinhandel, motorhuur, naverkoopdiens en voertuigfinansiering.

Volgens Lamberti verwag hy stewige bedryfsresultate vir die lopende boekjaar, mits Suid-Afrika sy beleggingsgraad behou en die geldeenhede in die ekonomieë waarin die groep sake doen stabiel bly. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!