Integrasie van kragtoevoer oor Afrika lê voor
Streekintegrasie van nasionale kragopwekking is een van die eerste stappe om in Afrika se enorme energiebehoeftes te voorsien.
William Horne – Sonder kragopwekking wat oor grense heen geïntegreer word, sal Afrika nooit 400 miljoen poste skep, soos wat die vasteland in die nabye toekoms nodig het, nie.
Dit was Dinsdag die boodskap op die Afrika-Energie-Indaba in Sandton op ’n paneelbespreking oor die kontinent se energievisie vir 2063. Jeff Radebe, Suid-Afrika se minister van energie, het ook daaraan deelgeneem.
Die paneel het gepraat oor hoe streeksintegrasie van nasionale kragopwekking een van die eerste stappe is om in Afrika se enorme energiebehoeftes te voorsien.
John Peter Amewu, Ghana se minister van energie, het gesê integrasie van elektrisiteitsnetwerke sal nie net streke bevoordeel nie, maar ongelooflike voordele op nasionale vlak skep.
“Daar is basies geen industrialisasie op die Afrika-kontinent nie, en die enigste manier wat ons doeltreffend sal kan industrialiseer, is om goedkoper, meer en betroubaarder krag aan ons mense te verskaf.”
Amewu het sy eie land, Ghana, as voorbeeld gebruik wat in presies die teenoorgestelde situasie as Suid-Afrika, met sy energietekort, sit.
Volgens Amewu genereer Ghana amper dubbeld soveel elektrisiteit as wat die land benodig deur hoofsaaklik hidroëlektriese en geotermiese kragstasies.
Die privatisering van hul nutsmaatskappye het beteken dat die oorskot tot verliese gelei het, wat stygende kragtariewe tot gevolg gehad het.
Al voer Ghana elektrisiteit na Burkina Faso, Benin en Togo uit, is dit steeds nie genoeg om die land se oorskot te takel nie.
Amadou Hott van die Afrika-Ontwikkelingsbank meen dié finansierder kan ’n aktiewe rol speel om die verhandeling van elektrisiteit op streeksvlak te verbeter.
Hott verduidelik Afrikalande het nie genoeg vertroue of samewerking om te voel dat hulle kan staat maak op hul bure om konsekwent krag te lewer as hulle ’n ooreenkoms teken nie. Hy sê onsekerheid heers, en dit dryf noodgedwonge die meeste om eerder te probeer om almal hul eie kragverskaffers te ontwikkel.
Hott meen dié benadering is ondoeltreffend en stadig.
“Ghana het meer as 2 000 megawatt se oorskotkrag wat net daar sit en wag, maar, byvoorbeeld, Burkina Faso verkies om hul eie tekort self te probeer oplos.
“In die leemte is die Afrika-Ontwikkelingsbank, ’n trippel-A- gegradeerde instansie, bereid om as tussentydse supranasionale fasiliteerder te werk om dié soort integrasie te bewerkstellig en die nodige ooreenkomste te waarborg.”
Radebe het ook die idee ondersteun.
“Die tyd van in isolasie dink oor ons behoeftes is verstreke. Ons benodig geïntegreerde kragtoevoer om ons ontwikkelingsteikens te bereik,” sê Radebe.
Hy reken die vasteland se strategiese hulpbronne kan deur sulke vennootskappe beter benut word. Volgens Radebe kan integrasie beteken dat hulpbronne ten volle benut word en nie deur tekorte of oorskotte waarde verloor nie.
Wat Suid-Afrika se rol betref, sê Radebe die afhandeling van die geïntegreerde hulpbronplan (IRP) is noodsaaklik om te begin voorsiening maak vir groter integrasie met die omliggende streek, en uiteindelik die vasteland as geheel.
Reuters berig dat Radebe later Dinsdag bevestig het dat die staat se IRP in Maart gefinaliseer sal word ná ’n laaste ronde samesprekings met sakeondernemings en vakbonde.
Die plan was oorspronklik veronderstel om in Februarie bekend gestel te word. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie