Indiensnemingstelsel hersien
Indiensnemingstelsel hersien

Indiensnemingstelsel hersien

Die plan het ten doel om regverdige geleenthede vir alle werksoekers te bied en om aan die behoeftes van werkgewers te voldoen.
Ellanie Smit
Ellanie Smit



'n Skamele 20% van die 15 569 werksoekers, wat deur middel van die Namibië Geïntegreerde Indiensneminginligtingstelsel (NIEIS) tydens die 2017-'18-boekjaar geregistreer, het werk gekry.

Die minister van arbeid, mnr. Erkki Nghimtina, het die afgelope week toegegee net 3 116 mense kon sedert hul registrasie in diens geneem word.

Hy moes vandeesweek tydens sy motivering vir sy ministerie se begrotingspos in die Nasionale Vergadering (NV) erken dié toedrag van sake toon daar bestaan ernstige strukturele uitdagings wat hierdie indiensnemingstrategie betref.

Die plan het ten doel om regverdige geleenthede vir alle werksoekers te bied en om aan die behoeftes van werkgewers te voldoen.

Hy het van die tekortkominge toegeskryf daaraan dat registrasie nie verpligtend is nie. Daarnaas hoef werkgewers ook nie elke werksgeleentheid wat in die land geskep word, aan te meld nie.

Nghimtina het voorts te kenne gegee dit het aan die lig gekom dat baie werknemers nie deur die NIEIS gewerf word nie en eerder aangestel word op grond van mondelinge aanbevelings, persoonlike kontakte of regstreeks van 'n tersiêre instelling, die straat of die internet af.

'n Ander uitdaging, sê Nghimtina, spruit uit 'n tekort aan tersaaklike vaardighede wat benodig word om ekonomiese groei te bewerkstellig.

“Werkskepping vereis 'n ernstige en teikengerigte benadering en nie net politieke en sosiale praatjies sonder om lewensvatbare alternatiewe aan te bied nie.”

Volgens die minister het die regering tot dusver verskeie pogings aangewend om 'n gunstige omgewing vir werkskepping daar te stel. Dit het egter nie die gewenste uitwerking gehad nie.

“As die ekonomie nie kan groei en die nodige werksgeleenthede skep nie, moet dit herontwerp word.”

Om al dié uitdagings die hoof te probeer bied, is sy ministerie tans besig om NIEIS te hersien om veral te verseker dat elke nuwe werksgeleentheid wat ontstaan, geboekstaaf word.

Dít sal daarvoor sorg dat die ware stand van sake wat werkskepping betref, weerspieël word.

In hierdie stadium is 'n drie jaar lange program van tegniese samewerking met Suid-Korea, wat in Mei afskop, deel van die plan, sê hy.

Sy ministerie voorsien ook dat Namibië gaan baatvind by dié vennote se suksesvolle implementering van hul land se indiensnemingsbeleid.

Nghimtina het voorts bekend gemaak hulle het reeds begin met navorsing in samewerking met die internasionale arbeidsorganisasie (ILO) om die lewensvatbaarheid van 'n nasionale minimumloon vir Namibië daar te stel.

Hierdie navorsing is genoodsaak daardeur dat baie Namibiërs steeds lone ontvang wat nie met die aard van hul werk en hul produktiwiteitsvlakke strook nie.

Die voorgenome Namibië Produktiwiteitsentrum sal daarop gemik wees om 'n balans te handhaaf tussen vernuwing en billike werk om Namibië een van die mees mededingende ekonomieë in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) te maak, het hy ook gesê.

Volgens hom sal 'n bedrag van N$32,7 miljoen vir al hierdie bedrywighede benodig word.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer