Insette oor teenkorrupsie nog welkom
Insette oor teenkorrupsie nog welkom

Insette oor teenkorrupsie nog welkom

Die Teenkorrupsiekommissie het verlede week sy reeks openbare vergaderings in die hoofstad voortgesit.
Augetto Graig
Augetto Graig – Namibië se Teenkorrupsiekommissie (ACC) het sy reeks openbare vergaderings om insette in te samel vir die tweede nasionale teenkorrupsiestrategie en plan van aksie (2021-'25), verlede week in die hoofstad voortgesit.

Afgelope Dinsdag se vergadering by Nipam sou die laaste van agt wees in fase 3 van die veldtog wat reeds in April begin het. Otjiwarongo se vergadering op 4 Junie moes egter uitgestel word en sal nou op 25 Junie plaasvind, volgens ACC se woordvoerder, me. Josefina Nghituwamata.

Die direkteur-generaal van die ACC, mnr. Paulus Noa, het aan beamptes van die Windhoek-munisipaliteit, die stadsraad, staatsondernemings en tradisionele owerhede gesê: “Kom ons verander die benadering oor rykdom wat deur korrupsie en geldwassery verkry is. Dié wat op 'n oneerlike manier rykdom bekom, moet nie in die samelewing geprys word nie. Dié wat omkoopgeld aanbied of aanvaar in ruil vir die lewering van dienste, moet ontbloot, verwerp en waar toepaslik voor die hof verhoor word, of administratiewe geregtigheid in die gesig staar.”

Die Namibiese regering se amptelike stryd om korrupsie te bekamp, kan volgens Noa aan president Hage Geingob toegeskryf word. Hy was in 1996 as eerste minister saam met die destydse prokureur-generaal, adv. Vekuii Rukoro, deel van die komitee vir die bevordering van etiek wat openbare insette ingevorder het, wat later tot die Teenkorrupsiewet nommer 8 van 2003 gelei het.

Volgens hom het die kabinet in Augustus 2016 die eerste nasionale teenkorrupsiestrategie en plan van aksie (2016-'19) goedgekeur, wat tot Maart 2020 uitgevoer is.

Ná die ontleding van die resultate van die eerste plan van aksie, dui dit daarop dat 70 uit die 75 beplande optredes deur 22 uitvoerende instansies tot uitvoering gebring is. Slegs 15 van die take is voltooi. Evaluering van die resultate het tot ver­skeie voorstelle gelei, en die oordrag van die meerderheid van die vorige take tot insluitsel by die nuwe konsepplan.

Die goewerneur van die Khomasstreek, me. Laura McLeod Katjirua, het by verlede week se geleentheid gesê dié strategie en plan van aksie is die regte manier om spoedige toepassing van regeringsprogramme te meet en te vergemaklik.

“Mag maak nie mense korrup nie, mense maak mag korrup,” het sy gesê. Sy het 'n beroep gedoen op Namibiërs om deel te neem en hulself in te lig oor die stryd teen korrupsie.

“Die doel is dat ons almal eienaarskap van die strategie neem en die aksies wat vir verskeie instansies geïdentifiseer is ten volle toepas,” voeg sy by.

Die konsepdokument lys agt strategiese doelwitte, insluitend verbeterde politieke aanspreeklikheid en deursigtigheid, voorkoming van korrupsie op alle regeringsvlakke, strenger voorkoming van korrupsie, uitgebreide teenkorrupsie-opvoeding, verbeterde bekamping van korrupsie in die privaat sektor, om nieregeringsorganisasies en die media te betrek om korrupsie te bekamp, voorkoming van korrupsie en beter deursigtigheid in sport, en om die jeug by teenkorrupsie-inisiatiewe te betrek.

Die konsepdokument is beskikbaar op die ACC se webwerf (acc.gov.na) en insette kan ook daar gelewer word.

Mnr. Brian Black, Windhoek Wes-kiesafdeling se verteenwoordigende streekraadslid het gesê: “Ons mense is verantwoordelik vir Namibië se vorige, toekomstige en huidige prestasies.”

Hy was beïndruk dat selfs opposisie-politici insette gegee het om 'n beter strategie vir die teenkorrupsiekommissie te ontwikkel.

[email protected]


FOTO
Die ACC se direkteur-generaal mnr. Paulus Noa antwoord vrae van deelnemers by verlede week se geleentheid. Foto Augetto Graig

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!