Invalshoek - Altyd lente ná die winter
Dit is met gemengde gevoelens wat die jaar 2018 in oënskou geneem word.
Die jaar was gekenmerk deur 'n ekonomiese resessie. Ekonome het verskillende opinies oor of die land dalk reeds in 'n depressie verkeer weens 10 agtereenvolgende kwartale se negatiewe ekonomiese groei.
Die brandstofprys het wipplank gery hoewel die netto effek wel hoër vervoerkostes was. Dit het weer 'n impak op die kosmandjie en algemene lewenskostes gehad.
Verskeie sakebedrywighede moes die knie buig weens nasionale beleid. Die konstruksiebedryf, onder meer, is wees gelaat.
Werkloosheid en armoede is tasbaar in die gemeenskap terwyl korrupsie die land gewetenloos skend. Politici gebruik omstrede beleidsuitsprake om hul selfsugtige ambisies te voed. Die skuld vir al die probleme word steeds, deur sommige, voor die deur van die vorige politieke bedeling gelê ten spyte van die feit dat ons land reeds vir 28 jaar in die huidige regerende party se hande is.
Vir die meeste mense in ons pragtige Namibië was dit nie 'n maklike jaar nie. Soos 'n leser die ander dag tereg opgemerk het via 'n teksboodskap: “My gemoed is hierdie jaar swart”.
Ek het die afgelope jaar opgelet hoe vriende en kennisse hierdie werklikhede hanteer. Ek was telkens aangenaam verras om die deursettingsvermoë van individue te ervaar om die ekonomiese risiko's teen te werk.
'n Vriend, wat 'n entrepreneur in die boubedryf was, het besluit om onnodige uitgawes te besny en om onmiddellik ontslae te raak van luukshede. Hy het die gesin se tweede voertuig verkoop waarop daar nog skuld was en die kleiner een behou wat afbetaal is. Hy het hul huis verkoop en wins daarop gemaak, waarmee hy die oortrokke fasiliteit by die bank gediens en van ander skuld ontslae geraak het. Daarna het hulle 'n kleiner huis gehuur om die ekonomiese winter te oorleef. Hy was egter nie bereid om sy kinders uit die privaat skool te haal nie, want sy kinders geniet voorkeur: “Al moet ons droë brood eet”.
Dan was daar 'n ander kennis wat noodgedwonge sy sakevennootskap moes ontbind en weer 'n voltydse werk moes opneem, ná 15 jaar van entrepreneurskap, teen baie minder vergoeding as waaraan hy gewoond was. Hy moes sy trots in sy sak steek sodat hy na sy gesin kon omsien.
'n Ander vriend is afgelê by 'n uraanmyn en het tereg die opmerking gemaak: “Ek verstaan nie hoe die land ekonomies bloei en baie mense hul werk verloor weens afleggings, maar jy sal nooit sien dat die staatsdiens ook mense aflê nie. Die land se skuldlas en salarisbegroting is onvolhoubaar, maar so sit staatsamptenare veilig in hul werk sonder enige gevolge. Dan het die regering steeds die vermetelheid om 'n beroep op die privaat sektor te doen om te help om die land se sosio-ekonomiese probleme op te los en die staatskas aan te vul deur allerlei nuwe belastingstrukture! Die huidige belastingbetalers word net meer gemelk vir hulle laaste sente . . .”
Ek het persoonlik die emosionele tuimeltrein die afgelope jaar ervaar en 'n mens kan Jan en San Alleman nie kwalik neem dat hulle soms swaar van gemoed is nie.
Maar, bygesê: Ek het lank laas in my lewe gesien hoe vasberade en skeppend mense kan wees te midde van al die uitdagings.
NP van Wyk Louw het in sy gedig “Winter” in “Vier gebede by jaargetye in die Boland” geskryf: “. . . en weet dat alle rus die lewe dien: hoe kon ek dink dat somer ryker is as hierdie groei se stil geheimenis?”
Ons het geen keuse as om skouer aan die wiel te sit en die wa deur die drif te stoot in 2019 nie.
Die lente lê en wink, ná hierdie winter in ons lewens.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie