Invalshoek - Het iemand ‘n wind gelaat?
My neef het gister gesorg vir ‘n terapeutiese oomblik nadat hy op ‘n WhatsApp-groep gevra het: “Het iemand ‘n wind gelaat?”. Hy het sommer my dag gemaak want ek het lekker gelag nadat ek die rede vir sy vraag besef het. Ek het gesien dat ‘n paar lede van ons groep binne oomblikke na mekaar die bepaalde groep verlaat het sonder om enige redes te verskaf. Dit het my laat dink aan een of ander animasiekarakter wat die vermoë het om te verdwyn nadat hy sy vingers geklap het. Al wat jy hoor is “poef” en dan sien jy ‘n klein wolkie waarna die persoon verplaas is na ‘n ander realiteit.
Ek het bietjie op die internet gaan kyk of daar navorsing gedoen is oor die sielkundige impak van sosiale media op gebruikers. Dit het nie lank geneem voor ek afgekom het op verskeie artikels oor die onderwerp nie. Alle navorsing is dit eens dat WhatsApp, en soortgelyke virtuele kommunikasie platforms, ‘n negatiewe impak op die emosies van gebruikers het indien dit nie onder die ‘regte’ omstandighede en binne die regte konteks gebruik word nie. Die impak is die grootste onder die jeug wat grootword in ‘n era waar onmiddellike bevrediging die norm is. Boodskappe, foto’s, videosnitte en emojis kan van een kant van die wêreld na ‘n ander binne oomblikke gedeel word. Die samelewing verwag en geniet daagliks kitskos, kitsaflewerings, kitsbankwese, kitsaankope, kitsflieks en kitskommunikasie, om maar ‘n paar voorbeelde te noem. Die moderne leefstyl, gerugsteun deur sosiale media, skep die verwagting by mense dat alles onmiddellik moet gebeur en indien nie, kan dit bepaalde emosies tot gevolg het.
Die inhoud en reaksietyd van sosiale media kommunikasie kan enersyds positiewe emosies soos opwinding, hoop, vreugde, en empatie tot gevolg hê en andersyds negatiewe emosies soos teleurstelling, spanning, frustrasie, groepsdruk, jaloesie, suspisie, spyt, verleentheid, verwerping, ongeloof, woede en hartseer. Navorsing is dit eens dat die meeste gebruikers van virtuele kommunikasie op ‘n stadium negatiewe emosies ervaar wat die positiewe oorskadu. Ek vermoed dat die meeste lesers wat soortgelyke kommunikasie mediums gebruik hiermee sal kan identifiseer. Kom ek skets ‘n paar scenario’s alhoewel daar honderde voorbeelde is.
Jy skep ‘n WhatsApp-groep met professionele kollegas met die doel om vakkennis of beroepsinligting te deel. Na ‘n tydjie begin van die lede grappe en videosnitte op die groep aanstuur. Kort voor lank sal ander lede die persoon herinner wat die doel van die groep is en ‘n pleidooie lewer dat dit gestaak moet word. Na ‘n tydjie raak ‘n lid weer die klits kwyt en plaas ‘n advertensie van iets wat te koop is op die groep. ‘n Frustreerde lid van die groep, wat nie tyd vir hierdie optrede het nie, verlaat die groep sonder enige verdere kommunikasie. Die res van die groeplede verstaan hoekom die persoon die groep verlaat het, maar wonder of hy nie maar liefs wou help die probleem uitsorteer nie sodat hy steeds deel kon wees van belangrike professionele inligting wat op die groep gedeel word. Die nie-doelgerigte kommunikasie is immers slegs twintig persent van die totale boodskappe op die groep. Die persoon wat die groep verlaat het, is nou uitgesluit van die professionele binnekring en sy kollegas wonder oor sy werklike motiewe. Dit skep agterdog en spanning. Groeplede vat die persoon aan wat nie-relevante inligting kommunikeer en daar wip hy homself en verlaat ook die groep. ‘n Ander lid wat bevriend is met die persoon wat die groep verlaat het, besluit hierdie is sommer snert en verlaat ook die groep. Kort voor lank het die meeste lede die groep verlaat waarná dié wat oorbly nie meer die groep gereeld gebruik nie en uiteindelik is die groep dormant. ‘n Ander scenario is waar mense mekaar aanvat op publieke forums oor persoonlike goed en die res van die groep moet tot hulle frustrasie die hele petalje op hul fone sien uitspeel. ‘n Ander scenario is waar iemand ‘n boodskap ontvang maar nie onmiddellik reageer nie. Die persoon wat die boodskap gestuur het, is dan onseker oor die ontvanger se motiewe. . . “Word ek geïgnoreer of het ek iets verkeerds gedoen?”
WhatsApp en soortgelyke kommunikasiemediums is fantastiese instrumente om positiewe inhoud met vriende, familie en kennisse te deel, maar dan moet dit doelgerig en binne die regte konteks gebruik word. Dit beteken dat kommunikasie magtig is en dat die gebruik daarvan oordeelkundig moet plaasvind anders gaan iemand wonder wie het ‘n wind gelaat!

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie