Inenting skop mu00f4re af
Inenting skop mu00f4re af

Inenting skop môre af

Die eerste fase van Namibië se inentingsveldtog teen Covid-19 duur tot 16 April.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht



Namibië se nasionale immuniseringsprogram teen Covid-19 skop môre uiteindelik af, nadat die eerste besending entstowwe uit China laat Dinsdagmiddag op die Internasionale Lughawe Hosea Kutako geland het.

Die eerste fase van die program waartydens sekere teikengroepe in die bevolking eerste aan die beurt kom, duur van vandag tot 16 April. In die eerste fase word net twee streke, Khomas en Erongo, geteiken wat die episentrums van die pandemie was.

Groepe wat eerste geteiken word, sluit in gesondheidswerkers aan die voorpunt van die pandemie, gesondheidswerkers in gemeenskappe, persone tussen die ouderdomme van 18 en 59 jaar, persone in nabye werksomstandighede, dié betrokke by oorgrensvervoer insluitend vrag­motor- en busbestuurders en vlieë­niers, personeel by grensposte, polisiebeamptes, joernaliste, lede van die diplomatieke korps, werkers in die vis- en mynbedryf, geestelike en tradisionele leiers, mense wat met gestremdhede saamleef, minderheidsgroepe en vlugtelinge.

Persone wat uitgesluit word, is mense met onderliggende mediese toestande, dié ouer as 60, sowel as swanger vroue en vroue wat borsvoed. Dit is omdat Namibië eers nog inligting wil inwin oor die gebruik van Sinopharm by dié groepe.



DIé PUNTE INGESPAN

In Khomas sal die immuniserings by die Windhoek Sentrale en Katutura-hospitale plaasvind, sowel as Rhino Park en Lady Pohamba Private Hospitaal.

In die Erongostreek is die geoormerkte punte die staatshospitale op Walvisbaai en Swakopmund, sowel as die private hospitale Cottage en Welwitschia.

Die entstof wat gebruik word, is die Sinopharm SARS-CoV-2-entstof wat in twee dosisse van 0,5 ml elk op dag 0 en dan weer 28 dae later toegedien sal word. Persone wat Covid-19 onder lede het, moet eers 90 dae wag voordat hulle hul eerste dosis kan ontvang.

Volgens die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, is Sinopharm met sukses in lande soos China, ­Seychelle, Marokko, die Verenigde Arabiese Emirate, Zimbabwe en ander ­uitgerol.

Met verwysing na enige nadelige uitwerking van die entstowwe het die minister gesê die persoon wat ingeënt word, sal vir 30 minute ná die immunisering dopgehou word om te sien of hy of sy enige newe-effekte ervaar.

Persone wat dit wel ervaar, word volgens die minister aangemoedig om dit telefonies aan te meld of die naaste gesondheidsinstelling te nader.

Shangula het 'n beroep op Namibiërs gedoen om die immuniseringsveldtog te verwelkom en om hulself beskikbaar te stel om ingeënt te word.

Hy het verwys na die landswye polio-uitbreking in 2005 waartydens 'n nasionale immuniseringsveldtog teen die siekte van stapel gestuur is.

“Vandag word ons deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) as 'n poliovrye land beskou. Ons beplan om dieselfde met Covid-19 te doen, sodat ons na normaal kan terugkeer. Kom ons werk in die belang van alle Namibiërs saam,” het hy gesê .



'BUITENGEWOON'

Volgens Shangula is die voorbereiding en reaksie tot Covid-19 een van die “mees buitengewone programme” wat die regering nóg sedert onafhanklikwording geïmplementeer het.

Hy het die ontvangs van die entstowwe as 'n “geskiedkundige mylpaal” in die stryd teen Covid-19 beskryf.

Volgens die minister is die skenking van Covid-19-entstowwe deur China 'n demonstrasie van “ware solidariteit en vriendskap tussen twee lande”.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!