Inperkings knou vleisuitvoere
Inperkings knou vleisuitvoere

Inperkings knou vleisuitvoere

Meatco se kliënte in die hotel-, restaurant- en spysenieringsbedryf is direk geraak, terwyl boere terselfdertyd nog van ’n jarelange droogte herstel.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Namibië se beesvleisuitvoere was teen Julie 2020 die helfte minder as in Julie 2019, alhoewel ’n fokus op nismarkte winsgewendheid kan verbeter.

Dit word aan die wêreldwye Covid-19-pandemie toegeskryf, asook die feit dat die plaaslike landboubedryf steeds van ’n jarelange droogte moet herstel.

Meatco het teen verlede maand 3 453 ton beesvleis uitgevoer, terwyl dit teen Julie verlede jaar 7 101 ton uitgevoer het.

Hiervan is vanjaar altesaam 1 054 ton beesvleis na Noorweë uitgevoer, gevolg deur 1 016 ton na die Europese Unie en 97 ton na Engeland.

Altesaam 734 ton is teen Julie na Asië uitgevoer, terwyl 550 ton beesvleis na Amerika uitgevoer is. Namibië het vroeg vanjaar die eerste land in Afrika geword om rooivleis na Amerika te kon uitvoer – dit ná bykans twee dekades se onderhandeinge oor veiligheidsregulasies en logistiek.

NISMARKTE

Me. Rosa Thobias, Meatco se bestuurder van belangegroepverhoudinge en korporatiewe sake, sê egter dit is belangrik om te onthou dat Meatco se fokus nismarkte is.

“Ons wil fokus op dié markte waar ons maksimum opbrengste kry.

“Natuurlik is die Covid-19-pandemie vanjaar ’n uitdaging, met ons kliënte in die hotel-, restaurant- en spysenieringsbedryf wat direk geraak is. Terselfdertyd probeer boere plaaslik steeds van jarelange droogte herstel deur hul kuddes te probeer heropbou,” het sy verduidelik.

“Boonop was verlede jaar nie ’n ‘normale’ jaar nie, omdat boere deur die droogte geforseer is om hul beeste te bemark. Dit maak dit moeiik om verlede jaar en vanjaar se verkoopsyfers te vergelyk omdat omstandighede soveel verskil.

“Vir nou is die diversifisering na nuwe markte – veral dié in Amerika en Asië – die sleutel vir Meatco,” het Thobias verduidelik.

VERTRAGINGS

Meatco het op 21 Augustus in ’n mediaverklaring gesê dit kon oor die algemeen sy internasionale kliënte bedien – met minimale onderbrekings. “Alhoewel daar klein vertragings met uitvoere na die Chinese mark was, kon die situasie beredder word sonder dat sakeverhoudings met dié mark geraak is.”

“Kliënte het wêreldwyd uitdagings as gevolg van Covid-19 ervaar, wat insluit ’n verbod op reise. Boonop verbruik die gasvryheidsbedryf die meeste van Meatco se beesvleisprodukte van hoë gehalte.

“Alhoewel kliënte aanhou om te eet, is daar ’n groot verskil in dit wat in huise versus in restaurante geeët word,” het Meatco gesê. “Die uitdagings is om hoë waarde snitte teen ’n premieprys te kan verkoop.”

Meatco sê egter wat Engeland betref, dui markstatistieke daarop dat verbruikers al meer hoë waarde vleissnitte verkies omdat hulle meer gesondheidsbewus raak. Dit is glo aangevuur deur tuisblybeleide wat tydens die pandemie geïmplementeer is en beteken mense maak meer kos tuis.

Noorweë bly ’n premiemark vir Meatco, ongeag huidige ongunstige ekonomiese handelsomstandighede. Dit is omdat die opbrengste hier buite verhouding goed is in vergelyking met ander markte. Tog ervaar dié land die wind van voor omdat dit hoofsaaklik ’n olie-gebaseerde ekonomie is, terwyl oliepryse wêreldwyd gedaal het.

“Dit beteken die waarde vir ons produk het effens gedaal, alhoewel dit steeds hoë opbrengste gelewer het vanweë die verswakking in die Suid-Afrikaanse rand,” het Meatco gesê.

“Daar is egter ook ’n lig aan die einde van die tonnel omdat karkaspryse oraloor Europa besig is om te normaliseer.

Meatco sê ten spyte daarvan dat die Namibiese dollar vanjaar waarskynlik swak sal bly as gevolg van sy verbintenis met Suid-Afrika, lyk die algemene toekomsverwagtinge positief vanaf Meatco se markte. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer