Inentingspyne

Klagtes is ontvang van immuniseringspunte wat of te min of geen entstowwe het nie, of daar word vir immuniserings­paspoorte gewag.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – “Ons hospitaal loop oor. Ons het vanaand nie genoeg beddens vir Covid-19-pasiënte nie en hulle moet noodgedwonge in die noodsaal lê. Waar lê my prioriteit? Ons eerste prioriteit is ons pasiënte.”

Die hoofbestuurder van die Lady Pohamba Private Hospitaal in Windhoek, me. Hannelie Botha, het beklemtoon die hospitaal het aangebied om soos in die geval van die Rhino Park Private Hospitaal die ministerie van gesondheid en maat­skaplike dienste se immuniseringsveldtog teen Covid-19 te ondersteun, maar dat só 'n stap in hierdie stadium teen 'n prys kom.

“Ek moet hoogs gekwalifiseerde mense uit sale onttrek wat vol pasiënte is om toesig oor die immuniserings te hou. Ek moes agt personeellede uit die sale onttrek en vir 'n suster wat reeds verskeie ­aandskofte gewerk het, smeek om net by die immuniserings te kom toesig hou.”

Volgens Botha is vrywilligers dringend nodig om met onder meer die stempel van immuniseringspaspoorte te help. “Dis nou 'n kwessie van 'wie kan help'. Ons het dringend vrywilligers nodig, want my eerste prioriteit is my pasiënte.”



KLAGTES VAN NOORDE TOT SUIDE

Botha het gereageer op verskeie klagtes wat van die publiek ontvang is dat sake by immuniseringspunte nie vlot verloop nie. Dit sluit in dat entstowwe laat of glad nie opdaag nie, paspoorte te min is en dat 'n tekort aan spuitnaalde ondervind is.

Lesers het ook laat weet van ent­stowwe wat nie op Okahandja be­skikbaar was nie, nadat 'n boer en sy werkers reeds vroegoggend opgedaag en tot laatmiddag moes wag, net om te hoor hulle kan nie ingeënt word nie.

Ook uit Oranjemund is berigte ontvang dat “die minimum entstowwe” vir die gemeenskap ontvang is en dit 'n kwessie is van “wie word gespuit en wie word gelos”.

Klagtes is ook dat te min entstowwe na die twee private immuniseringspunte gestuur word, ten spyte van die feit dat die getalle van besprekings aan die ministerie deurgegee is en met die versoek van ekstra entstowwe vir mense wat nie afsprake gemaak het nie.

Spanne van die ministerie daag na bewering ook onvolledig op, met die private hospitale wat dan noodgedwonge van hul eie personeel uit sale moet onttrek om by die immuniseringspunt diens te doen.

Me. Esme Botes, voorsitter van die Namibiese Vereniging vir Private Gesondheidsgeriewe (NAPH) en direkteur van Rhino Park, het op haar beurt beklemtoon die immuniseringsveldtog is nie 'n private projek nie, maar geskied totaal onder die vaandel van die ministerie van gesondheid.

“Ons het geriewe geskep om te help en te ondersteun, maar dit is steeds onder die vaandel en riglyne van die ministerie se immuniseringsprogram,” het sy gesê.

Botes sê “ons help waar ons kan” en die twee private hospitale het selfs geld in 'n besprekingstelsel belê om te verseker dinge verloop vlot.

Die hoof van die Covid-19-taakspan verantwoordelik vir die uitrol van die landwye immuniseringsveldtog, me. Petronella Masabane, het by navraag erken dit is 'n “reuse-operasie” midde die voorsiening van ander gesondheidsorgdienste en dat probleme te wagte is. Sy het egter beklemtoon “die hantering van die probleme is wat belangrik is”.

Masabane het ook vir spesifieke besonderhede gevra oor immuniseringspunte wat uitdagings ervaar, om dit op te volg.

Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, het gister sy eerste dosis van die AstraZeneca/Covishield-entstof teen Covid-19 by die Windhoek Sentrale Hospitaal ontvang.

Teen druktyd gister was 14 069 Namibiese inwoners teen Covid-19 ingeënt.

[email protected]



FOTO
Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, het gister by die Windhoek Sentrale Hospitaal sy eerste dosis entstof teen Covid-19 ontvang. FOTO TANJA BAUSE

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!