Inflasie styg, maar verligting dalk op pad
Vida Booysen - Die inflasiekoers ken steeds net een pad – boontoe. In Desember het hy die hoogste vlak in tien maande bereik.
Volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) was inflasie volgens die verbruikersprysindeks (VPI) in dié maand 6,8%.
Dit is hoër as die 6,7% wat ekonome verwag het.
Dit is 0,2 persentasiepunt hoër as die vorige maand se 6,6% en 0,8 persentasiepunt bo die Reserwebank se teikenband van tussen 3% en 6% vir die inflasiekoers.
“Pryse het gemiddeld met 0,4% van November tot Desember gestyg,” sê SSA in 'n verklaring.
Inflasie woeker steeds met die pryse van kos en niealkoholiese drank. Voedselinflasie was in Desember op 'n jaargrondslag 11,7%.
Die goeie nuus is egter dat dié styging vanjaar kan begin afplat, sê Kevin Lings, hoofekonoom van Stanlib, in sy reaksie op Twitter.
“Landbou-inflasie begin verlangsaam danksy 'n beter seisoen,” het hy getwiet.
Lings meen dat die inflasiekoers dalk nou sy piek bereik het en dat daar vorentoe moontlik verligting sal wees.
Produksieprysinflasie
Die produksieprysinflasie vir landbou, wat 'n toonaangewende aanwyser is vir die rigting wat die voedselinflasiekoers sal inslaan, het reeds die afgelope maande skerp gedaal, sê John Loos, huishoudelike en eiendomstrateeg van FNB.
“Die koers het van sy hoogtepunt van 20,6% op 'n jaargrondslag in Junie 2016 tot 6,9% in November van dieselfde jaar geval. Dit dui aan dat 'n verlangsaming in voedselprysinflasie om die draai is.”
Loos sê as voedselinflasie kan briek aandraai, sal die VPI-koers ook terugsak tot binne die Reserwebank se teikenband.
Op 'n maandgrondslag het pryse met gemiddeld 0,4% van November tot Desember gestyg.
Die gemiddelde jaarlikse VPI vir 2016 was 6,4%. Dit is 1,8 persentasiepunt hoër as 2015 se gemiddelde van 4,6%.
Mense op die platteland word ook tans baie swaarder getref, met inflasie van 8,1%.
Daarby is die uitwerking van inflasie steeds baie erger vir arm mense, wat 'n groter deel van hul inkomste aan kos en vervoer bestee. Mense in die laagste inkomste-kwintiel het 'n koers van 8,36% beleef.
Die Reserwebank se monetêrebeleidskomitee vergader volgende week om 'n rentekoersbesluit te neem en die styging in die inflasiekoers kan volgens Loos “interessant” wees, gegewe dat die koers hardnekkig bokant die boonste teiken van 6% bly.
“FNB se siening is egter dat koerse onveranderd gehou sal word omdat die bank vooruitskouend 'n aansienlike verlaging in voedselprysinflasie verwag.”
Hy wys daarop dat die rand ook onlangs goed vertoon het en dat die handelsgeweegde wisselkoers tot op datum met 23% verbeter het.
“Dit kan ingevoerde verbruikersinflasie op kort termyn demp.”
- Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie