In die voetspore van die slawe
Francoise Steynberg - Waar in die wêreld roep jy ‘n kelner soos ‘n jy ‘n kat roep?
Ks-ks, ks-ks, en dan kom kelner aangedrentel. Net in Ghana.
Toe ek in 2011 vir die eerste keer Accra saam met Air Namibia besoek het, is my hart deur hierdie energieke stad gesteel.
Ek voel oor Ghana soos oor Indië. Tussen al die geroesemoes word jy oorrompel deur die vrolikheid en malse kleurvolheid.
Om elke hoek en draai is kerke en skole. Moenie verbaas wees as jy ‘n besigheid sien met die naam Jesus my CEO Plumbing Shop & Works nie.
Die mans en vroue lyk almal mooi in hul bekende Kente-lap. Straatsmouse verkoop alles deur jou karvenster - van ys, grondboontjies en selfoonbatteryherlaaiers tot kokosneute.
Die tro-tro’s (helderkleurige minibustaxi’s wat trou-trou uitgespreek word) toet en vleg deur die verkeer. Voertuie in Ghana het wel truspieëltjies, maar die bestuurders gebruik dit bloot nie.
Moenie verbaas as ‘n kar of twee botstil in ‘n besige sirkel (hulle noem dit ‘n ‘roundabout’) staan nie. Een bestuurder was op sy selfoon en die ander ene het vir haar lipstiffie aangesit. Jy hou maar net verby.
Vir jare al wag ek vir die direkte vlugroete na Wes-Afrika. Vier keer moes ek ompad vlieg via Johannesburg wat my reistyd ‘n uitmergelende 12 ure gemaak het. Nou met Air Namibia se vlug via Lagos na Accra is my reistyd gehalveer en daar is geen teken van vlugvoosheid nie.
Ek het nou al die hoofstad deurkruis en die beeldskone landelike Noorde met sy groen woude beleef. Ek het al reggaesanger Bob Marley se vrou, Rita, se huis in Aburi gaan soek.
Dié keer het ons pad na die westekant gevat en ‘n paradys by Apam langs die Goudkus ontdek. ‘n Skoon strand wat soos ‘n poskaartfoto lyk.
Ons swem lekker in die turkooisblou see en ontspan in die hangmatte tussen die hoë, wuiwende palmbome met die chalets reg op die strand.
Uiteindelik kan ek die slawekastele sien wat ek al lankal op my emmerskoplys wou aftiek. Maar ek het nie geweet ‘n besoek aan die ou forte en kastele sou so ‘n skop in my maag wees en dat ek so emosioneel sou raak nie.
Die kastele van Elmina en Gold Coast is laag op laag geskiedenis uit toentertyd se dae. 'n Gruwelgeskiedenis van slawerny.
Die St. George-kasteel, oftewel São Jorge de Mina, alombekend as die Elmina-kasteel, is in 1482 as die eerste van baie kusforte deur die Portugese gebou waar slawehandel begin het.
Die aanhoudingselle is klein, koud, donker en muf. Ek voel of ek in die voetspore van die slawe stap. Harde voetspore op koue klipvloere.
By Gold Coast stap ek ook in die voetspore van die voormalige Amerikaanse presidentspaar Barack en Michelle Obama wat dit in 2009 besoek het.
By die selle se poort na die hawe waar die slawe op die bote moes klim, wonder ek hoe die mans van Wes-Afrika hul fris, lang lywe deur dié nou, lae uitgang moes kry.
Dit was die slawe se laaste voetspore op die sand van hul vasteland wat hulle in boeie moes stap.
Ek wonder hoe moes hulle voel om vir altyd afskeid te neem van hul families en Afrika om die verre vreemde in te vaar.
Ek wonder oor ons geskiedenis in Afrika en hoe sulke gruweldade ooit geregverdig kon word.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie