Invalshoek - 10 beginsels vir lewensgeluk
Rudi Koekemoer - Ek dink die meeste mense raak op ‘n stadium stil en diep dink oor geluk.
Wat maak mens gelukkig in die lewe, of altans, hoe kan ek ‘n gelukkige lewe lei? Gewoonlik stoei mens met hierdie tipe vrae wanneer jy op die kruin van die gelukgolf ry of deur moeilike tye in die lewe gaan.
Wanneer ek op die gelukgolf ry, word ek gemotiveer om daardie euforiese gevoel blywend te maak en wanneer ek in die woud van ongeluk verdwaal, word ek gemotiveer om geluk te vind.
Natuurlik ervaar ons verskillende vlakke van geluk deur ons lewensloop. Die vraag is, is geluk ‘n gevoel of is daar praktiese dinge wat ek kan doen om my geluk te bepaal?
Myns insiens is hierdie ‘n retoriese vraag, want die gevoel van “geluk” is gewoonlik die uitkoms van ‘n ervaring, hetsy positief of negatief. Dus gaan ‘n aksie altyd ‘n gevoel vooraf.
Ek het reeds ‘n kaleidoskoop van artikels oor die onderwerp gelees en so 'n jaar gelede begin nadink oor moontlike beginsels wat ek op my eie lewe kan toepas. Ek is tans besig om dit in ‘n boek te omskryf, maar wil ‘n oorsig hiervan gee.
Ek het tien beginsels geïdentifiseer wat geluk kan bepaal, maar moet vanuit die staanspoor erken dat ek self strewe om hierdie beginsels na te kom. Dit is egter byna onmoontlik om al hierdie beginsels perfek na te kom indien elkeen op ‘n tienpuntskaal geëvalueer word.
Die eerste beginsel is wees jouself. God het elkeen van ons uniek geskep met ons eie DNS en identiteit. Indien ons voorgee om iemand te wees wat ons nie is nie, sal ons ongeluk ervaar, terwyl mense wat net hulself is, te alle tyd, geluk ervaar.
Indien ek doen wat ander wil hê ek moet doen om aanvaar te word, en dit is teen my persoonlike karakter en beginsels, misken ek myself en sal ek innerlik ongeluk ervaar, al kom dit dalk uiterlik vir ander voor dat ek gelukkig is. Dit beteken egter nie dat ek geslyp en geskaaf kan word deur die lewe nie.
Die tweede beginsel is wees beginselvas. Weet waarin jy glo, wat jou waardesisteem is en moet nooit skaam wees om dit te uit te leef nie, veral in verhoudings.
Die derde beginsel: wees dankbaar. Vir jou gesondheid, jou werk en vir rentmeesterskap oor dit wat die Skepper aan jou toevertrou het. ‘n Ingesteldheid van dankbaarheid staan in skrille kontras met iemand wat nooit tevrede is met sy lewe en omstandighede nie.
Wees gesond. Ons het net een liggaam ontvang en dit is ons verantwoordelikheid om daarna om te sien. Gesonde gewoontes, soos om te oefen, reg te eet en nie toksiese stowwe in te neem nie, stel goeie hormone vry, maak mens helder van verstand en kan ‘n lang lewe verseker.
Die vyfde beginsel is wees optimisties. Die lewe is nie maklik nie en ons ervaar storms in ons lewens, maar dit is tog belangrik om hoopvol te wees dat die dag van môre beter gaan wees.
Indien ek na die lewe deur ‘n positiewe lens kyk, sal daar verrassende geleenthede ontsluit word. Optimisme is aansteeklik.
Die sesde beginsel: wees produktief. Maak ‘n bydrae tot die lewe deur passievol jou werk te doen. Gaan saans huis toe met die wete dat jy jou lewenstyl verdien het. Dit maak nie saak wat jou inkomste is nie.
Mense wat hard werk, binne ‘n gebalanseerde lewenstyl, en kan voorsien aan hulle gesinne, ervaar geluk. Dink net aan die spanning wat mense ervaar wat hul werk verloor het.
Die sewende beginsel is wees 'n student. Elkeen van ons moet ‘n ingesteldheid van lewenslange ontwikkeling en groei omhels. Die feit dat ek oor kwalifikasies en jare se ondervinding beskik, beteken nie dat ek kan ophou om te leer nie. Mense wat oop is om van ander te leer en daarna strewe om nuwe dinge te leer, ervaar geluk.
Die agste beginsel is wees ‘n mentor. Dit moet ons missie wees om, in ‘n gees van nederigheid, met ander mense ons kennis en ervaringe te deel. Neem iemand onder jou vlerk en wees ‘n mentor, al het dit jou ‘n leeftyd geneem om self kennis en vaardighede te bemeester. Stel die voorbeeld en ander sal geïnspireer word om ook mentors te wees.
Wees getrou, is die negende beginsel. Koester verhoudings en wees getrou aan jou lewensmaat, jou kinders, jou vriende en mense oor die algemeen. Moenie iets agter hulle rug sê of doen wat jy nie voor hulle sal sê of doen nie.
Die tiende beginsel is wees ‘n seën. Iemand het eendag gesê die Skepper sal net vir jou iets gee wat deur jou gaan vloei na ander.
Help mense wat in nood is, deel jou vreugde, ondersteun mense wat hartseer en pyn ervaar, staan saam met iemand wanneer die storms van die lewe hulle beproef en hanteer ander soos jy wil hê hulle moet jou hanteer.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie