Insette vir hersiening van bosbouwet verkry
Rolspelers meen die ministerie moet akkurate en opgedateerde data hê oor hoeveel hout of bos per jaar geoes word, want “daarsonder kan geen hulpbronne bestuur word nie”.
Elvira Hattingh
Eerder as dat bosboupermitte vir byvoorbeeld sewe dae of drie maande vir sekere doeleindes uitgereik word, moet dit eerder vir spesifieke bedrywighede uitgereik word, sonder dat tydsbeperkinge noodwendig hiermee gepaardgaan.
Dié wysiging behoort die bedryf meer beleggersvriendelik te maak.
Die benutting van bos moet ook eerder volgens bestuursplanne geskied as dat dit deur permitte gereguleer word.
Hierdie was enkele van die voorstelle by ’n slypskool vandeesweek oor die hersiening van wetgewing vir die bosboubedryf, wat deur die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme in Windhoek aangebied is.
Verskeie onderwerpe is bespreek, wat die uitreiking van permitte en die bestuur van beskermde gebiede insluit.
Rolspelers het onder meer gesê dit is noodsaaklik dat die ministerie oor akkurate en opgedateerde data moet beskik oor hoeveel hout of bos per jaar geoes word, want “daarsonder kan geen hulpbronne bestuur word nie”.
Ander meen een van die land se grootste probleme is die swak toepassing van die bestaande wet.
“’n Nuwe, beter wet gaan nie hiermee help nie. Ons kan dié saak beredder deur selfvoldoening aan die wet. Dit sal net werk as daar druk vanaf markte is om die regte ding te doen – soos byvoorbeeld in die geval van FSC-sertifisering – en daar moet gevolge wees vir diegene wat nie gehoor gee nie,” was die insette van een rolspeler.
Ander sê bestuursplanne, as voorvereiste vir die uitreiking van permitte, is reeds ’n wetsvereiste. Die ministerie moet egter, voordat permitte uitgereik word, ’n opname doen van watter hulpbronne in die gegewe gebied beskikbaar is. Bosbenutting in dorpsgebiede is nog ’n brandpunt wat beter regulasie vereis.
’n Pluimpie is aan amptenare in die Otjozondjupastreek gegee, wat gereeld inspeksie uitvoer of mense oespermitte het.
NUWE BEHOEFTES
Mnr. Joseph Hailwa, die direkteur van bosbou, het by die geleentheid verduidelik dat veranderende behoeftes vereis dat wetgewing opdateer moet word en dat die ministerie graag elke belanghebbende se insette en mening in verband hiermee benodig.
“Die behoefte aan houtskoolproduksie en bosbenutting is nuut en bied nuwe uitdagings aan die wet. Boonop was so ’n benutting van sommige bosspesies nog nie in 2001 bekend, toe die huidige bosbouwet geformuleer is nie.
“In die samestelling van dié wet is verskeie rolspelers destyds gekonsulteer en regslui meen dit is ’n goed gebalanseerde dokument, maar nuwe uitdagings beteken daar is ruimte vir verbetering.
“Ek sê nie die bestaande wet is nutteloos nie, maar mense se behoeftes is dinamies en in sommige gevalle is die wet té streng. Mense kla hulle kan nie beskikbare hulpbronne benut nie, terwyl dit in ander omstandighede vir geldelike gewin uitgebuit word.
“Die wetgewing moet ons lei om die bosboubedryf te beskerm, terwyl dit ook benut kan word as onder meer medisyne, houtskool, hout en vuurmaakhout,” het hy gesê.
Tydens die slypskool is verduidelik dat die dag se insette, asook ander insette wat tot dusver tydens soortgelyke geleenthede oraloor die land versamel is, vir die hersiening van die bosbouwet gebruik sal word.
“Die hersiening van die wet kan nie plaasvind voor almal se insette ontvang is nie. Sodra die konsepwet opgestel is, sal dit weereens met alle belangegroepe gedeel word en dan op ’n finale slypskool verfyn word,” is op die geleentheid gesê.
Die geleentheid is ook bygewoon deur wetskrywers en regslui wat in omgewingsake spesialiseer.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie