Inmenging: Trump vat Poetin se woord
Waar die VSA in die verlede as die dominante party by die G20-leiersberaad beskou is, is Donald Trump die naweek geïsoleer in gesprekke oor handel en klimaatsverandering.
Johan Eybers
Die Amerikaanse Demokratiese Party het pres. Donald Trump skerp daarvoor veroordeel dat hy blykbaar pres. Wladimir Poetin se ontkenning goedsmoeds aanvaar het dat Rusland nie by die Amerikaanse verkiesing ingemeng het nie.
Trump en Poetin het Vrydagmiddag 'n geskiedkundige eerste ontmoeting in Hamburg, Duitsland, by 'n beraad van G20-leiers gehad. Hulle het sowat twee en 'n half uur lank vergader.
Die Demokrate sê Trump het heeltemal te veel gewig aan Poetin se ontkenning gegee en dat sy reaksie neerkom op 'n verwerping van die Amerikaanse intelligensiedienste se bevindings dat Rusland wel in die verkiesing ingemeng het, berig Reuters.
Sergei Lawrof, Rusland se minister van buitelandse sake, het ná die vergadering gesê Trump het Poetin se ontkenning aanvaar dat die bewerings deur die Amerikaanse intelligensiedienste alles leuens is.
Rex Tillerson, Amerikaanse minister van buitelandse sake, het aan verslaggewers gesê die twee leiers het aanklank by mekaar gevind.
Trump het hul gesprek begin deur te praat oor Amerika se kommer oor Rusland se inmenging in die presidentsverkiesing verlede jaar, het Tillerson gesê.
'Verag'
Waar die VSA in die verlede as die dominante party by die G20-leiersberaad beskou is, is Trump die naweek geïsoleer in gesprekke oor handel en klimaatsverandering, berig The New York Times.
Reeds by die opening van die beraad het die gasheer, die Duitse bondskanselier Angela Merkel, erken dat daar verskille tussen die VSA en ander G20-lede bestaan.
Merkel het Saterdag selfs gesê sy “verag” die VSA se besluit om hom aan die Parys-verdrag oor klimaatverandering te onttrek wat deur alle ander G20-lande ondersteun word.
Sy het gesê dit sal daarom baie interessant wees om te sien hoe hulle hul finale verklaring oor die beraad formuleer.
Handelsoorlog
The New York Times het berig dat Trump se isolasie veral duidelik was toe daar oor handelskwessies gepraat is.
Trump wil binne die volgende paar dae tariefverhogings vir staalinvoer na die VSA instel.
Dié koerant berig dit kan 'n wêreldwye handelsoorlog uitlok.
Europese amptenare het tydens die beraad met vergelding gedreig.
“Ons sal teenmaatreëls instel indien nodig. Ons is bereid om wapens op te neem indien nodig,” het Jean-Claude Juncker, president van die Europese Kommissie, gesê.
Paolo Gentiloni, Italiaanse premier, het gewaarsku dat nuwe beskermde handelsmaatreëls die groei van die wêreldekonomie kan vertraag.
Europa en Japan het as 'n voorsorgmaatreël teen Trump se beleidsveranderings die afgelope week 'n vryehandelsooreenkoms beklink en Mexiko en China, twee van die VSA se grootste handelsvennote, onderhandel ook tans oor 'n moontlike handelsooreenkoms.
'Diktator'
Die Britse The Independent het Saterdagaand berig dat Trump hom “soos 'n diktator gedra” het toe hy 'n sitting vir 'n oomblik verlaat het en Ivanka Trump, sy “ongekwalifiseerde dogter”, vir hom ingestaan het.
Die oë het ook gerek oor haar duur broekpak wat deur Gabriela Hearst ontwerp is.
In die strate van Hamburg het aktiviste teen globalisering supermarkte geplunder en die polisie met petrolbomme aangeval.
Bongani Majola, pres. Jacob Zuma se woordvoerder, het Saterdagaand aan Rapport gesê Zuma het nie privaat met Poetin vergader nie.
Volgens 'n diplomatieke bron was 'n kort formele vergadering tussen Zuma en Poetin wel op die agenda, maar dit kon weens tyddruk nie gebeur nie. Die twee het wel tydens die beraad langs mekaar gesit en “gereeld gesels”.
Zuma het wel met pres. Xi Jinping van China vergader, het Majola gesê. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie