In die perfekte rol

’n Agentskap vir ‘gewone mense’ met groot drome
Yandi Du Plessis
Yandi du Plessis

Pencilled Casting is die breinkind van die passievolle sakevrou Kulan Ganes.

Met meer as 14 jaar se ondervinding in die rolprent- en vermaakbedryf as grimeerkunstenaar en stilis, het sy 'n behoefte geïdentifiseer vir 'n verskeidenheid van kunstenaars wat by spesifieke rolle pas.

Sy het besluit om ’n agentskap te begin wat talentvolle Namibiërs van alle groottes en ouderdomme verteenwoordig.

"Mense is fassinerend in hul uniekheid. Jy weet nooit wanneer jy daardie kenmerkende voorkoms, interessante karakter of opvallende stem vir 'n handelsmerk sal vind nie. Dit is die rede waarom ek altyd op die uitkyk is."

'n Rolverdelingsagentskap is die skakel tussen 'n bemarkingsagentskap, produksiehuis en/of radiostasie en die kunstenaar, verduidelik Kulan.

“Ons vind en stel die regte persoon vir 'n spesifieke handelsmerk voor en lig die ‘talent’ in oor wat van hom of haar verwag word. Ons hanteer die talentskedules vir 'n spesifieke werk en ook die kwessie van vergoeding.”

Pencilled Casting is aan die begin van dié jaar amptelik bekend gestel, maar Kulan vertel sy werk al vir meer as twee jaar as ‘n agent.

“Dit is 'n idee wat by my posgevat het, want as grimeerkunstenaar het kliënte altyd voorstelle van mense gevra wat aan sekere kriteria voldoen. Ek het besef daar is 'n gaping in die mark en ek is boonop goed met mense!”

Kulan het al as grimeerkunstenaar op filmstelle soos dié van die bekroonde Hollywood-fliek Mad Max: Fury Road, sowel as plaaslike flieks soos Encore, Baxu and the Giants, Iitandu en #LandOfTheBraveFilm, asook verskeie plaaslike advertensies gewerk.

Sy is gebore en getoë in Windhoek en het in Katutura, Gobabis en Khomasdal skoolgegaan.

“Ek wou nog altyd in die filmbedryf wees en my ma, alhoewel sy nie geweet het wat ek presies gaan studeer nie, het gesê ek kan dit studeer as ek deurkom. Ek was 'n rebellekind en mense was maar skepties.”

Op die oomblik werk sy steeds as grimeerkunstenaar en stillis en bestuur Pencilled Casting apart.

“Ons weet nie wat die toekoms inhou nie en ek weier om my nou te bekommer oor wat kan gebeur.”

Haar visie vir die agentskap is dat dit 'n belangrike rol sal speel in die uitbreiding van die bedryf deur effektiewe werwing en plasing van unieke talente op plaaslike en internasionale verhoë en luggolwe.

Tot dusver het byna 60 mense by die agentskap aangesluit. Kulan sê sy hoop dié getal sal in die toekoms toeneem om meer internasionale rolverdeling vir plaaslike kunstenaars te verseker.

Anders as baie ander mense en besighede het Kulan die Covid-19-pandemie as ’n geleentheid gebruik om haar besigheidsplan te vervolmaak.

“Die pandemie het eintlik vir my die tyd gegee wat ek nodig gehad het om te gaan sit en die idee van Pencilled Casting neer te pen (in daardie stadium was die idee nog ver van ’n werklikheid af), dus was daar beperkte uitdagings. Ek kon die rolverdeling steeds via sosiale media en virtuele platforms soos Zoom doen.”

Sy gebruik alle mediums tot haar beskikking.

Vir Kulan is Pencilled Casting ’n poging om mense te leer dat die droom om voor 'n kamera te staan of deel van 'n veldtog te wees, nie onmoontlik is nie. Veral in ’n klein land soos Namibië, waar daar nie baie waarde geheg word aan ’n loopbaan in die vermaakbedryf nie.

“Ons wil deure oopmaak en Namibiese kunstenaars hoop gee.”

Pencilled Casting is net een deel van die missie om mense se denkwyse te verander en die plaaslike vermaakbedryf te laat groei, voeg sy by.

Met Pencilled Casting beoog sy om soveel as moontlik “gewone mense” te verteenwoordig, hoewel Kulan nie werklik glo daar bestaan iets soos “gewone mense” nie. Enigiemand kan aansluit. Pencilled Casting verteenwoordig modelle, akteurs en stemkunstenaars, jonk en oud.

Oor die naam van die besigheid, vertel sy: “Dit is moeilik om 'n naam vir enige onderneming te kies, selfs al het jy ‘n idee. Ek moes 'n naam kies wat met die bedryf verband hou en waarvan die meeste mense die betekenis sou ken. Ek het “Pencilled” gekies omdat dit beteken “om ’n afspraak in te skryf” en dit is basies wat ek met dié onderneming doen.”

Haar raad aan kunstenaars, sakelui en dromers: “Wat ook al jy wil hê, begin by die begin. Dit is die enigste manier om uit te vind of dit suksesvol kan wees. ‘n 50% kans op sukses, is al wat jy kry. Maak die beste daarvan.”

Besoek pencilledcasting.com om die kunstenaars onder Pencilled Casting te sien.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!