Indonesiu00eb: 'Elke minuut bring nu00f3g lyke'
Indonesiu00eb: 'Elke minuut bring nu00f3g lyke'

Indonesië: 'Elke minuut bring nóg lyke'

Talle mense is steeds onder puin begrawe en die dodetal kan volgens owerhede nog skerp styg.
“Elke minuut bring ’n ambulans nóg lyke.”

Só het Risa Kusuma, wat saam met haar koorsagtige baba by die ontruimingsentrum in Palu op die eiland Sulawesi in Indonesië skuil, Sondag aan AFP gesê.

Sy is een van die angsbevange oorlewendes wat die naweek in die opelug in dié stad behandel is nadat beamptes hulle aangeraai het om nie huis toe te gaan nie.

Die dodetal weens die aardbewing van 7,5 wat Vrydag 10 km ondergronds naby Sulawesi plaasgevind het, en die daaropvolgende tsoenami, staan op 832, berig BBC.

Sterk naskokke het die naweek voortgeduur.

Talle mense is steeds onder puin begrawe en die dodetal kan volgens owerhede nog skerp styg.

Afgesien van huise, het die aardbewing ook ’n inkopiesentrum, ’n moskee, ’n hotel en ’n brug verwoes.

’n Lugverkeerbeheerder by die stad se lughawe is dood toe hy gehelp het dat ’n vliegtuig veilig ná die aardbewing opstyg.

“Skoon water is skaars. Die winkels word oral geplunder,” het Kusuma gesê.

Pres. Joko Widodo van Indonesië het die geteisterde gebiede in Palu besoek.

Dit sluit Talisestrand, ’n gewilde toerismegebied wat erg deur die tsoenami geraak is, in.

Baie mense was op die strand ter voorbereiding van ’n fees toe die golwe van tot 6 m hoog breek.

Video’s wys hoe mense paniekbevange vlug.

Kommunikasie is volgens Widodo een van die dinge wat nou dringend aandag moet kry.

TALLE INWONERS VERMIS

Talle van die stad se 335 000 inwoners is steeds vermis en vermoedelik in die puin van geboue vasgekeer.

Reddingswerkers het met hul hande gegrawe om 24 mense uit die puin van die Roa-Roa-hotel te trek.

Hulle vermoed egter dat tientalle steeds vasgekeer is.

Lyke lê in die stad se strate en beseerdes word in tente behandel omdat die stad se hospitale beskadig is.

Hulle het groot masjinerie nodig om die puin op te ruim, het Muhammad Syaugi, hoof van die nasionale soek-en-reddingsagentskap, Sondag aan AFP gesê.

“Ek het my personeel op die grond, maar dit is onmoontlik om net op hul krag staat te maak.”

Ander Bachmid (39) het aan AFP gesê hulle almal het paniekbevange uit hul huise gehardloop toe die aardbewing tref.

“Die mense hier het hulp nodig: kos, drinkgoed, skoon water. Ons weet nie wat om vanaand te eet nie.”

Ook in Poso, ’n vyf uur lange rit van Palu, is voorraad aan die opraak.

Staatsbeheerde petrolstasies het weens ’n tekort aan brandstof toegemaak, winkels het min kos oor en dit is moeilik om gebottelde water te vind.

Die impak op Donggala, met 300 000 inwoners, is steeds onduidelik.

Die Rooikruis raam sowat 1,6 miljoen mense is deur die aardbewing en tsoenami geraak. “Dinge kan baie erger raak,” het die organisasie in ’n verklaring gesê. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer