Indonesiërs op 'n ysterperd deur Afrika

'n Indonesiese paartjie reis tans deur Namibië op 'n motorfiets as deel van hul Wheel Story-toer.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg



Ware vryheid is om nie bang te wees om jou gemaksone te verlaat nie.

Dít is die boodskap aan jongmense van avonturier en bekende motorfietsryer van Indonesië, Mario Iroth, en sy meisie, Lilis Handayani (albei 31), wat tans op hul ysterperd deur Namibië reis.

Mario en Lilis is besig om van Suid- na Noord-Afrika te deurkruis en het op Vrydag 17 November by die Noord­oewer-grenspos van Suid-Afrika af ingekom.

“Ons eerste indrukke van Namibië is hoe mooi die woestyn is. Die oranje kleur is asemrowend,” sê die avontuurlustige paartjie.

Hulle reis tans in Namibië en gaan Sossusvlei, Swakopmund, die Spitzkoppe en moontlik die Etosha Nasio­nale Park besoek.

“Ons doel is om verskillende kulture en die natuur te ontdek. Ons wil ambassadeurs vir Indonesië wees, maar ook Indonesiërs van ons ervaringe in Namibië vertel,” sê die paartjie.

“Een ding wat baie anders in Namibië as Indonesië is, is Namibië se klein bevolking. Nog iets wat asemrowend in Namibië is, is die melkweg wat so helder is.”

Hulle ry van soggens tot namiddae agt ure lank en sowat 350 km per dag. Hulle kampeer en reis lig met net die nodigste soos 'n tent, dun opblaasmatrasse, ligte kookgerei, min klere wat gou droograak en ekstra binnebande en hersteltoerusting vir die motorfiets.

Tot dusver is hulle beïndruk met die kampeerplekke in die suide van Namibië en veral langs die Oranjerivier.

Die kokerbome by die Garas Park-ruskamp noord van Keetmanshoop is vir hulle ook indrukwekkend. Die woord “kokerboom” het ook Indonesiese en Nederlandse wortels. Hulle gebruik die Overland-toep om oral kampeerplekke te vind.



WHEEL STORY

Mario, oorspronklik van noordelike Sulawesi, is die stigter van Wheel Story en 'n bekende op TV in ­Indonesië met sy wêreldreise op 'n motorfiets.

Die rede waarom hulle op 'n motorfiets ry, is “omdat jy meer sien en dit makliker is om nuwe dinge te ontdek”. Honda in Djakarta borg hul reis deur Afrika met 'n Honda CRF250L wat geskik is vir die ruwe terrein van Afrika.

Lilis, ook 'n avontuurlustige en gesoute rugsakreisiger wat nie vol fiemies is nie, neem die foto's en video's vir Wheel Story.

Mario het sedert 2013 al deur 24 lande met 'n motorfiets sowat 85 000 km ver gereis.

In 2017 duur sy missie voort om 62 lande met 'n totale afstand van 60 000 km in 400 dae te deurkruis.

Mario het sy soloreis van vyf maande deur die westelike deel van Indonesië, asook Maleisië, Singapoer, Thailand, Kambodja en Viëtnam in Wheel Story 1 gedokumenteer.

In 2014 het hy vir Lilis, oorspronklik van Soematra, en 'n ywerige avonturier en rugsakreisiger in Bali ontmoet nadat hy vir agt jaar op die eiland in die hotelwese gewerk het. Met Wheel Story 2 het hy haar saamgenooi en hulle het deur die oostelike deel van Indonesië gereis.

Daarna het Wheel Story 3 in 2015 gevolg toe hulle vanaf Bandun in Java na Parys, in Frankryk, met 'n motorfiets gery het.

Wheel Story 4 het in 2016 gevolg toe hulle deur Nieu-Seeland, Australië en Timor Leste gereis het.

Daarna het hulle op Afrika besluit, “want dié vasteland kan net baie ­interessant en uitdagend wees”.

Hulle het in Oktober na Johannesburg in Suid-Afrika gevlieg met die motorfiets wat per boot in Durban aangekom het. Hul Kaap tot Kaap-reis het amptelik vanaf Kaap Agulhas aan die suidpunt van Afrika afgeskop en eindig in Nordkapp in Noorweë.

Van Suid-Afrika af het hulle eers in Mosambiek en Swaziland gedraai voor hulle na Namibië gekom het.

Begin Desember gaan hulle via Tsumkwe Botswana toe waar hulle gaan kuier by 'n ou vriend en skoolhoof van die Bonabametsi-skool in Shakawe.

“Ek het die skoolhoof in Bali ontmoet toe hy van Botswana af na Bali met 'n motorfiets gery het en ons het vriende geraak. Nou is dit my beurt om vir hom te gaan kuier en sy skool is een van ons liefdadigheidsorganisasies wat ons ondersteun,” vertel Mario.

Hulle sal sporttoerusting, sokkerballe en boeke aan die skool skenk. Nóg 'n liefdadigheidsorganisasie wat hulle ondersteun, is Rainbow Readers, wat boeke aan skoolbiblio­teke verskaf.

Ander lande in Afrika wat hulle gaan besoek, is Zambië en daarna die oostelike Afrikalande, behalwe Somalië.

Hul tog sal dan in Alexandrië in Egipte eindig.



TOEKOMSPLANNE

Vandaar sal die twee se motorfiets na Turkye gestuur word en hulle sal eers terugkeer na Indonesië om vir visums vir Europa en Asië aansoek te doen. Einde Maart 2018 volg die nuwe reis vanaf Turkye deur Europa na Ierland, Engeland en dan die Skandinawiese lande waar die Kaap tot Kaap-roete by Nordkapp afgesluit sal word met die auroraligte wat hulle wil sien.

Dan volg oostelike Europa en Rusland. Maar dit is nog nie die einde nie. Hul laaste lang reis sal die ­Amerikas wees vanaf Alaska tot ­Argentinië.

Waar gaan dit eindig?

“Eendag wil ek vir ons 'n lodge bou op die mooiste eiland van Indonesië - Sumba - naby die idilliese Flores- en Komodo-eiland, en motorfiets­ryers van oraloor die wêreld as toeriste verwelkom,” sê Mario.

En dan gaan hy sy boek oor al sy reiservaringe skryf.

Is hulle nie bekommerd oor hul veiligheid nie? “Ons is al vier jaar op die pad en die enigste keer wat ons beroof is, was nogal in Indonesië.

“Ons glo as jy iets positief bydra, kry jy iets positief terug. Dit is juis die doelwit van ons avonture.”

Die paartjie se reise kan gevolg word by Mario Iroth (Youtube), @wheelstoryoflife, Wheel Story (op Facebook) of www.wheelstoryadv.com.

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!