In almal se beste belang

‘n Hotel en ‘n private hospitaal in Windhoek het die nodige maatreëls getref om personeel en besoekers teen Covid-19 te beskerm.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Personeel verbonde aan die Windhoek Sentrale Hospitaal in die hoofstad se isolasie-eenheid doen die beste wat hulle kan om die beste behandeling vir elke pasiënt te verseker.

So het mnr. Ben Nangombe, uitvoerende direkteur van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS), gereageer op beskuldigings van die sogenaamde slegte behandeling van die derde pasiënt in Namibië wat positief vir Covid-19 getoets het en tans hier behandel word.

Die 61-jarige toeris het in boodskappe wat wyd op sosiale media gedeel is, onder meer uitgevaar oor die feit dat hy nie die toilet kon spoel nie, daar nie lopende water, seep en ‘n handdoek in die badkamer beskikbaar was nie en dat hy ‘n halfuur vir Wi-Fi moes wag.

Nangombe het erken die water was vir ‘n tyd by die hospitaal afgesny en dit as ‘n “vreemde verloop van omstandighede” beskryf.

“’n Kontrakteur was op daardie stadium besig om op die perseel te werk en dit het vir ‘n geringe tydperk ‘n impak op die voorsiening van water gehad. Die toevoer is egter kort nadat die fout opgetel is, weer herstel,” het hy gesê.

Hy het beklemtoon die ministerie en sy personeel is daartoe verbind om in die beste belang van alle pasiënte op te tree.

Die Duitse toeris het vanuit isolasie in sy boodskappe op sosiale media gesê sy isolasie is ‘n “tipiese verkeerde besluit van ‘n kommunistiese regering” en “wat hier gebeur, is moord deur die regering”.

Volgens Nangombe stuur dit ‘n beeld uit dat die openbare gesondheidstelsel nie op standaard is nie en nie omgee nie, iets wat hy ontken.

“Elke personeellid doen die beste wat hy of sy kan.” Hy het ook beklemtoon “elke fout is geleenthede om te leer om beter te doen in gevalle waar hulle misluk het”.

Intussen het Safari Hotels (Pty) Ltd., waar die man vir ‘n nag in Windhoek tuisgegaan het, se raad van direkteure Vrydag reeds ‘n verklaring uitgereik oor maatreëls wat geneem is om personeel en gaste teen die siekte te beskerm.

Volgens die verklaring het die hotel Donderdag ‘n besoek van ‘n dokter en mediese beampte van MoHSS ontvang wat bevestig het die man het positief vir Covid-19 getoets. Die man het Dinsdag laatmiddag by die hotel aangekom. Hy het geen kontak met die ontvangsklerk gehad nie, maar is deur ‘n portier na sy kamer vergesel. Die man het aandete na sy kamer bestel, wat deur ‘n kamerkelner afgelewer is. Hy is die volgende oggend omstreeks 07:50 deur die ontvangsklerk uitgeboek. Sy kamer is deur ‘n skoonmaker in die loop van die oggend skoongemaak.

Volgens Safari Hotels is drie persone met wie die man in kontak gekom het, naamlik die portier, die kelner en ontvangsklerk in vrywillige isolasie by hul huise geplaas. Nie een toon tans enige simptome van die siekte nie en hulle word deurentyd gemonitor.

Die raad het sy dank teenoor MoHSS uitgespreek vir die “baie professionele en doeltreffende wyse” waarop die situasie hanteer is en die verspreiding van die virus op die perseel en onder personeel voorkom het.

Die plaas waar die Duitse toeris glo voor sy besoek aan Windhoek tuisgegaan het, wat 45 km oos van die hoofstad geleë is, se inwoners is glo ook onder selfisolasie.

Intussen het me. Hannelie Botha, algemene bestuurder van die Lady Pohamba Private Hospitaal (LPPH) in Windhoek, waar die toeris Woensdag opgeneem is, beklemtoon maatreëls is in plek om moontlike Covid-pasiënte af te sonder en ook lede van die publiek en ander pasiënte te beskerm.

Volgens Botha was die man toe nog net ‘n moontlike geval en is hy getoets op grond daarvan dat hy ‘n reisgeskiedenis gehad het, siek gevoel en ‘n koors gehad het.

Hy is in ‘n afsonderingskamer op die grondvloer, “ver verwyder” van pasiënte op die eerste en tweede vloer gehou totdat sy positiewe uitslae die volgende oggend van Pathcare ontvang is.

“Deurentyd was daar slegs twee verpleegkundiges en ‘n dokter met beskermde drag (PPE), soos deur die internasionale riglyne van infeksiebeheer voorgeskryf, by hom betrokke,” het sy gesê.

Met ontvangs van die positiewe uitslag het die hospitaal dadelik MoHSS gekontak en hulp gevra omdat Covid-19 ‘n aanmeldbare siekte is en sulke gevalle deur hulle hanteer moet word.

Die man is vervolgens Donderdag laatmiddag na die isolasie-eenheid van die Windhoek Sentrale Hospitaal oorgeplaas.

“Personeel by LPPH wat in kontak met hom was, is onmiddellik in isolasie geplaas, diegene voor bevestiging van die uitslae en ook daarna en sal vir die volgende twee weke nie by die werk wees nie.

Botha het verwys na nog maatreëls wat in plek is om pasiënte en personeel te beskerm. Dit sluit vyf inligtingsborde by ingange buite die hospitaal in. Vermoedelike gevalle word versoek om nie die gebou binne te gaan nie en ‘n noodnommer vir leiding te skakel. LPPH werk ook saam met Namibian Health Plan (NHP) om hul mobiele kliniese voertuig te gebruik waar pasiënte wat aan die kriteria voldoen hulle vir Covid-19 kan laat toets. Die hospitaal is ook in die proses om ‘n privaatsaal vir Covid-19-pasiënte gereed te kry.

“Indien vermoedelike gevalle wel deur ‘n dokter ondersoek moet word, word hulle deur ‘n agterdeur begelei waar slegs een personeellid in PPE betrokke is en na die isolasiekamer geneem. Die pasiënt bly dan in isolasie (met net die een verpleegkundige wat na hom/haar kyk) totdat die toetse bevestig is,” het Botha gesê.

Indien die uitslag positief is, word protokol soos vereis deur MoHSS gevolg.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer