In die huis van hoop is daar vele woonplek
Pastoor Marietjie de Klerk het 21 jaar gelede in die voetspore van moeder Teresa en haar Sendelinge vir Liefdadigheid gestap, iets wat later tot die stigting van Hope Village in Windhoek gelei het.
Henriette Lamprecht - Die saadjie vir 'n huis van liefde en omgee word meer as twee dekades gelede geplant tydens 'n lewensveranderende besoek van drie maande aan die krotwoonbuurtes van Kalkutta, Indië, en danksy die voorbeeld van dien en omgee deur 'n vrou wat later as 'n heilige verklaar sou word.
In 1995 skryf pastoor Marietjie de Klerk aan moeder Teresa, die Rooms-Katolieke non wat bekend was vir haar betrokkenheid by die armes en straatmense van Kalkutta in Indië. Sy sou graag vir 'n tyd saam met haar wou werk in die verskillende tuistes vir van melaatses tot terminaal siekes.
Dit was die mooiste brief, vertel Marietjie. Getik op fyn, ligblou papier. Sy het geskryf oor haar akademiese prestasies, haar tyd op universiteit en by die Bybelskool en gedink dit moes haar tog beïndruk.
“Akademie was egter nie vir haar belangrik nie.”
Moeder Teresa se antwoord was eenvoudig, gestroop van enige pretensie en op die man af.
“As jy 'n hart het om lief te hê en hande om te dien, is jy welkom.”
Marietjie sou die volgende drie maande met 'n toeristevisum in Kalkutta deurbring waar sy saam met moeder Teresa en haar Sendelinge vir Liefdadigheid die armste van die armstes versorg en gedien het.
Marietjie vertel die nonne het in die moederhuis of klooster gebly, terwyl die vrywilligers kon kies by watter projek hulle betrokke wou raak en waar hulle sou bly vir die tydperk wat hulle daar was. Marietjie se keuse het op kinders geval.
Haar eerste ontmoeting met moeder Teresa was terloops en byna ongesiens.
Met die bywoning van haar eerste mis sedert haar aankoms in Kalkutta, gaan sit Marietjie heel agter. 'n Klein, fyn vroutjie kom vra sy moet boekies aan die kerkgangers uitdeel. Eers met haar wegstap, besef Marietjie dit was moeder Teresa.
“Sy was wel klein en fyn, maar sy was sterk, fisiek en in haar geloof.”
Moeder Teresa en haar Sendelinge vir Liefdadigheid is gekenmerk aan hul nonneklede van blou-en-wit-sari's, plakkies en hul Bybels en rosekranse wat immer teenwoordig was. By 'n tuiste vir pasiënte met melaatsheid was Marietjie geraak deur die inwoners se innerlike geluk en positiewe ingesteldheid.
“Die kompleks huisves van skole, 'n hospitaal en kliniek tot 'n visboerdery. Van die inwoners maak sari's en ek onthou 'n man wat sy vingers verloor het en steeds masjiene reggemaak het. Dit het my opgeval hoe gelukkig en vol lewe hierdie mense was.”
Marietjie het daagliks vyf ure by die verskillende tuistes gewerk. “Verkieslik moes jy nie langer ure as dit werk nie omdat dit so 'n impak op jou emosies het.”
Haar dae in Kalkutta het om 07:00 onder meer met 'n koppie Darjeeling-tee met kaneel begin.
“My 'werk' was om met die kinders te speel, aandag aan hulle te gee en natuurlik ook te was en kos te gee. Menslike aanraking, dat jy aan iemand moet raak om liefde en omgee te wys, was baie belangrik, ons was 'n 'hugging family'!”
Die ekstreme armoede in Kalkutta is geweldig, vertel Marietjie, en alles is heeltyd vuil. Sy het in 'n Moslem-krotbuurt gebly in 'n kamer wat sy met vier ander mense gedeel het. Dit was nie geverf nie, die vloere ook nie geteël nie. Op die boonste verdieping het die eienares, 'n Hindoe-vrou, gebly.
Met haar daaglikse pad wat na die tuiste lei waar sy sou werk, het Marietjie vele mense ontmoet. Daar was dié wat hul hele lewe nog net iewers op 'n straat gebly het en nog nooit die binnekant van 'n huis gesien het nie.
“So ver soos jy loop, is daar iemand wat bedel, wat iets van jou wil hê. Almal vra iets van jou en 'n mens raak oorweldig deur hierdie mense se nood.”
Weer was moeder Teresa se wyse woorde 'n riglyn.
“Dit is 'n kwessie van 'gee aan elkeen wat van jou vra', maar dit hoef nie geld of selfs kos te wees nie, jy kan sy menswaardigheid weer aan hom teruggee.”
Hindoe, Moslem, Christen . . . niemand is ooit deur moeder Teresa weggewys, sou hulle as vrywilligers hier wou kom werk nie.
“Sy het almal ingevat en nooit enigiemand weggewys nie. Haar woorde was 'ek het Jesus in my hart, ek is lief vir jou.'”
Terug in Namibië het Marietjie, 'n pastoor vir sending van die Immanuel-kerk, die vele MIV-positiewe kinders opgemerk wat die hoofstad se strate hul huis gemaak het. Sy sou vir hulle 'n tuiste skep soos sy gesien het moontlik en suksesvol in Kalkutta was en ma's en kinders onder een dak bymekaar bring.
In 2005 kry sy die visie vir Hope Village, 'n liefdevolle tuiste en omgeehuis vir MIV-positiewe kinders. In 2007 kry sy die grond en in 2008 word die eerste bakstene vir haar groot droom gelê. In Maart die volgende jaar word die eerste kinders opgeneem.
“Hulle is almal nou in graad 3. Daar is ons eie mej. Hope Village, wat as 'n pasgebore baba hier aangekom het, en *Lydia, wat ons volgende bestuurder gaan wees.”
Dit is baie belangrik dat die kinders hul kos en pille op die regte tyd kry, sê Marietjie. Ongeveer 40% van die kinders was MIV-positief, met 65% van hulle wie se ouers aan MIV/vigs gesterf het. Van hulle is deur hul ouers verlaat en verwaarloos, ander is weggevat.
Baie van die kinders wat huidig hier bly, het familielede wat hulle vir 'n vakansie kan kom haal of op 'n Sondag by hulle kan kom kuier. Maar dikwels keer die kinders ná 'n vakansie honger en verwaarloos terug.
Marietjie praat met trots van haar huismammas.
“Hulle is regtig lief vir die kinders, daar is 'n noue band tussen hulle.”
•Monica se ma is 'n dwelmverslaafde. Sy is drie jaar oud, maar lyk soos 'n eenjarige. In November het sy vir die eerste keer begin stap, maar van woorde vorm en gesels, is daar nog geen sprake nie. Sy is een van sewe kinders.
•Palesa is agt jaar oud, serebraal-gestrem en het 'n waterhoof. Sy het by Hope Village beland nadat Marietjie in die koerant gelees het van haar wat saam met haar ma in 'n sinkhuisie in Windhoek bly. Geld wat ná die berig vir Palesa en haar ma ingestroom het, het in 'n buurvrou se rekening beland wat dit vir haarself toegeïen het, sonder dat Palesa enige voordeel daaruit getrek het. By Hope Village het Palesa en haar ma nou 'n permanente tuiste gevind. Palesa se ma het vir 'n jaar Engels geleer en is as huisma nou betrokke by haar dogter en ook die ander kinders vir wie sy met voorskoolse aktiwiteite help.
•Rosalia se ouers is alkoholiste. Sy het 'n ouer boetie en sussie en is die afgelope jaar 'n inwoner van Hope Village. Sy is in graad 3 en agter met mylpale, met die vermoede dat sy alkohol fetale sindroom het.
•Destiny is op die ouderdom van twee jaar oud by die Wanaheda-polisiekantoor agtergelaat. Haar ouderdom is geskat, wat haar naam is, wanneer en waar sy gebore is en wie haar ouers was, het niemand geweet nie. Met haar aankoms by haar nuwe tuiste, kry sy nuwe 'n naam, een wat sy deel met Hope Village se Marietjie. Dit was net logies dat hulle benewens 'n naam, ook 'n geboortedatum sal deel. Sy is 'n skaam dogtertjie wat verkies om te bly by dit wat aan haar bekend is en vas is aan die mense en kinders van Hope Village.
Huidig word 87 kinders tussen die ouderdomme van nul tot 18 jaar hier gehuisves. Tans is vyf wat hier grootgeword het, ook deel van Hope Village se permanente personeel. Twee is veiligheidswagte op die perseel, een is verantwoordelik vir onderhoud en die instandhouding van die groentetonnel, terwyl twee huisma's is.
“Hulle wou nie hier weggaan nie en wou graag iets by ons doen.”
Die kinders word in huise op die perseel in groepe van 24 kinders elk gehuisves. Elke huis het vier kamers waarin elke kind sy of haar eie bed, kas en klere het.
“Wanneer ons klere ontvang, kry elkeen die geleentheid om te kies wat hulle wil hê. Net omdat hulle arm is, beteken dit nie hulle móét net vat wat hulle kry nie.”
Die seuns en dogters is van mekaar geskei. In die huis vir meisies is twee huisma's wat in skofte werk om na die kinders om te sien. Die seunshuis het 'n ma en 'n pa en huisves seuns tussen die ouderdomme van 11 en 18 jaar oud. Die babahuis het ses ma's wat die kleintjies met liefde en aandag oorlaai, met drie wat deur die nag en drie deur die dag die babas voed en versorg. Die meeste vrywilligers wat by Hope Village aandoen, werk hier.
aanneemouers
Dis meestal vrywilligers uit Noorweë en hulle bestee 'n jaar by Hope Village as hul praktiese jaar vir 'n kwalifikasie in maatskaplike werk. Duitsland stuur ook gereeld vrywilligers wat meestal net klaar is met skool of hul studies reeds voltooi het.
Hoewel Hope Village “beslis beter is as die straat”, is die hoop altyd daar dat die kinders liefdevolle aanneemouers sal vind. Van hulle was so gelukkig om weer 'n ma en pa te vind.
“Van die ouers behou kontak en kom kuier weer.”
Uitgawes beloop sowat N$2 000 per maand per kind, wat van kos en klere tot petrolgeld insluit. Hope Village het 'n bussie wat weekliks sowat 2 400 km aflê om die skoolgaande kinders by agt verskillende skole te af- en oplaai.
Hoewel hul gereeld skenkings ontvang en ondersteun word, sê Marietjie dit sou wonderlik wees as daar voortgesette borge was.
“Verkieslik is dit beter as dit 'n voortgesette, vaste bydrae is soos ons maaltye wat nou maandeliks met N$15 000 geborg word. Maar enigiets is altyd welkom, hoe gering ook al.”
Die rekeningbesonderhede vir mense wat 'n bydrae tot die Hope Village Trust wil maak, is Hope Village Trust, Standard Bank, reknr. 042 830 168. Vir meer besonderhede kan Marietjie by 081 128 1405 geskakel word.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie