Invalshoek - Grondbeginsels van goeie bestuur
Invalshoek - Grondbeginsels van goeie bestuur

Invalshoek - Grondbeginsels van goeie bestuur

Rudi Koekemoer
Rudi Koekemoer - Ek draai die kar se knormoer en stuur my bakkie se neus in die rigting van die kus na 'n besige oggend van verskeie vergaderings met kliënte in die hoofstad.

Gelukkig het die moderne bakkies mos alles wat oop- en toemaak, veral wat elektroniese instrumente betref. Die radio soek sommer self na 'n stasie en stel hom op die minister van finansies se begrotingsrede in.

Wat 'n interessante toespraak met 'n duidelike boodskap dat fiskale dissipline steeds die anker van die ekonomie moet wees en dat omsigtigheid nodig is weens skaars hulpbronne. Natuurlik is weer klem op die armoede- en gelykheidvraagstukke, met swaar nadruk op die uitwissing van korrupsie in al sy vorme, gelê.

Ek het veral gehou van die minister se betoog en pleidooi dat elke landsburger onverdraagsaam teenoor korrupsie moet staan, want dit vreet soos 'n kanker aan ons land se morele en etiese waardes, en erodeer sosioëkonomiese stabiliteit.

Die treffendste stelling wat die minister gemaak het, is dat daar nie 'n tekort aan geld is nie en dat Namibië eintlik goed vergelyk met internasionale norme in terme van die persentasie geld wat, byvoorbeeld, aan onderwys en opvoeding toegeken word. Die probleem is nie “geld” nie, maar die doeltreffende aanwending en bestuur daarvan. Ek dink hy het die spyker op die kop geslaan!

Ek het 'n tyd gelede 'n strategiese sessie vir 'n staatsinstelling gefasiliteer en 'n situasie-analise het duidelik gewys die probleem lê by effektiewe bestuur. Dit was die grootste rede hoekom die instelling jaarliks miljoene se hulp van die regering moet vra.

Wat my geskok het, was die feit dat die mees basiese grondbeginsels vir die bestuur van begrotings nie eens nagekom word nie. Ek het die eenvoudige vraag gevra: “Kan elke departement vir my aandui wat julle grootste uitgawes is en of julle oor die algemeen onder- of oorbestee?”

Die idee was om vas te stel wat die grootste koste-items was, of dit 'n materiële impak op die onderneming het en of besparings gemaak kan word deur sinergieë te ontsluit. Die hoogs besoldigde departementshoofde het met vraagtekens in hulle oë na mekaar gekyk. Geen reaksie nie. Nadat ek die vraag herhaal het, het hulle aangedui hulle het nie departementele begrotings nie en het nie 'n idee wat in hulle finansies aangaan nie, want die begroting is gesentraliseer.

My opvolgvraag was: “Kry julle nie maandelikse verslae om te monitor hoe julle geld aangewend word nie?” Die antwoord was 'n besliste “nee”.

Die volgende vraag was: “Julle is die uitvoerende bestuur van hierdie groot onderneming met 'n multi-miljoendollar omset per jaar. Hoe keur julle enige besteding goed sonder 'n begroting of maandelikse verslae?”.

'n Kort gesprek het getoon elkeen het 'n oop tjekboek. Die hoof van finansies het te kenne gegee hulle verstaan self nog nie goed wat in die maatskappy se geldsake aangaan nie, want dit is glo 'n komplekse besigheid wat hulle steeds ondersoek.

Ek het byna op my rug geval. Niemand neem verantwoordelikheid vir die instelling se geldsake nie en pak die skuld op vorige bestuurders. Ek het gewonder hoe op aarde die direksie nie druk uitoefen om finansiële dissipline af te dwing nie.

Ons het op een, onmiddellike strategiese aksie ooreengekom: stel vir elke departement 'n jaarlikse begroting op en hou elke hoof aanspreeklik vir besteding. “Julle kan net die onderneming effektief bestuur as julle die finansiële kompleksiteit verstaan.”

'n Tyd daarna het ek 'n opvolgsessie gefasiliteer en die kritieke taak was steeds nie uitgevoer nie. Intussen is weer bakhand gestaan by die regering, wat weer uitgehelp het. Hoe gaan 'n instelling sy gedrag verander as hulle weet daar is geen gevolge vir wanbestuur nie?

Die afgelope dekade is meer klem op leierskapopleiding gelê en bestuursvaardighede het aan die agterspeen gesuig. Dit het tyd geword dat ons meer aandag gee aan die grondbeginsels van goeie bestuur: beplanning, organisering, kontrole, probleemoplossing, kritiese denke en projekbestuur in alle fasette van 'n onderneming.

Kommentaar

Republikein 2024-11-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 32° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 23° | 36° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 33° Omaruru: 20° | 35° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 14° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 23° | 34° Mariental: 20° | 36° Keetmanshoop: 13° | 32° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 23° Ariamsvlei: 14° | 32° Oranjemund: 14° | 20° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 18° | 28° Mbabane: 18° | 35° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 28° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 22° | 38° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 19° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 32° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 32° Harare: 19° | 30° #REF! #REF!