Inentings teen nuwe bek-en-klouseer begin
Inentings teen nuwe bek-en-klouseer begin

Inentings teen nuwe bek-en-klouseer begin

Twee reekse inentings sal voorts van stapel gestuur word en die hoop is dat die hele Zambezistreek gedek kan word.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh

Inentings teen die nuwe bek-en-klouseer virusstam in die Zambezistreek sou na verwagting oor die laaste twee dae begin het. Dié ingryping sal deur ’n tweede reeks inentings opgevolg word.

Mnr. Jona Musheko, woordvoerder van die ministerie van landbou, water en grondhervorming, het dié week bevestig dat hulle entstof teen die nuwe serotipe-O-virusstam ontvang het en toe finale logistieke reëlings getref het om met inentings te begin.

Die hoofveeartsenybeampte by die ministerie van landbou, water en bosbou, dr. Albertina Shilongo, het vroeëer gesê Namibië sal die entstof vanaf die Botswana Instituut vir Entstof verkry.

“Die inenting sal voortgaan totdat ons die hele streek gedek het. Dit beteken ons sal daarna weer inent, minstens twee maal,” het Musheko gesê en bygevoeg dat die media op hoogte van sake gehou sal word.

Dit volg nadat minstens 5 000 beeste in die Zambezistreek met die nuwe virusstam van bek-en-klouseer besmet is. Die stam is nog nooit tevore in Namibië aangemeld nie en is dodeliker as ander stamme.

ONTDEKKING

Shilongo het gesê die ministerie het tydens sy bekamping van die uitbreking van bek-en-klouseer, wat in Junie in die Zambezistreek waargeneem is, die voorkoms van die serotipe-O-virusstam bespeur.

Shilongo sê hulle vermoed dié virusstam het Namibië vanaf Zambië binnegekom toe vee die grens onwettig oorgesteek het.

“Ons het ’n nuwe stam van bek-en-klouseer, serotipe-O ontdek, wat nog nooit tevore in Namibië waargeneem is nie. Ons het ’n genotipe-ontleding gedoen en gevind die serotipe-O word geassosieer met ’n tipe wat in Zambië voorkom.”

Op die vraag oor wat die verskil is, het sy gesê serotipe-O is dodeliker, omdat dit blase in die beeste se bekke veroorsaak wat daartoe lei dat hulle van die honger vrek.

Shilongo sê vee wat onwettig oor grense beweeg, bly ’n uitdaging as dit kom by die uitwissing van bek-en-klouseer.

“Bek-en-klouseer sal voortgaan om ’n uitdaging te wees solank die grens oopbly en mense dit kan oorsteek net wanneer hulle wil, sonder om van die grensposte gebruik te maak,” het sy gesê.

“Hierdie is ’n groot bedreiging wat voortdurend van die buurlande sal inkom, al slaag ons ook daarin om die virus se verspreiding te keer en selfs aan ons kant van die grens uit te wis.”

Terwyl die Zambezistreek tans erg onder die virus deurloop, het die ministerie die nodige stappe gedoen om seker te maak dit versprei nie ook na ander streke nie.

Die jongste uitbreking in Junie volg kort nadat beperkings in April op die beweging van diere met gesplete hoewe binne die bek-en-klouseer-beskermde gebied opgehef is.

Uitbrekings van bek-en-klouseer het sedert September verlede jaar in nege kiesafdelings voorgekom.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer