Internasionale voorkeur vir Namibiese houtskool

Na verwagting sal Namibiese houtskooluitvoere teen 2020 met 25% sedert 2016 gegroei het soos meer markte na ‘n produk soek wat op verantwoordelik vervaardig word.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Namibië is nou deur internasionale markte as voorkeurbron van houtskool ontdek. Terselfdertyd groei die vraag na plaaslike houtskool soveel dat dit die aanbod begin oorskrei.

Mnr. Michal Brink, CMO-Namibië groepskema se uitvoerende hoof, het tydens die Namibië Houtskoolvereniging (NCA) se jaarkongres op Vrydag, 10 Augustus, gesê Namibië is waarskynlik tans van die wêreld se mees gesogte houtskoolverskaffers in die wêreld.

“Dit is danksy die produksie van goeie gehalte houtskool, die feit dat Namibië die Europese houtreguleringswet nakom en dit ‘n onuitputbare bron blyk te wees,” het hy gesê.

Brink se maatskappy is wêreldwyd betrokke in die verbetering van houtskoolbedrywe se prestasie.

Volgens hom het Europa houtskool tradisioneel vanaf Wes-Afrika en Suidoos-Asië ontvang, wat glo by verskeie onwettighede betrokke is.

“Sedert die implementering van onder meer die Europese houtreguleringswet, het groot handelaars al meer daarop begin gefokus om die regte ding te doen en hulle na lae-risiko markte soos Namibië begin wend,” het Brink gesê.

Volgens hom sal daar in die toekoms nie net van beter kilns (verbrandingsoonde) en tegnologie in die houtskoolbedryf gebruik gemaak word nie, maar voorsien hulle ‘n eksponensiële groei in die Forest Stewardship Council (FSC)-mark. Markte in byvoorbeeld die Midde-Ooste, wat nie aan FSC-standaarde gehoor gee nie, sal inkrimp.

VRAAG OORSKREI AANBOD

Die uitredende voorsitter van die NCA se direksie, die oud-minister mnr. Isak Katali, het gesê Namibië is trots daarop om die wêreld se vyfde grootste uitvoerder en Suider-Afrika se grootste uitvoerder van houtskool te wees.

Katali het gesê die vraag na Namibiese houtskool het in so mate vergroot dat dit nou die aanbod oortref.

“Dit is bemoedigende nuus omdat dit kompeterende pryse dryf en ‘n geleentheid bied vir ontluikende produsente om tot die mark toe te tree,” het Katali gesê.

Na raming het Namibië in 2016 sowat 160 000 ton houtskool uitgevoer en sal die syfer teen 2020 na verwagting met 25% gegroei het en op 200 000 ton staan. Namibië se kernmarkte is Suid-Afrika, Brittanje, Duitsland, Frankryk en Griekeland, alhoewel nuwe markte toenemend betree word. Dit sluit in lande in die Midde-Ooste asook Australië.

Die NCA se nuutverkose voorsitter, mnr. Gunter Schwalm, het gesê sy mikpunt tydens sy voorsitterskap sal wees dat Namibië die wêreld se grootste uitvoerder van houtskool moet word.

Volgens Katali is dit goeie nuus vir volhoubare weidingbestuur in Namibië, wat tans kwessies soos massiewe bosindringing die hoof moet bied. Boonop bied houtskoolproduksie ‘n aanvullende inkomste vir boere en help dit met werkskepping, het hy gesê.

Die vereniging het tans 697 lede, sê hy. Tydens die ledevergadering, wat op dieselfde dag plaasgevind het, is kwessies soos die minimumloon vir houtskoolwerkers, standaarde vir die huisvesting van kolewerkers asook die verskaffing van gratis berskermde klere, bespreek. Daar is ook gekyk na die gebruik van meer doeltreffende en omgewingsvriendelike kilns.

‘N NAMIBIESE STANDAARD

Me. Manushka Moodley, die FSC se substreekskoördineerder vir Suider-Afrika, het ook tydens die konferensie gesê ‘n nasionale Namibiese standaard vir die produksie van houtskool (NFFS) behoort teen Maart 2019 deur die FSC se internasionale liggaam goedgekeur te word.

Dit kom nadat ‘n versoek hiervoor in Augustus 2017 deur FSC ontvang is.

“Tydens die ontwikkeling hiervan word streng riglyne gevolg om seker te maak die NFSS sal as 'n internasionaal erkende woudsertifiseringstandaard erken word."

Moodley sê tot dusver is Namibiese houtskoolprodusente volgens weergawe vier van die FSC-beginsels en kriteria gesertifiseer, maar dit het min ruimte gelaat vir aanpassings in unieke Namibiese toestande.

“Die ontwikkeling van weergawe vyf bied egter so ‘n geleentheid en ‘n konsep vir weergawe vyf behoort in September of Oktober vanjaar bekendgestel te word,” het sy gesê.

Volgens Moodley is FSC reeds vir sowat 17 jaar betrokke in Namibië. Sy het ook verduidelik hoe FSC die integriteit van sy waardeketting deur verskeie prosesse verseker, wat die verifiëring van transaksies insluit.

“Namibië volg hierdie proses reeds vir twee jaar lank, wat beteken hulle teken elke faktuur vanaf verskaffers asook van verkope aan, wat by FSC ingehandig word. FSC sê op die manier kan streng analise van die waardeketting en oorsprong van houtskool uitgevoer word.

“FSC ontleed ook sedert 2016 houtskool wat in FSC-gesertifiseerde sakke verkoop word om seker te maak watter bosspesies vir die maak van houtskool gebruik is.

“Die laaste ding wat ons wil hê, is dat ons geloofwaardigheid in die slag moet bly. Ons is trots daarop om aan ons eindverbruiker die versekering te gee dat houtskool wat deur ons gesertifiseer word, vanaf ‘n verantwoordelike produsent afkomstig is,” het sy gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!