Invalshoek - Kaptein van die skip
Ek is nogal 'n fliekvlooi en Woensdagaand was dit “ou movie aand”, soos Lientjie daarna verwys. Tyd om 'n klassieke rolprent af te stof.
Ek geniet flieks met 'n militêre tema, maar nie sinnelose “skop, skiet en dônner” nie.
My gemoed was die afgelope tyd in dryfsand vasgevang en ek het besluit om my rekenaar vroeg af te skakel. Ons keuse was 'n fliek oor 'n Amerikaanse duikboot wat 'n Russiese duikboot moes uitoorlê.
Die fliek is my 'n metafoor van goeie leierskap en bestuur.
Ruimte is beperk in 'n duikboot. Daar is net genoeg plek vir 'n bepaalde hoeveelheid bemanningslede. Elke bemanningslid is nodig vir die sukses van 'n sending. Elkeen het sy funksie en indien iemand onbevoeg is, kan dit die hele boot se effektiwiteit kelder.
Daar is nie plek vir oorbodige personeel nie.
Elke persoon is 'n spesialis op 'n bepaalde gebied en die span moet vertroue in mekaar se vaardighede hê. Bemanningslede word deeglik gekeur om seker te maak elkeen het die regte ingesteldheid. Personeel word op meriete gekies.
In die film ken die kaptein en offisiere elke bemanningslid op die naam. Hulle verwag streng dissipline, want enige verkeerde besluit of optrede kan rampspoedige gevolge hê.
Die respek was wedersyds, want die kaptein het geweet hy het elke bemanningslid nodig om hul taak suksesvol te voltooi. Dit was nie vir die kaptein nodig om dissipline af te dwing nie, want die bemanning het dieselfde waardes en beginsels gedeel. Die bemanning, ongeag van posisie, was selfgedissiplineerd en hulle het geweet indien elkeen sy werk doen, sal die missie suksesvol wees.
Die duikboot word in die Stille Oseaan afgesny van alle bystand en die span moes klaarkom met net dit wat op die skip was. Offisiere moes vooraf haarfyn voorrade, risiko's en die roete beplan om seker te maak hul verloor nie kritieke hulpbronne uit die oog nie. Hulle moes instrumentasie kalibreer om kommunikasie met hoofkantoor te verseker. Elke hulpbron is streng en noukeurig bestuur.
Weens die onvoorspelbaarheid van die see was deurwinterde ondervinding, vaardighede en paraatheid om elke moontlike krisis te oorkom van kardinale belang.
Verskeie uitdagings het oor die span se pad gekom. Vinnige besluite was nodig om die vyand se torpedo's te ontwyk.
Soms het torpedo's naby aan die boot ontplof, wat skade aan die romp veroorsaak het. Dan moes almal inspring om dringende herstelwerk te doen.
Enige flater kon almal se lewens eis. Almal se oorlewing was in mekaar se hande.
Sal dit nie wonderlik wees as elke onderneming, ook die staatsdiens, soos die boot kon funksioneer
nie?
Verbeel jou 'n staatsinstelling en staatsonderneming wat geen reddingsboeie ontvang nie; waar oorlewing afhang van leiers se vermoë om die regte besluite te neem; waar werknemers absoluut gedissiplineerd optree en presteer.
Vir sommige entrepreneurs in die privaatsektor is hierdie dalk retoriese vrae, maar beslis nie vir ons regering, staatsdiens en openbare ondernemings nie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie