Inflasie markeer die pas
Inflasie markeer die pas

Inflasie markeer die pas

Kommer oor moontlike draaipunt wat kom
Kobus Laubscher
Dr. Kobus Laubscher - Inflasie verwater die koopkrag van ons geld betekenisvol.

Dit dui op die beweging van pryse en is gewoonlik opwaarts, wat beteken dat pryse styg.

Met stygende inflasie daal die koopkrag van geld.

'n 700 gram bruinbrood wat in Maart verlede jaar R11,53 gekos het, kos ná 12 maande R12,57 (9% meer), volgens die Nasionale Bemarkingsraad.

Dit is weliswaar net R1,04 meer en vir baie verbruikers weglaatbaar min. Indien 'n gesin twee brode per dag vir een maand lank moet koop, tel dié toename op na meer as R60. Die verhoging slaan die hardste onder die armstes van die armes.

Daardie R60 moet êrens anders ­afgeknyp word. Dit kan beteken dat ten einde magies vol te hou, dié R60 gevat word van die proteïen-geld.

Nie net verander die dieet nie, maar noodsaaklike bestanddele vir veral kinders se ontwikkeling, word eenvoudig nie gekoop nie.

Saam met die verhoging in die prys van bruinbrood, het ­melkpryse ook gestyg. Dit is veral opvallend wat gebeur het met die pryse van ander stapelvoedsel van die armste verbruikers, met koolpryse wat tot Maart vanjaar met meer as 30% ­toegeneem het.

Polonie as plaasvervanger van vleis, se prys het met bykans 12% toegeneem. Kontantlose verbruikers koop dus anders, maar wanneer daar byvoorbeeld na kleiner verpakkings beweeg word, is die hartseer daarvan dat nog minder met min geld gekoop kan word. So byvoorbeeld het 1 kg bevrore hoenderstukke in die jaar tot Maart 2019, met meer as 31% toe­geneem.

Die meer as R10 toename vir 1 kilo­gram, beteken dat óf niks hoender gekoop kan word nie, óf hoender­aankope word met 'n maand uit­gestel om in die volgende maand dalk 2 kg-verpakkings te kan koop.

Met vaste of ongereelde inkomste van die groot en groeiende getal werkloses, beteken sulke verhogings minder polonie en minder hoender en meer van die stapels – dus weer eens 'n versteuring van dieet.

Die goeie nuus is dat die prys van eiers met 7,7% afgeneem het van die baie hoë vlakke 'n jaar gelede.

Vleispryse soos dié van maalvleis en afval het onderskeidelik matig gestyg en afgeneem.

Die 28-produk mandjie wat maandeliks deur die Nasionale Bemarkings­raad gemonitor word, toon 'n matige styging van 3% vir die jaar tot Maart 2019, maar verbruikers ervaar ­stygings anders op die ­verskillende vlakke van die inkomsteskaal en ­bestedingsvermoë.

Die jongste aanduidings ten opsigte van graan in Suid-Afrika is gelukkig goeie nuus met die verwagte aanbod voldoende om nie net in die binnelandse vraag te voorsien nie, maar om ook uitvoere te kan diens.

Dit is baie goeie nuus vir ­buurlande soos Namibië wat aangewese is op veral witmielies uit Suid-Afrika.

Voerpryse wat weer bepalend is vir die toevoeging van waarde in voerkrale, by varke, hoenders en melk, behoort dus nie verdere druk op koste te kan uitoefen nie.

Dit kan lei tot beter pryse vir diere wat gevoer word, maar dan moet die nodige vraag na hierdie produkte nie net byhou nie, maar tegnies ook groei. Ongelukkig dui die jongste inligting rakende produsentepryse (die vervaardigings- en nie plaashek­pryse nie), op kostedruk wat heel waar­skynlik sal deurvloei na die verbruiker.

Verminderde vraag is nie te wyte aan kopersweerstand nie; dit is eerder die gebrek aan inkomste wat behoorlike vraag ontwikkeling inhibeer.

Binne die waardeketting sal daar aanpassings moet kom wat die prys vir die verbruiker versag, sonder om verdere afwaartse druk op plaashekpryse te plaas.

Ekonomiese teorie bepaal dat sou bestaande toevoeging van waarde binne die waardeketting duurder word, die grootste impak daarvan ­afgewentel word na die plaashek met boere as die prysnemers.

Dit lei tot groter prysdalings as die prysstygings wat na die verbruiker deurgegee word. Daarmee saam is daar dalk ook bewyse dat vervaardigers – dié betrokke by die ­transformasie van die plaasproduk, teruggehou het met die deurgee van insetprys­verhogings. Daar kan egter nie daarmee volgehou word nie.

Daar is dus kommer oor die jongste verloop van hooflyninflasie sowel as kosinflasie wat dui op 'n moontlike onderste draaipunt.

Verantwoordelike besteding deur diegene met die vermoë en afknypkoop vir die res wat sukkel om die kop bo water te hou, is die ­aangewese patroon.

Produsente behoort hierdie te ­verreken in hulle strategieë, bygesê dat die droogte baie min ­beweegruimte gee.

Enige ondersteunende aksies soos droogtehulp moet dus verder kyk as net na die onmiddellike uitdagings.

Kommentaar

Republikein 2025-04-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer