Invalshoek - Die vangs van die dag
Die wekker se onwelkome deuntjie het my 'n buiteliggaamlike belewenis laat ervaar. Vir 'n oomblik het ek nie geweet waar ek myself bevind nie of watter dag dit was nie.
Is dit Vrydag? Moet ek opstaan om te gaan werk?
Dit was toe dat ek besef het dit is eintlik Saterdag en ek het vergeet om die wekker die vorige dag af te sit. Wat 'n utopiese gevoel om rustig terug te sak onder die donskombers en te weet dat tyd nie vandag saakmaak nie.
Ek het nog so vir 'n paar minute gelê, maar toe begin my gedagtegang die inlê kaap. Ek swaai my bene oor die kant van die bed, trek my ou pantoffels aan en stap na die venster toe.
Swakop se miskombers skep byna 'n sprokieswêreld wat verskeie mooi gedagtes laat ontwaak. Ek besluit dit is 'n ideale dag om lekker warm aan te trek en te gaan probeer om 'n paar grotes aan wal te bring. Gewoonlik klaar die mis so teen 11:00 op.
Lientjie deel nie noodwendig my entoesiasme op hierdie koue, mistige dag nie, maar stem in om die tog mee te maak. Ons behoort betyds terug te wees vir die rugby wat 16:00 begin, want haar span speel vandag.
Sy begin solank om die fles met vars moerkoffie vol te maak terwyl die eiers begin kook op die stoof, want wat is visvang sonder padkos? Daar is ook so bietjie koue braaivleis en braaibroodjies oor van die vorige aand.
My visstok het redelik stof opgegaar die afgelope jaar, maar my visgerei is alles mooi bymekaar. Ek het nog heelwat sinkers, verskeie groottes hoeke, garing om die aas mooi aan te bied en my katrol het nog genoeg vislyn op. Daar is ook nog verskeie tipes aas in die vrieskas. My visvangpermit is nog geldig.
Ek pak die bakkie met al die nodige toerusting. Die kampstoele, windnette en koue verversings word laaste gelaai. Lientjie maak seker die padkos, sonskerm en 'n hoed is ingepak.
Ons besluit om so duskant van die ontsoutingsaanleg by Wlotzkasbaken te gaan uitspan. Daar aangekom, pak ek eers die visstok en gerei af waarna ons die kampstoele en tafel staande maak, want wie kan visvang op 'n leë maag.
My eerste gooi was maar 'n saak van gebed, want ek moes so 'n paar minute daarna spook om 'n kraaines te ontrafel. Daarna was die lyn ingelyf en het die res van die proses klopdisselboom gegaan.
Dit was duidelik dat die ou grotes ook nog bietjie inlê! Hengel is my spesiale tyd vir kop-skoonmaak om net weer bietjie perspektief op die lewe te kry. Om vis te vang, is bysaak. Die vars seelug, die dankbaarheid om gesond te kan wees, die innige besef van die grootheid van die skepping en om hier te kan staan, is die vangs van die dag.
Die deinings van die branders is besonders groot vandag, wat my laat dink aan die huidige krises in die Karibiese Eilande waar orkaan Irma tans verwoesting saai. Dan het daar so pas 'n aardbewing in Meksiko, naby El Palmarcito voorgekom wat 8.1 op die Richterskaal gemeet het.
My gedagtegang neem 'n seemeeuvlug oor al die huidige sosio-ekonomiese en politieke uitdagings wat ons tans in Namibië, en in die wêreld, beleef en ek besef hoe wonderlik dit is om te weet dat ons nie alles kan beheer of manipuleer nie. Die natuur, insluitende al die natuurrampe wat ons tref, herhinner ons net weer dat God oor alles beskik en dat hy ons telkens tot die besef ruk dat ons maar klein en nietig is.
Ons staan naak en alles wat ons het en beleef, is net genade. Sy wekker ruk ons tot die waarheid.
Hiert! Daar byt hy nou.
Maar die grote het weggekom.
Ek katrol, gaan skink nog 'n koppie koffie en maak my tevrede in my gemakstoel tuis. . .

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie