In die groter smeltkroes van die grensoorlog

'n Waardevolle toevoeging tot Suider-Afrika se moderne geskiedskrywing
Dani Booysen
Dani Booysen – Was die kans om 'n meer beheerste, demokratiese oorgang in Angola te verseker reeds in 1975 verby?

Dit is een van die vrae wat brig.genl. (afgetree) Wim van der Waals in sy herinneringe, Eerste daar (Protea Boekhuis, 2021) probeer beantwoord.

Kaas van der Waals is waarskynlik goed bekend aan baie wat deel was van die bosoorlog, cum vryheidsoorlog, en studente van die militêre geskiedenis.

Uit die aard van die onderwerp, en die veteraan se direkte en veelfassetige betrokkenheid daarby, is die aktualiteit vir Namibië voor die hand liggend.

In 1992 het Van der Waals informeel aan mnr. Frans Kapofi, vandag minister van verdediging, as aanknopingspunt al die besonderhede verklap wat op sy lêer was, byvoorbeeld dat geskiedenis en Afrikaans Kapofi se beste vakke op hoërskool was.



DRIE DEKADES

In baie verskillende hoedanighede was Van der Waals, 'n kenner van Angola se geskiedenis, vir sowat 32 jaar in diens van die Suid-Afrikaanse weermag.

Die memoires van die soldaat, oorlogsdiplomaat, taktikus, strateeg, geskiedskrywer, akademikus en militêre filosoof (hy sal glad nie van laasgenoemde etiket hou nie?) is chronologies georden vanaf sy geboorte in Apeldoorn in Nederland tot hy die laaste hoofstuk van sy formele werkslewe as gemeenskapsveiligheidsbestuurder van Stad Pretoria geskryf het.

Van der Waals was 'n valskermsoldaat wat in polisie-uniform by die slag van Ongulumbashe betrokke was en onder dekmantel van die titel visekonsul die latere genl. Jannie Geldenhuys se rol as Suid-Afrika se verspieder in Luanda oorgeneem het.

Die verhouding – soms stormagtig – met Geldenhuys word goed toegelig. Asook verhoudinge met genls. Constand Viljoen, George Meiring en baie ander.

Van der Waals was in die voorste loopgrawe tydens Operasie Savannah en vir lank die direkte kontak met Jonas Savimbi van Unita.



DAAD EN WOORD

Volgens Van der Waals was die (Afrikaner se?) ingesteldheid op daad sonder die woord wat vooraf, daarmee saam of minstens dadelik daarna moes volg, die rede waarom SA byna altyd die propaganda-oorlog verloor het.

Hy is deel van die skool wat reken aarseling was fataal in die opmars na Luanda. Saam met die skielike onttrekking van Portugal.

As student van teenrevolusionêre oorlog is Van der Waals krities dat eenvoudige militêre teeninsurgensie nie deur goeie verhoudinge met plaaslike gemeenskappe en die opheffing van kleinlike inperkings van regte gerugsteun is nie.

Hierop sal hy wisselende reaksies uitlok?

Die boek wys wel hoe spanning – weens ver­skeie onderliggende en onbestuurde verskille – altyd nie net die bepaling van doelstellings en doelwitte nie, maar die planne om dit te bereik en die monitering en evaluering daarvan sal beïnvloed.

Dit is 'n universele waarheid: vir elke land, regering, weermag, gemeen­skap, instelling, besigheid – en selfs familie en gesin?

In Eerste daar lui die spanning duidelik: tussen immigrant en boorling, veterane van die Tweede Wêreldoorlog en Korea teenoor innames afgedwing deur die oorlog, PF's teenoor burgermag en kommando's, Wes en Oos, en die lys strek langer.

Een van die grootste lesse in die lewe is die gebrek om verskille tot jou voordeel te benut.

Oral, selfs verskuild, is daar ego's.

Moenie dat dit jou die boek laat neersit nie. Neem eerder 'n blaaskans.

(Kantnota: Ek was toe 'n skoolseun en kan nooit-ooit weer in 'n met-allerhande-kryte-ingekleurde “Totale Aanslag” glo nie. En dink nie die Broederbond het altyd eerbare motiewe gehad nie.)

Eerstehands word van baie oorlogsavonture en verskille in menings agter die militêre en politieke gordyne vertel. Met hope inligting, byvoorbeeld oor Cuito Cuanavale.

Lees self …

Eerste daar is onderhoudend geskryf en analities, met kaarte.

In die slot vra Van der Waals dapper vrae aan homself oor sy loopbaan en waar en hoe hy dalk anders sou kies.

Naas godsdiens, beskryf hy sy gesin en familie as die groot anker in sy lewe. Sommige mense sou dalk 'n bietjie meer van hulle wou lees, maar weens die hooftema (en waarskynlik 'n sterk nadruk op privaatheid) kan 'n mens verstaan hoekom nie.



55 JAAR LATER

By herhaling benadruk die skrywer dat hy nooit geskroom het om pynlik reguit te wees, eerder as om 'n moordkuil van sy hart te maak nie.

Hy deins daarom ondanks die voordele van SA se uiteindelike bevryding nie terug van sy mening dat hy teleurgesteld is in sy vaderland soos dit vandag lyk nie.

As ons dieselfde vraag oor Namibië vra, wat sal ons antwoord wees? Meer as drie dekades sedert ons vlag trots vir die heel eerste keer gehys is.

Die antwoord is dikwels makliker as die besef dat die hede minstens gedeeltelik aan onsself toe te skryf is, en dat waarheen ons op pad is nie buite ons sê lê nie.

Vir sekere radikale en andere is dit dalk maklik om stemme soos die van “Kaas” ronduit te verwerp.

Dit sal egter die ewig vloeibare skaal tussen skakerings van “liberalisme” en “konserwatisme” ontken – twee woorde wat immers abstrakte, mensgemaakte konstrukte is en altyd as verdag omgedraai en as deel van diskoersontleding afgetakel moet word.

Eerste daar is 'n belangrike toevoeging tot Suider-Afrika se moderne geskiedskrywing.

Sal dit teenstellende menings uitlok? Waar­skynlik.

Maar gesprek, en die begrip wat daaruit voortvloei, mag juis nooit oor ons verlede, ons vandag en ons môre ophou nie.

In Namibië self is daar nog baie verhale oor dié smeltkroes wat, uit beide die destydse kante van die stryd en politiek, op alle vlakke opgeteken, ver­samel en gebundel moet word.

• Beskikbaar in die plaas­like boekhandel by navraag

Kommentaar

Republikein 2024-12-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

#N/A #REF! #N/A