Inperking 'vreet' melkbeeste se voer op
Inperking 'vreet' melkbeeste se voer op

Inperking 'vreet' melkbeeste se voer op

Die sluiting van die bierbrouery se deure tydens die inperkings­tyd het die suiwelbedryf van 'n belangrike bron van veevoer beroof.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh



Die onbeskikbaarheid van brouersgraan tydens die grendelstaat veroorsaak hoofbrekens vir reeds sukkelende suiwelprodusente.

As gevolg hiervan het plaaslike melkproduksie met tot 20% geval, terwyl voerkoste vir melkkoeie skielik met 'n verdere 7% tot 12% verhoog het, sê mnr. Kokkie Adriaanse, die Suiwelprodusentevereniging (SPV) se voorsitter.

Adriaanse sê die feit dat Namibia Breweries Limited (NBL) hul bedrywighede in die inperkingstyd moes staak, beteken 'n verlies aan 'n ­belangrike bron van veevoer, naamlik brouersgraan.

“Dit vorm 'n groot deel van ons melkkoeie se rantsoen, maar ons moet nou reeds 'n maand lank daarsonder klaarkom.

“Ons voer 10 kg tot 12 kg brouersgraan per dag aan 'n koei. Dié ­proteïen en vesel moet dus nou deur 'n alternatiewe bron vervang word.

“Die brouersgraan kos ons sowat N$450 per ton, gelewer op ­Mariental. Sy naaste plaasvervanger kos N$4 500 per ton,” sê Adriaanse.

Brouersgraan is oorblyfsels van die brou van bier en dikwels 'n mengsel van gars, mielies en brouersgis. Die produk is smaaklik en veilig om te gebruik en kan tot 25% van vee se rantsoene uitmaak.



MINDER MELK

Hy meen al wat vir ­suiwelprodusente oorbly om te doen, is om hul melkbeeste minder te voer omdat dit ­ontsettend duur raak. Dit veroorsaak dat koeie minder melk produseer.

“My melkproduksie het reeds met 600 liter per dag geval – dit is 18 000 liter per maand minder en kom neer op 'n verminderde inkomste van meer as N$100 000 per maand. ­Ter­selfdertyd is voer duurder,” sê Adriaanse.

“Melkproduksie het skerp gedaal. Tesame hiermee het 'n groot suiwelprodusent einde Maart uit die bedryf getree, terwyl 'n tweede suiwelboer by Gobabis ook opgehou melk produ­seer het,” sê Adriaanse.

Hy meen meer suiwelboere oorweeg dit om tou op te gooi.

Intussen is daar vooruitsigte dat veevoerpryse weens die wisselkoers op 5 Mei verhoog gaan word.

“Ons sal op 'n punt kom waar ons slegs eie voer moet gebruik en spoorelemente bygee. Suiwelprodusente se voerkoste was altyd tussen 70% en 75% van ons uitgawes, nou is dit digby 82%. Dit moet eintlik nie hoër as 60% tot 65% wees nie,” sê Adriaanse.

Adriaanse sê suiwelboere het brouers­graan vanaf NBL volgens hul kwotas ontvang. Namibia Dairies se lorrie wat melk na hul aanlegte neem, het terselfdertyd brouersgraan vir produsente gebring.

Tans is dit nie moontlik nie, wat ­vervoerkoste verhoog, sê hy.

Die woordvoerder van die ­Ohlthaver & List (O&L)-groep, me. Roux-ché Locke, wou nie vrae beantwoord oor hoeveel brouersgraan normaalweg geproduseer en aan suiwelboere gelewer word nie, maar het slegs gesê NBL kan bevestig dat graanvolumes drasties verminder het as gevolg van inperkingsmaatreëls.

Vrae oor hoe melkproduksie of die lewering van melk deur ­suiwelboere aan Namibia Dairies deur die ­situasie geraak word, is ook nie beantwoord nie. Volgens die Namibiese Handels­forum (NTF) verbruik Namibiërs sowat 38 miljoen liter melk en jogurt per jaar, waarvan 42% plaaslik geproduseer word. Altesaam 60% hiervan is UHT-melk (langlewemelk wat teen 'n hoë temperatuur gesteriliseer word), 24% vars melk en 16% jogurt.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!