Invalshoek
Invalshoek

Invalshoek

Rudi Koekemoer
Suiderkruis

Ons het verlede naweek die bakkie se neus in die rigting van Solitaire gedraai om so bietjie te gaan kop skoonmaak in die Namib. Om die een of ander rede verbind ons die Suide met vrede en daarom is dit telkens ‘n natuurlike keuse om “Wêrelds-end” as bestemming ten doel te stel, wanneer ons net bietjie wil wegkom van die daaglikse roetine, om weer perspektief te kry.

Ons het gedurende die eerste 30 kilometer vanaf Walvisbaai nie veel gesels nie, maar bietjie in die wandelpaaie van die gemoed gaan stap, terwyl die son onder die miskombers begin loer het. ‘n Skouspel van kleure het op die horison gedans, terwyl die son haar vingers oor die randjies van Vogelfederberg gestreel het. Ons was verras deur die vlaktes wat getooi was in groen grashalmpies so duskant van die Gobabeb-navorsingsentrum se afdraai.

Die kameeldoringbome het saam met die rivierlope gevloei, wat in kontras was met die res van die onherbergsame landskap. ‘n Trop gemsbokke het in die hittegolwe se lugspieëlings gewei, terwyl ‘n volstruis ritmies langs die motor gehardloop het, net voor ons die Kuiseb-pas bewonder het.

Daarna het die pad so bietjie meer uitdagings aan die bakkie se padhouvermoë gebied en moes ek eers die viertrek-funksie aktiveer. Ons het by die Gaub-pas bietjie afgetrek om bene te rek en die ruwe, swart maanlandskap te geniet. ‘n Koppie swart koffie het ook goed afgegaan.

Ons kon nie te lank vertoef nie, want ons het nog ‘n lang pad gehad tot by ons bestemming en daar was ‘n lang stofstreep van toeriste-voertuie op die horison sigbaar. Ek moes die stuurwiel styf vasklem oor die volgende 60 kilometer tot by Solitaire. Ons het dit oorweeg om eers by Rostock Ritz aan te gaan vir middagete, maar die son trek te vinnig water dié tyd van die jaar. Ons het by Solitaire van die legendariese Moose McGregor, wat in die 2014 die tydelike vir die ewige verruil het, se appeltert gaan geniet. Ek dink tog dat Moose die werklike resep saam met hom geneem het en tans in die hemel vir die engele bak en brou. Nadat ons die innerlike versterk het, het ons die pragtige pad na Sesriem aangepak waar ons maar die penne vir die dag gaan inslaan het by Desert Camp. Gelukkig het ons vroegtydig bespreek, want die ontvangsdame het bevestig dat hulle vol bespreek is deur buitelanders. Inteendeel, hulle het sprankelend aangedui dat hulle nie meer voorbly met al die toeriste nie, en dat dit een van die beste jare nóg is. Dit was musiek in ons ore, want dit is ‘n stormlantern in die middel van ‘n ekonomiese krisis - veral op ons tuisdorp Swakopmund, waar die uraanmyne die afgelope tyd honderde werkers afgelê het.

Nadat ons eers ‘n warm stort geneem het om die stof uit die ore te was, het ek die sakkie hardehout van die bakkie af gelaai en solank die vuurtjie aangesteek. Iewers hoor ek ‘n jakkals huil . . .

Lientjie het solank die Engeltjie-vrieskas uitgepak sodat sy die braaibroodjies kon voorberei en die skaaptjoppies kon uitsit. Die son het water getrek, die skaduwees het lank geword en die laaste dag se kleure het verdof. Daar was ‘n byt in die lug, en toe trek ons onsself maar eers warm aan waarna ons styf teen mekaar langs die kampvuurtjie gaan sit het, terwyl ons ‘n Spier-merlot geniet het. Ons het vir ‘n oomblik die stilte geniet en in die verte ‘n gekko hoor klap.

Ná ons die innerlike versterk het, het ons teruggeleun op die kampstoele en die helder Melkweg het ons in vervoering gehad. Dit het my laat dink aan my kinderdae toe ons in Keetmanshoop in die aande buite op die gras gelê en sterre kyk het, want daar was nie televisie nie en die kraaie het steeds gegaap.

Ons het gewoonlik Spingbokradio se Wolwedans in die Skemer geluister waarna die gesin na buite getrek het om die uitspansel se bewonder.

Lientjie vra toe: “Kom ons soek en vind weer die Suiderkruis.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!