Inflasie beteken nié rentekoers gaan gou styg
Hanlie Stadler - Inflasie gaan oor die volgende paar maande styg en kan binnekort weer hoër as 5% wees, maar dit beteken nié die Reserwebank gaan in Julie die rentekoers verhoog nie.
Die meeste ontleders wat kommentaar gelewer het op Statistieke Suid-Afrika (SSA) se inflasiesyfers vir Mei reken dat die rentekoers eers in 2019 weer gaan styg.
Die SSA het Woensdag bekend gemaak dat die inflasiekoers in Mei 4,4% was, wat effens laer is as die 4,5% in April en ook laer as die konsensusverwagting van 4,6%.
Annabel Bishop, Investec-ekonoom, skryf die effens laer inflasiekoers toe aan die feit dat kospryse met slegs 3% gestyg het. Dit het die skerp styging in die petrolprys – wat 9,4% hoër is as ’n jaar gelede – teengewerk.
Veral die daling in die prys van brood en mieliemeel – ’n kategorie wat ’n groot gewig in die inflasiemandjie dra en waarvan die gemiddelde prys met 4,1% gedaal het – het kospryse in toom gehou.
Die Nedbank-ekonome Busisiwe Radebe en Dennis Dykes reken in hul verslag dat inflasie binne die volgende paar maande ’n hoogtepunt vir die jaar van 5,3% gaan haal en Bishop verwag 5,5%. Dis weens:
· Die skerp styging van 82c per liter in die petrolprys in Junie;
· “Die residuele uitwerking” van die verhoging van belasting op toegevoegde waarde (BTW) tot 15% in April;
· Die verwagte styging in kospryse oor die volgende paar maande; en
· Die verswakking van die rand, wat Woensdag weer baie na aan R14 per dollar gekom het voordat dit teen 12:00 versterk het tot R13,66.
“Hoewel ons verwag dat inflasie gaan styg, voorsien ons nie dat dit hoër as die Reserwebank se boonste teikenband vir inflasie van 6% oor die volgende drie jaar sal klim nie,” skryf Radebe en Dykes.
“Die betreklik gunstige inflasievooruitsig en die steeds swak ekonomie sal die Reserwebank se monetêrebeleidskomitee heel waarskynlik oortuig om die verhoging in rentekoerse so lank as moontlik uit te stel.”
Nedbank voorspel dat die rentekoers tot die tweede helfte van 2019 onveranderd sal bly en dan “matig” sal styg.
Bishop verwag egter dat die rentekoers reeds in Januarie 2019 verhoog sal word, weer in Maart 2019 en dan eers weer in 2020, met elke styging 0,25 van ’n persentasiepunt.
Isaah Mhlanga van RMB sê die hoër olieprys en swak rand het reeds ’n enorme uitwerking op inflasie, maar die sekondêre uitwerking daarvan op pryse sal eers oor die komende maande deursyfer. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie