#Indigiwalk Namibia in die pyplyn

Protesoptrede om die Kavangostreek teen olie-eksplorasie te beskerm kom eersdaags na Namibië.
Augetto Graig
Augetto Graig – Die pad na 'n beter wêreld is eensaam en lank en mnr. Craig (Q7) Beckett, 'n Suid-Afrikaanse Khoisan-jagter, geneser en menseregte-aktivis, sal dit per voet aanpak.

Vroëer vanjaar het hy vanaf Knysna tot in Kaapstad gestap om saam met mede-aktiviste 'n klagskrif teen die soektog na olie in die Okavango by die konsulaat-generaal van Namibië te oorhandig. Nou beplan hy 'n soortgelyke protesoptrede in Namibië.

Die aanvanklike plan is om langs twee roetes vanaf Rundu na Windhoek te stap – een roete deur Gobabis en die ander deur Otjiwarongo vanaf Grootfontein. Beckett is 'n kampvegter vir die sosiale media-bewegings #SaveTheOkavangoDelta, die #savethesan, #frackfreenamibiabotswana, #firstpeoplesouthernafrica en #thesanwontmove. Hy het ook vroeër van jaar geld vir sanitêre doekies ingesamel deur sy #pads4ourgirls-stapveldtog.

Nou bring hy die #indigiwalk-inisiatief na Namibië om die belangrikheid te beklemtoon van die gebied in Namibië en Botswana waar eksplorasie vir olie tans toegelaat word.

Dié gebied is vir die San heilig en 'n laaste skuiling teen eeue oue onderdrukking en herhaalde volksmoord.

“Ons mense en kultuur word bedreig deur ReconAfrica en groot olie- en gasontwikkeling,” lees die groot oranje “Khoe, San en Vriende”-vlag wat hy saambring.

“'n Kleinerige span sal saamkom om die amper 1 000 km vanaf die noordooste van Namibië af na Windhoek te loop. Die stappers sal dorpies besoek en met die jeug praat oor volhoubare inheemse ontwikkeling en omgewingsbewaring, die nuutste oor bestaande voedselinisiatiewe en -metodes en beginsels van natuurlike groei van voedsel. Dit als in 'n poging om die Kanadese olie- en gasmaatskappy, Reconnaissance Energy Africa (ReconAfrica) te keer voor hulle die ekostelsel en die gemeenskappe met hul boorbedrywighede vernietig. Oor die volgende weke sal my span, in samewerking met organisasies wat die inisiatief om die beskerming van die Okavango-vleilande ondersteun, ons optrede haarfyn beplan,” het hy in die sosiale media aangekondig.

Internasionaal het die beroep om die belangrike vleilande te red selfs steun van die Hollywood-akteur en kampvegter vir omgewingskwessies, Leonardo DiCaprio, ontvang.

Die Amerikaanse akteur het op 12 Februarie die National Geographic-verslag dat Recon­Africa binne 'n rivierbedding boor wat aan die Okavango-vleilande gekoppel is, aan sy 19,5 miljoen volgelinge getwiet. Hy het spesifiek die hutsteken #SavetheOkavangoDelta herhaal.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer