In Windhoek se somer skuil ’n engel
Liefste Meghan,
Gou ‘n paar gedagtes op die drumpel van vyf nuwe werksdae wat wie weet wat gaan inhou.
Vroegoggend in ons tuin skrik ek egter nie vir Maandag se blou pierangoë wat vir my loer nie: Hier’s net té veel kleur, geur en klank om bang te wees vir die swart onbekende van nog ‘n week.
Windhoek in die somer. Ai, my kind, wens jy kon dit weer beleef!
Brou vir jou koppie Ingelse tee, skop daai wit hospitaalskoene uit, kom ek vat jou hand en wys jou hoe die flou oggendsonnetjie die dwergtamaties se rooi wange môre soen.
Ruik jy opgewekte groen van kruisement? Die dou op die pynappelment langs die vars tiemie met haar piepklein ligpers blommetjies wat skaam wink? Teug diep, ounooi, laat die subtiele wekker van origanum en marjoram die spinnerakke van laasnag wegjaag.
Gou, gou! Kyk daar: Dis Boerneef, die rooivink. Hy’s nou maar ‘n week terug; kom elke jaar. Rammetjie-uitnek, raak hy.
Spesiaal vir jou, sing dié Boerneef van Cimbebasia:
“My hart blom wit vir die voshaarnooi
Pluk heide van die rooiste rooi
Vir hierdie einste voshaarnooi
Bellabint, my meisiekind,
Dis hartblom wit, dis heiderooi
Vir jou my voshaar meisiekind.”
Buig jou moeë nek en asem die dieppers van die pronkertjies in; dis manna vir die siel. Laat dit deur jou wese spoel saam met die hemel van die katjiepierang. Maak jou longe óóp vir die “Yesterday, today and tomorrow” om die sorge van eindelose Covid-dae weg te was.
Sjuutjies, jy sal die rooikopvinkies skrikmaak. Is hul sproetjies nie pragtig nie? Maatjies met tortelduif se kind, dié lot. Alewig besig om saadjies links en regs te laat spat, dié dat die sonneblomme sommer so wild orals blom. Groot, swaar bolle geel wat die tamheid van die lewe laat smelt.
Loer hier: Dis my nuwe baba, gemmerroosmaryn. Kan só ‘n klein stukkie diepgroen só ‘n volbors-aroma hê? Lekker saam met die basiliekruid, of hoe?
Het jy die nat, Namibiese modder gemis wat jou tone kielie? Buk af en vroetel in die grond: Dit wemel van erdwurms, want die aarde hier is gesond en vrugbaar en gretig om môre se wêreld ‘n beter plek te maak.
Niks heerliker as die reuk van lemoenbloeisels, nie né? G’n kommer staan ‘n kat se kans teen dié sitrussaligheid nie!
Daar in die weiligheid van die (Rooi)kappertjies skuil een van die huiskatte soos ‘n wafferse wolf. Nog nie geleer die blousysies is veels té uitgeslape vir hom nie. Elke dag se storie, dié bekruipery.
Ek bêre die beste vir laaste: Jasmyn vir my eie voshaarnooi. Die engel van geure. Trek dit diep in en weet dat my oggendwandelings hier in my tuin aan die suidpunt van Afrika soos ‘n beskermengel om jou hang.
Moenie dat die grys koue van die noordelike halfrond in jou hart gaan lê nie, pop. Maak toe jou oë, Bellabint, ek neem elke tree saam met jou.
Liefde
Ma

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie