Invalshoek - Die groter grondwet
Invalshoek - Die groter grondwet

Invalshoek - Die groter grondwet

Rudi Koekemoer
Rudi Koekemoer - Ek het die afgelope paar maande in verwondering gestaan oor gewone landsburgers wat hulle harte en beursies oopgemaak het vir mense wat onder geweldige beproewings gebuk gaan.

Daar is mense wat al hulle besittings verloor het in ‘n brand wat in ‘n informele nedersetting verwoesting gesaai het. Bekende sakeondernemings het finansiële hulp verleen en ander weer het basiese benodigdhede geskenk en kosteloos na behoeftiges vervoer.

Daar was ook verskeie organisasies wat daagliks op hulle hande en knieë mense gehelp het om te oorleef. Kospakkies was opgemaak, sop en brood bedien, klere, skoene en komberse uitgedeel en melk voorsien aan enkelmoeders wat nie meer geld gehad het om vir hulle kinders kos te koop nie.

Die meeste van die individue en ondernemings wat by hierdie Samaritaanswerk betrokke was, het dit nie gedoen vir bemarkingsdoeleindes of om erkenning te ontvang nie. Hulle het dit gedoen uit naasteliefde sonder enige bybedoelings.

Dit is dus vir my hartseer om telkens te sien hoe politieke agendas hierdie goeie werk op die een of ander manier probeer kaap.

Daar was gevalle waar kospakkies deur private individue, instansies en die internasionale gemeenskap geskenk was, maar die eer hiervoor is deur die regerende party opgeëis. Daar was selfs ‘n aanbod deur private individue om ‘n noodhospitaal op Walvisbaai te vestig, maar die regering het die aanbod van die hand gewys.

Mediese spesialiste het reeds in Januarie ‘n noodplan en strategie aan die owerhede voorgelê, maar dit was nooit in ag geneem met die implementering van noodmaatreëls sedert Maart vanjaar nie. Daar is nog verskeie voorbeelde wat ek kan noem.

Hierdie gedrag het my laat dink aan die werk van bekende navorsers soos Jim Collins, Patrick Lencioni en John Maxwell oor leierskap.

Almal is dit eens een van die belangrikste eienskappe van ‘n leier is om bewus te wees van sy eie tekortkominge en om in nederigheid ander te inspireer om saam ‘n bepaalde doel te verwesenlik. Goeie leiers is innig bewus van hul menslikheid en skroom nie om dit aan ander te wys nie. Hulle het die vermoë om te luister, om eerlike terugvoering te ontvang al is dit nie lekker om te hoor nie, om te erken as hulle verkeerd is, om hulself te omring met mense wat oor die kundigheid beskik om hul leemtes aan te vul, om raad te vra van spesialiste en bereid te wees om planne te verander.

Dit is ook belangrik dat die leier voor moet stap en self die pas moet aangee. Hy moet bereid wees om ander by te staan in moeilike tye en om empatie te toon.

Hy moet holistiese insig hê en die regte strategie kan bepaal, na beraadslaging met sy span.

'n Universele waarde waaroor alle werklike leiers moet beskik, is integriteit.

Vir my is daar nie ‘n beter voorbeeld wat leierskap versinnebeeld as Jesus nie. Hy het daagliks saam met sy dissipels beweeg. Hy het hulle geleer, maar het ook hulle voete gewas. Hy het gehuil saam met die wat treur, maar het ook kwaad geword wanneer iemand handel gedryf het in sy Vader se huis. Hy was wys en het daagliks goeie dade gedoen. Hy het die volle prys betaal vir ander.

Sommige navorsers verwys na Jesus se Bergpredikasie, soos opgeteken in Mattheus, as “die Grondwet van God se Koninkryk”.

Eienskappe wat beklemtoon word sluit in sagmoedigheid, geregtigheid, barmhartigheid, liefdadigheid, vredemakers, sout van die aarde, lig van die wêreld, gehoorsaamheid aan die wet, vergewensgesindheid, eerlikheid, kuisheid, integriteit, regverdigheid, nederigheid, om vir mekaar te bid, blydskap, geloof, om nie te oordeel nie, onderskeidingsvermoë, om op rots te bou en goeie vrugte te dra.

Sal dit nie die oplossing wees as hierdie Grondwet aanvaar en uitgeleef word en die maatstaf vir die verkiesing van ons land se leiers word nie?

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!