Invalshoek - Die drankbedryf in die tyd van Covid-19
Invalshoek - Die drankbedryf in die tyd van Covid-19

Invalshoek - Die drankbedryf in die tyd van Covid-19

Rudi Koekemoer
Rudi Koekemoer - Die afgelope tyd heers verskeie informele filosofiese en ekonomiese gesprekke oor die verbod op alkohol tydens die Covid-19-pandemie.

Tydens grendeltyd het dit sin gemaak, maar mense verskil daaroor of die verbod gehandhaaf moet word tydens fase 2 van ons inperkings. Voorstaanders verwys na misdaadvoorkoming. Alkohol is glo die wortel van alle kwaad.

Die ekonomiese impak is noemenswaardig omdat alkoholiese drankies belas word. Derduisende mense is op die een of ander manier afhanklik van die drankbedryf. Die toerismebedryf wil darem saans saam met ete ‘n bottel wyn op die spyskaart aanbied.

Namibië het drankverspreiders, wynplase, distilleerders en Namibia Breweries Limited (NBL), wat oor verskeie internasionaal bekende handelsname beskik. Buiten vir werkskepping, maak die ondernemings ‘n noemenswaardige bydrae tot die staatskas. NBL het N$155 miljoen se belasting betaal in die 2019 finansiële jaar. Hierdie is maar een onderneming. Honderde ander in die bedryf dra belasting by.

Vanuit ‘n ekonomiese perspektief maak 'n volgehoue verbod geen sin nie. Die ekonomiese prentjie kan nog verder ingekleur word.

Filosofiese gesprekke, wat onder meer oor wandade, onregte en moraliteit handel, is meer uiteenlopend en ingewikkeld. Baie mense is al negatief deur drankmisbruik geraak.

Gesinsgeweld is 'n groot maatskaplike probleem en drankmisbruik is ook 'n oorsaak van motorongelukke en padsterftes. Dit is maklik vir iemand wat nog nooit hierdeur geraak is nie om teen die verbod te velde te trek.

Ons moet egter empatie toon. Dit is ‘n kontroversiële en emosionele onderwerp. Baie mense verwelkom die besluit.

Die vraag is of 'n aggressiewe geweldenaar sal ophou om die wet te oortree indien hy/sy nie meer toegang tot drank het nie. 'n Soortgelyke debat word gevoer oor vuurwapens. Is die geweer die probleem of die waardes en gedrag van die persoon wat die geweer besit?

Gewoonlik is daar veel dieper redes vir onaanvaarbare gedrag en misdaad. Alkohol kan dit sekerlik aanhits, maar die probleem sal steeds teenwoordig wees sonder die katalisator. Die werklike probleem moet aangespreek word, wat die persoon se gedragspatrone motiveer.

Daar is meer as genoeg wetenskaplike bewyse dat die misbruik van alkohol ‘n impak op iemand se oordeelsvermoë, emosies, inhibisies en gesondheid het, maar daar is eweneens genoegsame bewyse dat die oordeelkundige gebruik van alkohol gesondheidsvoordele inhou. Een aand se oordadige kuier lei nie noodwendig tot misdaad nie.

Die meerderheid mense sal nie misdaad pleeg wanneer hulle onder die invloed van drank is nie. Dit is dus 'n veralgemening dat 'n verbod misdaad sal bekamp. Dit maak nie sin om die staat van honderde miljoene se belastinginkomste en duisende mense van hul werk en inkomste te ontneem weens 'n minderheid se oortredings nie.

Vanaf 1920 tot 1933 was die produsering, invoer, verspreiding van, en handel in alkohol verbode in die VSA – en tot vandag is daar nie bewyse dat dit misdaad bekamp het nie. Inteendeel, die era is gekenmerk deur 'n toename in georganiseerde misdaad en smokkelhandel. Die verbod is op 5 Desember 1933 opgehef weens die erosie van belastinginkomste gedurende die Groot Depressie, die toename in georganiseerde misdaad en verskeie ander redes. Daar is wel bewyse dat mediese probleme weens drankmisbruik dramaties afgeneem het gedurende die periode.

Die probleem is nie die drank nie, maar die mens self. Gedrag word deur komplekse sielkundige faktore, jou waardes en uitkyk op die lewe bepaal. Euwels sal voortduur tensy die grondoorsake aangespreek word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!