Inflasiedruk gaan versnel eerder as afneem
Inflasiedruk gaan versnel eerder as afneem

Inflasiedruk gaan versnel eerder as afneem

Ronelle Rademeyer
Dr. Kobus Laubscher - Die onverwagse afname in wesensinflasie in Suid-Afrika gedurende Maart, het talle vrae laat ontstaan oor die volhoubaarheid van dié verandering.
Ekonome is dit eens dat inflasiedruk geensins afgeneem het nie en dat dit eerder gaan versnel gedurende die res van die jaar.
Die oorsake van die huidige hoë inflasie is al deeglik gefynkam en die rol wat versnelde kosinflasie speel en gespeel het tot datum, is bekend. Daar kan egter ook aanvaar word dat ‘n mate van inflasie-psigose ook ‘n rol speel.
Pryse het wel beduidend gestyg as gevolg van ontoereikende aanbod wat weer die gevolg was van die ergste droogte in 100 jaar, maar is veronderstel om hoogstens seisoenale prysveranderings te aksentueer.
Dié ronde se tradisionele laer seisoenale pryse kon nie realiseer nie, want die aanbod was gewoon ontoereikend. Daarmee saam het uitsetprodukte wat grane soos mielies as inset gebruik, se pryse skerp toegeneem. Dit het prysveranderings in afwagting omskep. Dit is amper soos ‘n gelaaide geweer wat net afgevuur moes word.


Eerste kwartaal
Sedert 2012 was wesensinflasie nie uitermatig hoog gedurende die eerste kwartaal van die jaar nie, met tekens van matige verhogings in die tweede en derde kwartale.
Baie groentes en vrugte se aanbod neem af gedurende daardie maande, met gevolglike seisoenale prysdruk-verligting. Dit sou dus verkeerd wees van verskaffers om te argumenteer dat pryse hoog gehou moet word gegewe die stygings wat Jan Alleman noodwendig tot nou toe moes uitstaan.
Die volgende paar maande is dus asemskep-maande, want verbruikspatrone verander seisoenaal. Verbruikers moet hulle eenvoudig nie laat boelie en prysstygings as onafwendbaar aanvaar nie. Koop slim en gee daarmee die regte boodskap aan verskaffers wat nog die hoëprys-golf wil ry.


Voedselinflasie
Kosinflasie was in Maart steeds hoog – 9,8% in vergelyking met die wesensinflasie van 6,3% (die vorige maand was dit 7%). Soos te wagte, was grane (meer as 13%) weer die hoofbron van kosinflasie.
Invoerafhanklikheid en die wisselkoers sal ongelukkig steeds bepalend bly. Die verwagte afwaartse aanpassing van die 2016 somergraanoes is nie goeie nuus nie.
Lae inkomstegroepe se inflasie van bykans 8% is ook ‘n klip in die skoen wat in ‘n verkiesingsjaar bepaalde politieke uitdagings stel. Vrugte- en groentepryse het die afgelope maand steeds die pas aangegee en eetbare olies was kort op hul hakke.
Dit bly slegte nuus vir mense wat van hierdie produkte afhanklik is om kos op die tafel te sit. Met seisoenale vraagveranderings, kan die druk as gevolg van onvoldoende aanbod egter versag. Verbruikers kan dalk na ander, goedkoper produkte oorslaan en en só hulle beursies rek.


Namibië
Namibiese inflasie het die momentum van stygings van die voorafgaande maande van 2016, in Maart voortgesit. Op 6,5% is dit duidelik tot watter mate die verbruiker se koopkrag die afgelope jaar verminder het, want in Maart 2015 was inflasie 3,4%.
Kosinflasie is op 10,3% bykans dubbel dié 5,6% van ‘n jaar gelede. Bykans 26% van inflasie se gewig, is die gevolg van hoë kosinflasie.
Graan en graanprodukte se pryse het jaar op jaar met meer as 15% toegeneem. Die vermoë van veral dié deel van die bevolking wat aangewese is op graan en graanprodukte as stapelvoedsel, is dus onder geweldige druk. Dit verg geen ingewikkelde somme nie om af te lei dat huishoudelike voedselsekuriteit ernstig in gedrang moet wees.
Beide goedere- en dienste-inflasie was in Maart meer as 6%, met goedere-inflasie op 6,8%.
Verbruikers het voldoende redes om te kla en geen verdraagsaamheid te toon teenoor verskaffers wat nie wil saamwerk om kos bekostigbaar te hou nie, en/of buitensporige winste wil maak deur op te tree asof pryse net moet aanhou styg nie.
Met só ‘n ingesteldheid kan huishoudelike voedselsekuriteit nie verbeter word nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!