Interpol-bal aan die rol vir Rooies
Interpol-bal aan die rol vir Rooies

Interpol-bal aan die rol vir Rooies

Dit is ’n kwessie van tyd voor Interpol amptelik op mnr. Rooies Mostert se spoor sal wees.
Denver Kisting
Denver Kisting – Die Teenkorrupsiekommissie (ACC) en Interpol span tans kragte saam om ’n oudlanddros terug in Namibië te kry.

Adj.komm. Immanuel Sam, Namibië se plaaslike Interpol-hoof, het die afgelope week gesê hulle wag tans op die tersaaklike papierwerk om die bal aan die rol te sit vir Mostert se uitlewering.

Dié dokumentasie sal hulle in staat stel om ’n rooi kennisgewing vir Mostert uit te reik, sê Sam.

’n Rooi kennisgewing het ten doel om ’n verdagte op te spoor en hangende uitlewering in hegtenis te neem.

Om dié rede, sê Sam by navraag, sal ’n voorwaardelike lasbrief vir Mostert se inhegtenisneming deur die ministerie van justisie uitgereik word.

Dít is om te help om die voortvlugtende landdros aan te keer en uiteindelik aan Namibië uit te lewer.

Mostert bevind hom tans in die naburige Suid-Afrika.

Hy het ondanks verskeie beloftes dat hy na Namibië sou terugkeer, steeds nie sy opwagting in die land gemaak nie.

Trouens, hy het Maandagmiddag aan Republikein gesê hy kom terug sodra hy kwessies rondom sy paspoort uitgepluis het.

Volgens hom het hy langer in dié buurland vertoef as wat hy moes en dit moet uitgesorteer word voor hy op reis kan gaan.

Verlede maand was sy verweer dat hy nie toe kon reis nie vanweë ’n operasie.

Intussen het Suid-Afrika so onlangs soos einde Julie ’n voortvlugtende geweldenaar, Charles Namiseb, aan Namibië uitgelewer.

Namiseb is in April vanjaar in Pretoria aangekeer, het hoofinsp. Kauna Shikwambi, ’n polisiewoordvoerder, vroeër gesê.

Hy het sedertdien verskeie hofverskynings gemaak voor hy Vrydag 27 Julie met ’n kommersiële vlug van Air Namibia by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako met ’n glimlag geland het.

Dié man het op 29 Februarie verlede jaar op die vlug geslaan ure nadat hy en ’n makker, Edwin Tourob, skuldig bevind is aan veelvoudige verkragting, roof met verswarende omstandighede en aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Dié skuldigbevindings spruit uit ’n gewelddadige aanval op ’n egpaar – destyds van Uis in die Erongostreek – tydens Oktober 2010.

Die ACC vra steeds dat die publiek met inligting na vore moet kom wat dié waghond sal help om Mostert vas te trek.

Hy waarborg vertroulikheid en vra dat mense met inligting hul ondersoekhoof, mnr. Nelius Becker, by 081 129 9215, of hul hoofondersoekbeampte, me. Justine Kanyangela, by 081 127 7486, skakel.

Kanyangela het gister gesê sy het al verskeie oproepe sedert hul beroep op die publiek om samewerking ontvang.

Mostert word in verband met beweerde korrupsie, bedrog, afpersing, poging tot regsverydeling en oortredings kragtens die immigrasiewet gesoek.

Hy het na bewering verkeie mense met talle transaksies ten bedrae van miljoene Namibiese dollar ingeloop voor hy die pad Suid-Afrika toe gevat het.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!