Indongo en Burns verenig hul titels in April

Boks
Andrew Poolman
Julius Indongo het die kans om die mees gesogte junior weltergewigbokser ter wêreld te word – maar hy sal eers by Ricky Burns in 'n supergeveg op sy tuiswerf in Glasgow moet verbykom. Dis 'n plek waar die Skotse bokser altyd op 'n geesdriftige skare kan staatmaak wat hom met luidrugtige doedelsakke begroet.

Die nuus oor die geveg op 8 April is gister in die Britse boksmedia gebreek met die aankondiging dat ITV die televisieregte verseker het vir die skou­spel wat in Glasgow se Hydro Arena aangebied sal word. Die promotor Eddie Hearn sal glo volgende week die amptelike aankondiging doen.

Burns, houer van die WBA se wêreldtitel, kom teen die Namibiër te staan wat die IBF en IBO se kampioen is.

Die wenner sal hom vir 'n mega-geveg in Las Vegas kan vetsmeer.

Burns – 'n driemalige wêreldkampioen wat onder meer in 2012 'n punte-oorwinning teen Paulus (The Hitman) Moses van Namibië behaal het – se hoop was gevestig op 'n ontmoeting met die Amerikaner Adrien Broner, maar dié se dagboek is intussen met 'n botsing in Februarie teen die onbekende Adrian Granados gevul.

Vir Burns was daar selfs sprake van 'n supergeveg teen die legendariese Manny Pacquiao, nadat die Filippyn se afrigter Freddy Roach laas naweek van dié moontlikheid melding gemaak het.

Die Britse promotor Eddie Hearn het die praatjies oor Pacquiao vinnig gesmoor, maar Burns is nou die gunsteling om nog twee wêreldgordels by sy versameling te voeg en sodoende die nommer een teiken in die gewigsklas 63.5 kg (ook bekend as superliggewig) te word.

Burns se bestuurder Alex Morrison het erken dat 'n skouspel in Las Vegas op die lange duur die mikpunt is. Sy vegter sal egter nie sy oog van Indongo as die onmiddellike bedreiging afhaal nie.

Die onoorwonne Indongo het die gewigsklas geskud met 'n sensasionele oorwinning in Moskou toe hy die kragtige en hoog aangeskrewe Eduard Troyanovsky binne 40 sekondes met 'n linkerhou katswink geslaan het.

Die skokoorwinning – in sy eerste geveg buite sy geboorteland – het die 33-jarige Namibiër vierkantig op die wêreldtoneel geplaas.

Morrison sê: “Indongo het teen die Rus gewys hoe gevaarlik hy is. Hy is al platgeslaan, maar het in 21 gevegte onoorwonne gebly en hy mag nie onderskat word nie.

“Hierdie is 'n groot geleentheid vir Ricky. Dis 'n kans om sy hande op drie superliggewig wêreldgordels te kry. Dit sal meebring dat al die beste boksers ter wêreld aan sy deur sal kom hamer.

“Indien hy suksesvol is, lê 'n geveg in Vegas hopelik vir Ricky voor. Dit is iets waarvan hy nog altyd gedroom het en dit is binne sy bereik as hy met Indongo kan afreken.”



PLANNE GESMEE

Burns en sy kamp is besig om hul planne vir 2017 te smee met verskeie opwindende gevegte wat vasgeknoop kan word.

Adrien (The Problem) Broner bly sy nommer een teiken, maar 'n herontmoeting om op die Amerikaner Terence Crawford wraak te neem, kan ook 'n latere opsie wees. Die veteraan en mede-Brit Paulie Malignaggi is ook 'n moontlikheid.

Morrison sê: “Vir Ricky is verskeie groot gevegte in die vooruitsig, maar die heel belangrikste is sy volgende een teen Julius Indongo.”

Op 33 jaar is Burns ewe oud as Indongo. Die Skot is grootliks afgeskryf nadat hy opeenvolgend teen Crawford en Dejan Zlatican verloor het, maar met vier oorwinnings op 'n streep is hy met mening terug.

In die Britse media word uitgewys dat Burns in sy loopbaan in verskeie hewige boksgevegte betrokke was – insluitend sy laaste een teen Kiryl Relikh laas Oktober. Die Belo-Rus het sy ritme vroeg gevind en het 'n paar rondes oorheers voordat “Rickster” die tellinghouers met 118-110 en 116-112 (twee keer) oortuig het.

Hoewel Burns (41 gewen, vyf verloor) gewis nog ver van uitgebrand is, is daar wel kritici wat wonder hoeveel hy nog in die tenk oor het ná die opbou-effek van die straf wat hy sover verduur het.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer