In elkeen 'n bietjie van alles
In elkeen 'n bietjie van alles

In elkeen 'n bietjie van alles

Henriette Lamprecht
As 'n verligte ma wat vas glo die son skyn oor almal en mense se regte is nie net iets wat iewers in 'n boek geskryf staan nie, probeer ek dieselfde beginsels aan my vroulike nasaat oordra.

Ek's toegewy daaraan om in haar vas te lê meisies en vrouens kan ook bakkies bestuur. Meisies en vrouens kan ook krieket speel en 'n maatskappy bestuur en bier uit 'n bottel drink en vleisbraai en boer en jeans dra en president word.

Nee, nêrens behalwe in 'n ou Huisgenoot uit die sestigs staan daar 'n vrou (mamma) moet net was, stryk en kosmaak nie. Pa pas net so oulik agter 'n wasmasjien, strykplank en stoof. Die feit dat die was-, stryk- en kosmaak nié net vir die vroulike geslag beskore is nie, word egter met gereelde teenstand op die skoolgrond deur haar seunsmaats begroet - 'n hele ander storie vir 'n ander dag!

Maak dit van my 'n goeie ma? Ek kon nog nêrens in enige tydskrif of boek bewyse vind dat ek op die regte pad is nie en die hoop beskaam nie dat my nasaat eendag wanneer sy haar hoogste sport behaal het, my vir dié verligte denke sal bedank nie.

So vang ek toevallig nou die dag 'n advertensie op TV. As ek reg onthou is dit iets soos: Daar is drie soorte ma's: die paranoïese ma, die versigtige ma en die Dettol-ma.

Miskien is ons almal maar 'n bietjie van alles.

As die kinders iewers heen gaan, by 'n vreemde maatjie gaan oorslaap vir die eerste keer, siek word en 'n mens weet nie dadelik dit is 'n verkoue of 'n gestampte toon of iets voorspelbaar nie, wanneer hulle op reis gaan, hetsy ver ry met 'n kar of vlieg na plekke waar daar moontlik 'n terroriste-bedreiging kan wees, 'n duik-ondervinding in die Rooisee, by Sharm-el-Sheik in Egipte, waar daar in die verlede verskeie terreuraanvalle was - dan is ek 'n paranoïese ma.

'n Ontsmettingsmiddel-ma is ek ook. Daardie kere wat jou kind 'n nare ondervinding gehad het, 'n maatjie wat lelik was met jou kind, 'n onderwyser wat onbedagsaam was en jou kind, dalk onwetend, maar steeds onnadenkend verneder het, 'n kind wat huil oor 'n dooie voëltjie wat uit 'n nes geskop is, 'n nerfaf knie, 'n selfbeeldprobleem oor 'n swak toetsuitslag, 'n meisie of seun wat nee dankie vir 'n “date” gesê het - dís wanneer 'n mamma die watte en ontsmettingsmiddels wil uithaal en daardie seerplek wil skoonmaak en hoop dat die natuur en tyd die nodige heling sal bring.

En dan die versigtige mamma:

Elke oomblik van elke dag vandat dit bevestig is dat jy swanger is, pas 'n mens met meer waaksaamheid daardie klein nuwe lewe op.

Dan word hulle groot, leer kruip en loop, en jy wroeg oor elke tree wat hulle gee - gaan hulle val of bly staan? Is alles waarop hulle kan val, buite bereik?

As hulle leer praat en dus verstaan wat hulle hoor, probeer jy beskerm so al jy kan teen lelike woorde op TV, in jou persoonlike geselskap, en sodra hulle begin lees en toegang tot die internet het, hulle beskerm teen negatiwiteit, pornografie, geweld op TV en op die rekenaar. As hulle begin “uitgaan” is ons versigtig om nie dadelik te sê “oor my dooie liggaam” nie, maar om vrye keuse toe te laat en hulle hul eie besluite te laat neem . . . tot op 'n punt.

En eendag vee jy jou oë uit en hulle is getroud, volwasse, onafhanklik en 'n grootmens vir wie jy, benewens 'n mamma, ook (hopelik) 'n vriend(in) is.

'n Dogter saam met wie jy haarkapper, skoonheidskonsultant en enige plek in die wêreld heen kan gaan. 'n Seun wat omgee en jou spesiaal laat voel.

Ja, ons is almal aldrie ma's in een gerol. Vir altyd.

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!