Invalshoek - Die hemel se voorraadkamer
Rudi Koekemoer - Ons is verlede week tot die werklikheid wakker geskud deur ‘n vreemde geluid buite.
Ek het regop in die bed gesit om te probeer vasstel wat dit kon gewees het terwyl Lientjie na die skuifdeur gestap het om na buite te kyk. Na ‘n paar minute het ons gehoor hoe die donderweer aangerol gekom het nadat dit deur weerlig aangekondig is.
Die Swakopmund-kuslyn was verlig soos die weerlig oor die see gedans het. Die branders het skouspelagtig op die strand baljaar terwyl die eerste druppels die woestyn gevoed het.
Ons het op die balkon gaan staan, met ons neuse in die lug, en opgelet dat die maan gebloos het in die Oosweer se nadraai.
Daar is min dinge wat vir soveel blydskap sorg en die bekommernisse van die lewe oplos, soos reën. Die aarde se parfuum verlei telkens vir my wanneer die sluise van die hemel oopgetrek word en dan dans ek dankbaar in Sy genade.
Ek kan nie anders as om telkens ‘n geestelike ervaring te beleef wanneer ons so geseën word nie. Dit is veral Deuteronomium 28:12 wat in my hart opkom: “Die Here sal sy goeie voorraadskuur, die hemel, vir jou oopmaak om vir jou land reën te gee op die regte tyd, om alles wat jy doen, te seën. Dan sal jy aan baie nasies kan leen, maar self sal jy nie hoef te leen nie.”
Hierdie Bybelse aanhaling is my persoonlike inspirasie, selfs wanneer ek verskeie tipes droogte in my lewe beleef, soos die huidige ekonomiese droogte. Die teksvers is deurweek met praktiese wysheid en herinner my telkens dat alles wat ek het, net genade van bo is en dat dit net God is wat ons handewerk kan seën. Ek kan elke dag planne beraam, maar indien Hy dit nie seën nie, sal dit tot niks kom nie.
Dit gee ook vir my die versekering dat die Hemel wel die voorraadkamer van God is en die rakke oorvloedig gevul is met alles wat ons nodig het. Hy sal op die regte tyd die voorraadkamer oopmaak om vir ons te seën met dit wat ons nodig het.
Dit herinner ook vir my dat Hy vir ons seën met al die gawes wat ons nodig het om die akker te bewerk wat Hy aan ons toevertrou het. Hy sal dit laat reën, maar ek moet my deel doen deur my werksakker te bewerk en dan sal ek voorspoedig wees en aan ander kan voorsien. Dit beteken ook indien ek nie my akker bewerk nie, sal dit nie ‘n opbrengs lewer nie en sal ek dan van ander moet leen.
Onlangse beriggewing het bevestig dat landbou, byvoorbeeld, se bydrae tot die BBP oor die afgelope tien jaar afgeneem het van 5,3 persent in 2007 tot 3,4 persent in 2016 en toe het dit weer 'n bietjie herstel tot 4,5 persent in 2017. Die laagste bydrae tot BBP was aangeteken in 2015 (3,3 persent) weens die droogte wat die land in ‘n wurggreep gehad het.
Die meeste Namibiërs (20,1 persent) is werksaam in die landbousektor en dus is dit kommerwekkend dat ons produktiwiteit in die sektor, soos in vele ander sektore, afgeneem het sedert elf jaar gelede en dat ons gevolglik in ‘n swakker posisie tans is as 'n dekade gelede. Dit is veral die beleidmakers van ons land wat die regte omstandighede gaan moet skep vir Namibiërs om volle voordeel uit die reën te put.
Die Skepper het ‘n hand van genade na ons uitgesteek deur die Hemel se voorraadkamer oop te stel. Dit is nou elke Namibiër se plig om die akker wat aan hom of haar toevertrou is, ongeag of dit in landbou, vervaardiging, diensverskaffing of in die staatsdiens is, te bewerk sodat ons veelvuldig kan produseer sodat ons nie blosend, bakhand voor ander moet staan om te oorleef nie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie