Invalshoek
Invalshoek

Invalshoek

Rudi Koekemoer
(Anti)sosiale media

Ek het die afgelope vakansie die verslaafdheid aan inligting via tegnologiese platforms persoonlik ervaar toe ons gaan kamp opslaan het langs die see, waar daar geen selfoonnetwerk was nie. Die natuurskoon was besonders met die sonsondergange wat asemrowend was. Ek en my vrou het alle tyd op hande gehad om te klets oor verskeie onderwerpe, wat ons wel gedoen het. Maar, ten spyte van hierdie utopiese omgewing, het ek dit vir die eerste paar dae moeilik gevind om nie af en toe na my selfoon te stap en te kyk of daar nie dalk op die een op ander wonderbaarlike manier ‘n e-pos of boodskap ingekom het nie. Wat is dan nou meer opwindend om daardie rooi syfertjies te sien uitstaan op die Facebook-toep? Natuurlik was die impuls om my selfoon daagliks te laai op die generator en dit gereeld na te gaan, irrasioneel en net ‘n gewoonte. Inteendeel, ek het in ‘n stadium, toe ek weer die selfoon optel, hardop vir myself gelag toe die werklikheid my tot bekering roep. Dit het my laat nadink oor die navorsing en motiveringspraatjies van Simon Sinek, wat die gevare van verslaafdheid aan sosiale media beklemtoon het.

Die sosialemediarevolusie het sedert die jaar 2000 plaasgevind, wat eintlik ironies is, want dit was die jaar waarin kundiges verwag het die “Y2K-gogga” sou alle elektroniese toestelle impotent laat. Ek onthou die wêreldwye spanning wat geheers het in 1999 met CNN se programme wat oorheers is deur moontlike scenario’s en hoe die mensdom hulself moes gereed maak vir verskeie potensiële krisisse. Die bobbejaan is agter die bult gaan haal met vliegtuie wat uit die hemelruim sou neerstort weens navigasie-sisteme wat sou faal. Die verskeie scenario’s het ‘n apokaliptiese ramp voorspel.

Nietemin, die 1ste Januarie 2000 was een van die rustigste nuwejaarsdae wat ek al beleef het saam met familie by ‘n braaivleisvuurtjie – ten spyte van die kerse en flitse wat gereed gestaan het in geval die elektriese netwerk sou sneuwel. Dit was byna ‘n antiklimaks, want die huis se ligte het nie eens geflikker om middernag nie. Inteendeel, ek het my rekenaar aan vergeet en die volgende oggend het die elektroniese horlosie net normaalweg oorgeskakel na die jaar 2000, wat die inligtingsera ingelei het.

LinkedIn (2002) en MySpace (2003) het die pas aangegee met die volgende drie jaar wat die sosialemediarevolusie bekragtig het met die ontstaan van Photobucket (2004), Flickr (2004), Facebook (2004), Orkut (2004), Qzone (2005), Reddit (2005) en YouTube (2005) gevolg deur Twitter (2006). Die evolusie van hierdie mediaplatforms is ervaar met die ontstaan van onder meer Instagram (2010), Pinterest (2010), Quora (2010) en Snapchat (2011). Hierdie platforms het vir eens en altyd die sosiale gedrag van die samelewing verander, waar ‘n beraamde 80% van alle kommunikasie deur tegnologie, hetsy sosiale media of e-pos, in die moderne samelewing plaasvind.

Selfs die sakewêreld het hierdie tegnologiese platforms omarm om produkte wêreldwyd met groot sukses te bemark.

Die werklikheid is dat tegnologie wel talle voordele inhou vanuit ‘n sake-oogpunt, en dat dit byna ondenkbaar is om sonder hierdie instrumente jou weg in die moderne samelewing te vind. Inteendeel, dit is deesdae byna onmoontlik om met belangrike instansies sake te doen of te kommunikeer sonder toegang tot tegnologie. Gevolglik word kinders van ‘n jong ouderdom af blootgestel en aangemoedig om tegnologies vaardig te wees.

Die enigste werklikheid is dat, ongeag eksponensiële tegnologiese ontwikkeling, die mens maar net mens is. Elkeen van ons het die behoefte om ‘n drukkie te kry wanneer ons nie goed voel nie, om persoonlik met ‘n vriend te gesels wanneer ons deur moeilike tye gaan, om iemand se hand te skud wanneer ons erkenning ontvang, of om spesiaal te voel deur iemand wat met ons gesels en ons in die oë kyk wanneer ons saam ietsie eet of kuier. Een van ons grootste uitdagings in ‘n moderne era, wat deur inligtingstegnologie oorheers word, is om menslik te wees. Sosiale media is, ironies genoeg, antisosiaal, want dit skep ’n valse idee van wat ware vriendskap en menslike kommunikasie is.

Die konteks en waarde van werklike emosies kan nie deur ‘n emoji uitgedruk word nie.

Dalk het die “Y2K-gogga” op ‘n ander manier gebyt.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!