Insigte oor die 'Rooilyn'
DR. JOHN SHAW, HOOF VAN VEEARTSENYDIENSTE IN NAMIBIË VAN 1984 TOT 2003 SKRYF:
In die artikel “Rooilyn: Die Opsies” in die Republikein van 5 November 2021 word onder andere die volgende stelling gemaak: “Die Vleisraad het met die voorstelle vorendag gekom, nadat daar opnuut oor die Veterinêre Kordonheining (VCF) in die noorde van Namibië gedebatteer is."
Veral nadat die Windhoekse burgemeester, dr. Job Amupanda, ’n aansoek by die Hoërhof vir die verwydering van die Rooilyn ingedien het, ag ek dit nodig om die nodige agtergrond te skets.
Ek wil eerstens beklemtoon dat hierdie skrywe nie ten doel het om enigsins vergete pogings, wat ons gedurende die negentigs (1990-2000) aangewend het om die druk op die sogenaamde Rooilyn te verminder, nou na 20 jaar weer in herinnering te roep nie (dit het my genoeg verdriet veroorsaak), maar bloot om ’n paar feite duidelik te stel. Terloops, ons het voorgestel dat daar eerder na die “Rooilyn” verwys moet word as die Veterinêre Kordonheining (VKH) in ooreenstemming met soortgelyke heinings in buurlande wat veesiektebeheer as enigste doel het.
Tweedens, niks wat nou mee vorendag gekom word, was nie destyds van die voorstelle wat ons voorgelê het nie, en waarvan sommige ten bedrae van miljoene der miljoene dollar as projekte deurgevoer is – en waarvan die meeste misluk het.
Ook net ter inligting: die ligging van die VKH was nooit as onveranderlik beskou nie. Ek het onlangs vir die bestuurder van die Vleisraad, toe hy my genader het, gesê om nie koppe te breek presies oor waar die heining van punt tot punt beplan was nie, maar eerder waar dink mense moet dit wees, want daarsonder kan daar geen uitvoere wees nie. (Behalwe na enkele Afrika-lande met geen veesiektebeheer in plek nie.)
Gedurende my tyd is die VKH ’n paar keer noordwaarts verskuif, naamlik eers vanaf die Rietfontein-blok tot noord van die Eiseb-blok en later weer tot noord van Gam om die terugkerende Ovaherero uit Botswana te akkomodeer. Dit behels ’n area van etlike honderde duisende hektaar.
Ook voor my tyd is aangrensend aan die VKH in die Kavango en destydse Ovambo die sogenaamde Kavango en Ovambo Manghetti’s ontwikkel waardeur die VKH noordwaarts verskuif het en waar baie suksesvol met bees geboer is, wat “suidwaarts” bemark kon word.
Met onafhanklikheidswording was die enigste belangstelling wat in veeartseny getoon was, om te hoor wanneer verwyder ons die “Rooilyn”! En nou, 30 jaar later, is dit opnuut dr. Job Amupanda.
MISLUKTE PLANNE
Ons eerste poging ter verbetering van veesiektebeheer in die noordelike kommunale area na onafhanklikheid was om weer ’n heining (daar was vroeër net ’n veekerende heining wat nie veel van ’n doel gedien het nie), naamlik ’n behoorlike wildwerende heining, op die grens met Angola te span. Dit was toe reeds bekend by ons personeel in Ovambo dat die mense ”op die grond” nie daar ’n heining wil hê nie, omrede familie weerskante woon en hulle weiregte in gedrang sou kom.
Die regering het egter by monde van sy verteenwoordigers in die ministerie volgehou dat ons moes voortgaan – van hulle het vergaderings in die betrokke gebiede gehou en voorgegee die mense wil die heining hê.
Daar is toe in die vroeë negentigs N$4 miljoen hiervoor bewillig en veeartseny moes toesien dat dit opgerig word – daar sou voorsiening gemaak word vir deurgange met aanhoukrale vir vee.
Ons het dit egter duidelik gestel dat slegs ’n heining, met geen veesiektebeheer aan Angola se kant, so ’n projek baie riskant maak oor die langtermyn en het ons, nadat bilaterale ooreenkomste tussen die regerings van Angola en Namibië gesluit is, met ons Angelese eweknieë begin onderhandel. Dit was met die oog daarop om dieresiektebeheer-programme, soos wat ons reeds lank aan die Namibiese kant toegepas het, ook in Angola te implementeer en te koördineer. Hulle was baie geneë tot samewerking.
Ek het Angola se hoof van veeartsenydienste al van voor onafhanklikheid geken vanweë die OIE-vergaderings wat jaarliks in Parys, Frankryk gehou word vir veeartsenyhoofde van oor die hele wêreld. Ek het sedert 1985 die konferensies bygewoon.
Ons vergaderings met Angola het aanvanklik eenkeer per jaar in Windhoek of Luanda plaasgevind. Ons het dit later verskuif na Lubango en Oshakati om ook personeel van beide lande wat verantwoordelik was vir die uitvoer van programme te betrek. Hulle personeel het van ons inentingsveldtogte kom bywoon en van ons personeel was behulpsaam in Angola met hulle program. Daar was finansiële steun van beide die Verenigde Nasies en die Europese Unie vir die programme.
Die eerste poging om die heining tussen ons en Angola op te rig, het egter klaaglik misluk. Voordat die heining, wat vanaf Ruacana tot by die Kavangorivier sou strek, die Kavango bereik het, was dit reeds so geplunder aan die Ruacana-kant dat dit gebleik het ’n nuttelose oefening te wees. Dit het egter nie die samewerking ten opsigte van veesiektebeheer met Angola beïnvloed nie.
ANDER BESLUITE
Ons het toe voorgesel dat soortgelyk aan Ovambo- en Kavango Manghetti, die kordonheining in die Oshivelo-area noordwaarts verskuif – aangrensend aan die Ovambo Manghetti tot teen Etosha. (Ek neem aan dit is wat die Vleisraad nou kompartemente noem.) Ons sou dan die nodige toetse doen en die gebied vry van Ben-en-klou en longsiekte verklaar. Boere in die gebied kon dan hulle diere suidwaarts bemark.
Geld was weereens bewillig, maar ook hierdie projek was kort na voltooiing so gevandaliseer dat dit totaal nutteloos was vir die doel waarvoor dit beoog was.
Daar is later gedurende die negentigs ’n tweede poging aangewend om die heining tussen Namibië en Angola op te rig, nadat ons die “versekering” gekry het dat die mense nou so ’n heining wil hê. Dit het maar min of meer dieselfde roete gevolg.
Ek het daarna begin onderhandel met my Suid-Afrikaanse eweknieë wat dit sou moontlik maak om verkoelde (of bevrore) beesvleis vanuit die noordelike kommunale gebiede na Suid-Afrika uit te voer. (Uitvoere van beesvleis was voor onafhanklikheid slegs moontlik via die Oshakati-fabriek en dan slegs in gesteriliseerde blikkies – tot selfs na Engeland en Duitsland, ens.) Die Suid-Afrikaanse owerhede het ingestem en dit het daartoe gelei dat verskeie kwarantynkampe in al die kommunale gebiede in die noorde (Kaoko, Ovambo, Kavango en die destydse Caprivi, vandag Zambezi) opgerig sou word.
Die slagpale op Katima Mulilo is terselfdertyd opgradeer om uitvoere ook daarvandaan na Suid-Afrika moontlik te maak. Die skema het bepaal dat diere vooraf vir drie weke gekwarantyn word; dat daarna geslag, verkoel, ontbeen en verpak word en die vleis vir nog drie weke gehou word voordat dit na Suid-Afrika vervoer kon word. Die ganse projek is mildelik befonds deur die Europese Unie, Meatco asook die regering.
Ek het saam met minister Von Wietersheim Oshakati besoek toe die eerste besending vars vleis ooit na Suid-Afrika vertrek het. Voor die vragmotor was ’n rooi lint gespan wat die minister geknip het met die woorde: “Today we’ve cut the Red Line.”
Nadat Botswana deurgang in verseëlde vragmotors goedgekeur het, kon uitvoere vanaf Katima ook via Botswana na Suid-Afrika plaasvind.
Laastens dink ek dis nodig om te besef dat al sou pogings slaag om die hele “noordelike gebied” (Zambezi uitgesluit vanweë vrylopende buffels) siektevry te verklaar, wat sekerlik die langtermyn doelwit behoort te wees, daar steeds heinings sal moet wees om die beweging van vee te beperk. Daarsonder is geen veesiektebeheer moontlik nie.
Sterkte!

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie