Indongo teen Crawford: wie is in voorgevegte?

Boks
Andrew Poolman
Andrew Poolman



Twee voormalige aanspraak­makers op swaargewig wêreld­titels is in aksie op die voorprogram vir Saterdagaand se skouspel van die promotors Top Rank in Lincoln, Nebraska waar Namibië se Julius Indongo teen Terence Crawford van die VSA die hoofgeveg sal wees.

Miljoene oë wêreldwyd sal op die uitslag gerig wees wanneer die twee konings van die superliggewigklas (63.5 kg, ook bekend as junior weltergewig) al vier gordels op die spel plaas. Indongo is die baas van die WBA- en IBF-titels, terwyl Crawford die WBO en WBC se kampioen is.

'n Opwindende vooruitsig van die Oekraïne veg in die hoofvoorgeveg. Uit die Oos-Europese land wat die Klitschko-broers en vele ander kampioene opgelewer het, kom die 30-jarige ligswaargewig Oleksandr Gvodzyk, wie se indrukwekkende slaankrag hom tot dusver 'n skoon beroepsrekord van 13 gevegte (elf uitklophoue) besorg.

Gvodzyk sal sy Noord-Amerikaanse titel (NABF) teen Craig Baker van die VSA verdedig, wie se rekord op 17-1 (13 uitklophoue) staan. Dit is die enigste ander titelgeveg op die voorprogram.

• Die superveergewig Nicholas Walters maak sy terugkeer nadat hy laas November sy eerste nederlaag in die beroepskryt gely het.

Walters (26 gewen, een verloor, een gelykop), bekend as Axe Man, se onoorwonne rekord het tot 'n einde gekom toe Vasyl Lomachenko hul geveg in Las Vegas só gedikteer het dat die Jamaikaan ná sewe rondes tou opgegooi het.

Walters word volgende teen Arturo Santos Reyes (19-8) van Mexiko opgeweeg.

• Die twee swaargewigte op die voorprogram kan as sogenaamde hekwagters bestempel word – met ander woorde, die klas ervare boksers by wie jy eers moet verbykom voordat jy met reg aanspraak op die titelhouers kan maak.

Dillian Whyte (20-1, 15 uitklophoue) is bekend as die Body Snatcher. Sy enigste nederlaag was in Desember 2015 teen sy mede-Brit Anthony Joshua wat intussen die IBF en WBA se wêreldkampioen geword het.

In Whyte se pad sal die Amerikaner Malcolm Tann (24-5) staan.

Nog twee Amerikaanse swaargewigte wat mekaar op die voorprogram takel, is Bryant Jennings teen Daniel Martz (bekend as The Mountain, 15-4).

Jennings (19-2, tien uitklophoue) se enigste nederlae as beroepsvegter was in sy laaste twee gevegte in 2015, toe hy vir Wladimir Klitschko uitgedaag en met punte verloor het, voordat die gevaarlike Kubaanse ouman Luis Ortiz hom in die sewende ronde uitgeslaan het.

• Die res van Saterdag se voorgevegte:

Weltergewig: Mike Reed (VSA, 22-0) tn Robert Frankel (VSA, 35-17-1).

Weltergewig: Mike Alvarado (VSA, 37-4) tn Sidney Siqueira (Brasilië, 26-12-1).

Superveergewig: Kevin Ceja Ventura (VSA, 7-0) tn Baltazar Ramirez (Mexiko, 3-3).

Ligswaargewig: Steven Nelson (VSA, 8-0) tn Cesar Ruiz (Mexiko, 5-5).

Veergewig: Shakur Stevenson (VSA, 2-0) tn David Michel Paz (Argentinië, 4-3-1).

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!