Invalshoek – Kraaines!
Rudi Koekemoer - “Gelukkig” bly ons in Swakopmund, waar die koue seelug en gedruis van die branders verligting vir die gekruisigde siel bring.
Ek het Donderdag gaan lyn natmaak by Langstrand, want ek kon weens die inperkings nie na my geliefde visvangplek naby Wlotzkasbaken ry nie. Die padblokkade staan mos net so voor Windpomp 14.
Ek hou daarvan om kabeljoue te jag, maar het besluit om die ligte gery af te stof om ‘n paar galjoene te probeer vang.
By die viswaters aangekom, het ek al die nodige voorbereidings gedoen. En toe eers padkos en ‘n koppie vars moerkoffie geniet.
Daar was heelwat manne langs die see, maar ek kon sien visvang was eintlik van sekondêre belang. Ek vermoed die meeste ouens het maar net stiltetyd in die skepping kom doen om weer perspektief te probeer kry.
Ek het eers ‘n paar witmossels op die sandbank gaan oes voor ek die vars aas aan my nommer twee hoekie vasgedraai het. Dit was laagwater en ek het geweet ek moes redelik diep gooi indien ek enige kans sou staan om iets te vang.
Ek het teruggetree en met ‘n sweepslag die vyf ons sinker die lug in gelanseer. Ek kon voel hoe die lyn onder my vinger vasdraai en brand. Die sinker het met ‘n wipbeweging teruggeskiet toe die lyn vashaak en ek het geweet hierdie kraaines gaan my ‘n tydjie besig hou.
Die probleem met ‘n kraaines is dat jy nie weet wat jy verkeerd gedoen het nie. Jy moet probeer uitpluis waar die lyn op jou katrol verstrengel geraak het. Dit maak mens frustreerd, want jy wil eintlik visvang en nie met hierdie kraaines spook nie.
Ons land, en die wêreld, is tans in ‘n kraaines gewikkel.
Werk en beweegruimte is deesdae beperk weens al die drakoniese, pandemie-verwante reëls. Dit voel asof ons vasgevang is in ‘n diktatorskap waar besluite mense in armoede dompel sonder enige hulp of heenkome. Daar is nou in sekere dorpe ‘n aandklokreël en die polisie en weermag beheer mense se beweging. Dit voel onwerklik hoe vryhede so vinnig en dramaties weggeneem kan word.
Die Afrika-realiteit is totaal verskillend van die ontwikkelde wêreld, waar die regering voldoende hulp verleen aan landsburgers omdat hulle die impak op die ekonomie en mense se lewens verstaan. In Namibië is sakelui en werknemers wat hulle werk verloor het aan die genade oorgelaat. Besluite word uitgebasuin sonder enige strategie om mense wat deur die besluite beïnvloed word, by te staan.
Ek het Vrydagoggend gedink aan die roete wat ek gewoonlik vanaf die kus na Windhoek ry en die lewensslagaar wat die afgelope tyd afgesny is vir al die vulstasies op hierdie roete asook bekende uitspanplekke soos die Usakos Padstal en Wilhelmstal.
Ek dink aan ons geliefde C4-gruispad na die Suide van ons land en aan Solitaire en die honderde gasteplase en lodges wat geen inkomste meer het nie. Ek dink aan al die toeriste-operateurs en restauranteienaars wat om oorlewing veg.
Ek dink aan ‘n egpaar wat in Keetmanshoop by hulle kinders kuier en nie weet hoe en wanneer hulle weer na hul tuiste op Tsumeb sal kan terugkeer nie.
Windhoek, Rehoboth en Okahandja verbind noord en suid en oos en wes. Byna alle hoofpaaie loop deur hierdie dorpe.
Hierdie kraaines beteken baie meer mense as ek moet sonder vangs, en honger, huiswaarts keer.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie