Inteling bedreig swartrenosters
Inteling bedreig swartrenosters

Inteling bedreig swartrenosters

Alzane Narrain - Die drastiese afname in genetiese variasie van swartrenosters wys die bewaringstrategie van dié diere moet verander om die spesie teen uitsterwing te beskerm, het ’n groep navorsers bevind.

Die studie toon dat die oorblywende bevolking ’n verstommende 69% van sy genetiese variasie verloor het, het die Universiteit van die Vrystaat (UV) in ’n verklaring gesê.

Die navorsers van die UV en die Suid-Afrikaanse Nasionale Dieretuin beklemtoon dat swartrenosters op die rand van uitwissing is.

“Ons het bevind dat daar ’n afname in genetiese diversiteit is, met 44 van 64 genetiese afstammelinge wat nie meer bestaan nie,” sê prof. Antoinette Kotze, bestuurder van navorsing en wetenskaplike dienste by die dieretuin en genetikus aan die UV.

In die studie het hulle DNS-monsters in museums oor die wêreld heen met die DNS van lewende diere in die natuur vergelyk.

Die DNS is uit die vel van die museum-monsters en uit die weefsel en mis van diere in die natuur onttrek. Die navorsers het die genoom van die mitochondria gebruik.

Klimaat

Dr. Desire Dalton van die dieretuin sê die verlies van genetiese diversiteit kan swartrenosters se vermoë om by klimaatsverandering aan te pas, in gevaar stel.

Die studie het gewys twee afsonderlike bevolkings kom weerskante van die Zambezirivier voor.

Dalton sê die bevolkings moet afsonderlik bestuur word om hul genetiese diversiteit te bewaar.

Hoewel die data daarop dui dat die toekoms vir swartrenosters donker is, het die navorsers groepe swartrenosters geïdentifiseer waarvan die bewaring voorkeur moet kry omdat dit ’n beter kans bied om die spesie van totale uitsterwing te red.

Hulle beklemtoon dat grootskaalse renosterstropery die genetiese diversiteit van swartrenosters onder groter druk plaas.

Die studie het gewys dat swartrenosters in baie dele van Afrika, soos Nigerië, Tsjad, Kameroen, Soedan en Ethiopië, uitgewis is.

Dié renosters word nou net in vyf Afrika-lande aangetref. Dit is Kenia, Tanzanië, Zimbabwe, Namibië en Suid-Afrika, waar die meeste voorkom. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!